Skrap sosiale afstand in skole, vra WK

Foto bloot ter illutrasie. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Die departement van onderwys in die Wes-Kaap het by die nasionale regering gepleit om die regulasie dat alle skoolkinders ʼn sosiale afstand van een meter moet handhaaf, finaal te skrap. Dit is omdat meer as 80% van skole in dié provinsie nie die kapasiteit het om die regulasie na te kom nie en dus steeds op ʼn rotasiebasis skoolgaan.

Debbie Schäfer, LUR vir onderwys in dié provinsie, sê daar is nog geen planne aangekondig om die regulasie, soos dit deur die departement van basiese onderwys in Julie verlede jaar aangekondig is, af te skaf nie.

“Ten spyte van die feit dat laerskole aangesê is om teen volle kapasiteit terug te keer en ʼn risiko-aangepaste benadering te volg, is dit vir die meeste skole onmoontlik, juis weens die bepaling dat sosiale afstand gehandhaaf moet word,” sê sy.

“Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Dlamini Zuma, het verlede jaar ʼn regulasie afgekondig wat bepaal dat die sosiale afstand in laerskole tot een meter verminder word. Deur een meter te spesifiseer, mag skole dit nie wetlik ignoreer nie.”

Sy sê sowat 12% van laerskole in die Wes-Kaap kan aan dié regulasies voldoen, maar 88% kan nie. Dus woon skoliere skool op ʼn rotasiebasis by, ten spyte van hul pogings om terug te keer na volle kapasiteit toe.

“Daar is sterk bewyse wat daarop dui dat die leertyd wat verlore gaan, verwoestende langtermyngevolge vir ons jongmense inhou,” sê Schäfer.

Volgens die nasionale inkomste-dinamika-studie wat verlede jaar gepubliseer is, het Suid-Afrikaanse laerskoolkinders wat in 2020 in skole was wat nie skoolfonds betaal nie, tussen 50% en 75% minder geleer as normaalweg. Verlede jaar was daar steeds aansienlike onderrigtydverliese as gevolg van rotasieroosters.

Dr. Nic Spaull, verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se departement ekonomie en ʼn navorser oor onderwyssake, het destyds gesê gegrond op vooruitskattings sal die gemiddelde gr. 3-leerling in Junie verlede jaar omtrent dieselfde weet as wat die gemiddelde gr. 2-kind in 2019 geweet het.

“Ander terreine van kommer is die feit dat baie leerders nie so gereeld toegang tot die voedingsprogram kan kry as wat hulle moet nie. Hiermee saam veroorsaak die aan-af-bywoning by skole dat meer kinders liewers nie meer skool bywoon nie,” sê Schäfer.

Sy sê ʼn rotasierooster het ook ʼn groot psigologiese impak op leerders sowel as onderwysers omdat dit deeglike beplanning en toewyding verg.

“Om ons kinders die geleentheid te ontneem om in die huidige omstandighede voltyds skool by te woon, kan nie langer geregverdig word nie.

“Ten einde ʼn generasiekatastrofe te vermy, doen ons ʼn beroep op die departement van samewerkende regering en tradisionele sake om die nodige veranderinge aan die regulasies aan te bring om te verseker dat ons die verwoestende verliese kan begin inhaal wat jare sal neem om reg te stel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marius

Die regering moet nou nou besluit of hul ‘n geskoolde of ongeskoolde werkersmag wil hê. Daar hang alreeds ‘n vraagteken oor dit wat die kinders tans in skole leer.

Anel

Hulle moet in die skool ‘n meter van mekasr af wees, maar na skool en naweke kuier en speel hulle oor en weer, slaap oor en gee drukkies. Dié is net ‘n klug. Laat die kinders skool toe gaan en hul imuniteit nou, in die somer op bou voor die winter kom.

Toy

Weg met die maskers, dit is nie gesond om so lank met maskers te loop nie. Ons het nie met ‘n masker aan ons gesig die lewe ingekom nie. Mens kan nog sanitise. Die arme kinders wil speel, hoe moet hulle oordentlik asemhaal met so iets oor die gesig.

Belinda

Sosiale afstand help in elk geval nie want ekt al gesien hoe hang sommiges aan mekaar binne en buite muurs van skole, selfde tel met masker dra, wat help dit hul moet maskers dra maar buite die skool en pouses sit kinders sonder maskers en kuier. Onderwysers moet miskien net hul beskerm.

Genis

Die Corona ding raak nou werklik afgesaag… Hulle moet maskers ook nou n keuse maak….