‘Skrap SEB-vereistes vir waterlisensies nou’   

(Foto: Roelf Jacobs Wepener)

Rasgebaseerde bepalings wat by die aansoek van watergebruiklisensies geld moet onmiddellik geskrap word, het die burgerregteorganisasie AfriForum Woensdag geëis.

 

AfriForum se versoek kom nadat dit aan die lig gekom het dat aansoekvorms op die departement van water en sanitasie se aanlyn platform slegs verwerk kan word indien die aansoeker aan die vereistes van breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging (BGSEB) voldoen.

Indien nie, kan aansoekers nie met hul aansoeke voortgaan nie.

Die organisasie is van plan om ʼn dringende versoek in dié verband aan Senzo Mchunu, die minister van water en sanitasie, te rig om ʼn onmiddellike regstelling aan te bring.

Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir omgewingsake, sê dié voorwaardes is onwettig en strydig met die bepalings van die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998). Sou daar nie onmiddellik gehoor gegee word aan die versoek nie, sal AfriForum ʼn klag by die Menseregtekommissie indien.

“Ingevolge artikel 27 van die Nasionale Waterwet is die regstelling van historiese rassediskriminasie een van verskeie faktore wat deur die owerheid in die beoordeling van ʼn watergebruikslisensieaansoek oorweeg moet word.

“Dit is egter nie ʼn bepalende faktor of belangriker as enige van die ander faktore wat as ʼn geheel oorweeg moet word nie. Faktore soos openbare belang, die doeltreffendheid van die beoogde watergebruik en die uitwerking van die beoogde gebruik op waterhulpbronne moet ook oorweeg word,” sê De Vaal.

Hy meen deur dit onmoontlik te maak om aansoek te doen – tensy die aansoeker aan BGSEB-status voldoen – word die “rasse-aspek [van die aansoek] tot die belangrikste [kriterium] verhef”.

“Só word daar byvoorbeeld outomaties teen ʼn wit familieboer gediskrimineer en word dié boerdery van waterlisensie-aansoeke uitgesluit.

“Gesien teen die agtergrond van die jongste voorgestelde wysigings aan waterwetgewing (waardeur daar onder meer gepoog word om transformasiedoelwitte op die watersektor af te dwing, maar wat eers aan ʼn behoorlike openbare deelnameproses onderwerp moet word), is dié verwikkeling ʼn blatante poging van die regering om die oppergesag van die reg te misken.”

De Vaal sê die regering moet hom toespits op die nakoming van sy basiese verpligtinge eerder as om ʼn mislukte transformasiebeleid af te dwing, veral in ʼn tyd wat waarin bestuur van die land se waterhulpbronne ʼn krisispunt bereik het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cassie Carstens ·

Die regerende party wil alles beheer, maar hulle kan hulleself nie eens meer beheer nie. Dis ‘n wegholtrein teen ‘n afdraende. Een van die dae sit die land sonder kos soos wat hulle nou aangaan.

Boon ·

Sentralisasie is so ‘n mooi woord, maar dit beteken iets baie leliks. Dis die kern van kommunisme dat die staat (kamma demokraties verkose) alles in die land beheer. Maar erger nog: die beheerders is blind en doof en weet nie eens hoe om hulself te beheer nie, laat staan nog ‘n hele land met 60 miljoen mense. roer nou in hierdie brousel nepotisme, rassisme en hebsug en onkunde in, dan kry mens wat ons op afstuur en Zim al lankal daar verby. Water gaan in toekoms die belangrikste bate word, meer as enige mynbou en ander.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.