‘Skrikwekkende toename’ in plastiekbesoedeling

(Foto: Unsplash)

Plastiekbesoedeling neem teen ʼn skrikwekkende tempo toe en kenners meen dit hou toenemende en kommerwekkende gevolge in. Die onlangse Covid-19-pandemie het boonop tot ʼn groter vraag na die eenmalige gebruik van plastiek soos handskoene en maskers gelei en plaas verdere druk op ʼn reeds onbeheerbare probleem.

Karoline Hanks, aktivis teen eenmalige plastiekgebruik, vertel aan Maroela Media dat plastiek elke aspek van ons lewe aanraak.

“Klein stukkies plastiek word in kraanwater, sout, bier, heuning, skulpvis en selfs binne-in liggame van mense gevind. Die situasie is benard. Plastiekbesoedeling en klimaatsverandering is twee parallelle wêreldwye noodgevalle.”

Sy vertel dat daar net in die VSA tot 100 miljoen weggooibare plastiekeetgerei en 500 miljoen plastiekstrooitjies elke dag geproduseer word, en dít alles vir een keer se gebruik weens ons menslike gemaksugtigheid.

“Ons is deel van ʼn verbruikergedrewe kultuur, maar gerief kom teen ʼn groot prys vir die omgewing.

“Altesaam 290 miljoen ton plastiek word jaarliks ​​wêreldwyd geproduseer, en 33% daarvan word slegs een keer gebruik en dan weggegooi. Soveel daarvan beland in ons natuurlike omgewing, waterweë en oseane.”

(Foto: Unsplash)

Volgens Hanks word die ekwivalent van twee vullisvragmotors se plastiek elke minuut van elke dag in die see gestort.

“Plastiek het wonderlike voordele; dit is buigsaam, duursaam, lig, kleurvol, onvernietigbaar en volop. Dit is egter om al hierdie redes pynlik problematies vir die natuurlike omgewing sodra dit ongenooid met die natuurlewe inmeng. Dit is nie bio-afbreekbaar nie; dit breek net af in kleiner en kleiner stukkies.”

Hanks vertel dat ons gemaksugtige plastiekspore in Suid-Afrika groot is. Een mens gebruik gemiddeld tot 2 kg plastiek- en weggooibare produkte per dag.

“So baie hiervan is nie herwinbaar nie. Hoewel sommige van die produkte organies en dus bio-afbreekbaar is, is die oorgrote meerderheid daarvan steeds plastiek,” sê Hanks.

ʼn Verslag van die Verenigde Nasies se omgewingsprogram toon dat ongeveer 780 000 ton afval jaarliks Suid-Afrika se dreineringstelsels binnegaan. Tussen 90 000 en 250 000 ton hiervan spoel die see in. Dit is gelykstaande aan vyf vragmotors wat elke uur vullis in die see stort.

Volgens Hanks is afvalbestuurstelsels oor die hele wêreld nie gevorderd genoeg om hierdie probleem op te los nie.

“Met talle mislukte munisipaliteite, ʼn gebrek aan dienslewering in verskeie groot informele gebiede, en die vinnige uitputting van stortingsterreine voorsien ek nie ʼn maklike uitkoms nie.

“Dit is ʼn ernstige waarskuwing van ʼn mislukte ekonomie, ons verslawing aan oormatige verpakking, swak hulpbronbestuur en baie gefragmenteerde herwinningstelsels – veral in Suid-Afrika,” sê Hanks.

Die Wêreldnatuurlewefonds (WWF) verneem dat meer as 80% van oseaanbesoedeling van landgebaseerde bronne afkomstig is. In Suid-Afrika word slegs 16% van plastiek herwin. Die res van die plastiek beland by stortingsterreine waar dit in riviere spoel, en uiteindelik in die see beland.

“In dele van KwaZulu-Natal word massiewe informele stortingsterreine oral gevind, en met die eerste swaar reën spoel alles riviere binne, waarna dit reguit in die see vloei,” sê Hanks.

Volgens Peter G Ryan, professor aan die Universiteit van Kaapstad by die Departement Dierkunde, is daar hoë rommelladings wat in baie stedelike riviere in Suid-Afrika voorkom. Een van sy studies toon dat die meeste rommel wat Valsbaai binnekom naby riviermondings aan wal spoel. Volgens Ryan se navorsing sal die skoonmaak van strande, veral naby riviermondings, die plastiekbesoedeling aansienlik verminder.

Hoe het Covid-19 bygedra tot die probleem?

ʼn Navorsingsartikel wat oor die vrystelling van plastiekafval weens Covid-19 handel, toon dat 25 000 ton van die 8 miljoen ton pandemieverwante plastiekafval wêreldwyd ook nou die oseane besoedel.

Volgens dié artikel is die meeste van die plastiek afkomstig van mediese afval wat deur hospitale gelewer word. Die toename in persoonlike beskermingstoerusting en die styging in aanlyn aankope se verpakkingsmateriaal dra ook tot die probleem by.

Gebrek aan navorsing

Ryan vertel ondanks toenemende kommer oor die groot hoeveelhede plastiekrommel wat die see vanaf landgebaseerde bronne binnegaan, is daar verbasend min inligting oor hoe plastiek van riviere die see in beweeg.

“Oseanografiese modelle en data van satelliet-gespoorde weerboeie bied goeie begrip van die verspreiding van drywende plastiek op see, maar die verwikkelde wisselwerking van golwe en getye maak dit baie moeiliker om die gedrag van plastiek naby die kus te voorspel. Dit is veral belangrik om hierdie kennisgaping aan te pak, aangesien dit noodsaaklik is om die lot van plastiekrommel wat die see binnegaan beter te verstaan.

“Daar word oor die algemeen aanvaar dat 80% van plastiekbesoedeling in die see afkomstig is van landgebaseerde bronne. Hierdie syfer is egter ʼn baie lukrake skatting en dit is duidelik dat die verhouding wissel na gelang van waar jy is,” het prof. Ryan gesê.

Wêreldwyd beland daar ongeveer 8 miljoen metrieke ton plastiek jaarliks in ons oseane.

Plastiek en oseaanlewe

Karoline Hanks vertel dat verstrengeling, inname van onverteerbare produkte en habitatontwrigting alles die gevolg van plastiek is wat in ruimtes beland waar diere en ander organismes woonagtig is.

“Plastiekbesoedeling is jaarliks die oorsaak van ongeveer 700 mariene spesies se dood en miljoene dierevrektes.”

“In ons oseane alleen oortref plastiekrommel die hoeveelheid soöplankton met ʼn verhouding van 36 tot 1,” sê sy.

Volgens vooruitskattings gaan daar oor ongeveer 30 jaar meer plastiek as visse in ons oseane wees.

(Foto: Unsplash)

“ʼn Geskatte 1,5 miljoen seediere word jaarliks deur die inname van of verstrengeling in plastiek doodgemaak.”

Sy vertel dat pas uitgebroeide skilpaaie wat na rehabilitasiesentrums geneem word, meestal met die een of ander vorm van mikroplastiek, stukkies plastiekvesel, ballonne, of enige ander vorm van plastiek gevul of bedek is. Na raming is ongeveer 60% van die skilpaaie wat na rehabilitasiesentrums geneem word, met plastiek in hul spysverteringskanale gevind.

“Die plastiek verstop hul spysvertering, wat die diere versadig laat voel en uiteindelik laat verhonger,” vertel Hanks.

“In 2018 het ʼn 33 voet (10 0584 m) lange spermwalvis aan die Spaanse kus uitgespoel waarin 29 kg plastiek in die vorm van petrol- en waterkanne, plastieksakke en visnette gevind is. Plastiek kan vir honderde jare in die see leef. Selfs wanneer diere slim genoeg is om dit nie in te neem nie, raak hulle waarskynlik verstrengel daarin.”

Sodra ʼn plastieksak, verlate visnet of botteldop sy “prooi” doodgemaak het deur verstrengeling, verwurging, verstikking of verhongering, moet hierdie gewetenlose reeksmoordenaar eenvoudig wag dat sy slagoffer ontbind om weer in die omgewing vrygelaat te word.

Plastiek ontbind nooit nie, dit is altyd weer gereed om dood te maak.

Oplossings

Suid-Afrikaners moet begin kennis neem van hul persoonlike plastiekvoetspore deur aandag te gee aan die keuses wat hulle elke dag maak, waarsku Hanks.

“Hou op om onnodige plastiekitems soos plastiekinkopiesakke, strooitjies, wegneemkoshouers, weggooibare eetgerei, plastiekbekers en plastiekbottels te koop.

“Begin deur nee te sê vir die koffiebeker se deksel, enige weggooibare eetgerei of breekware, plastieksakke en polistireen-wegneembokse.”

Hanks sê dit gaan nie daaroor om te probeer ontslae raak van afval in ons oseane nie, maar liewer om die bron van die probleem aan te pak deur die plastiekkraan gaandeweg toe te draai.

“Ons moet nie wonder hoe ons die gemors op die strand skoonmaak nie, maar liewer oplossings vind om byna elke produk te heroorweeg en herontwerp. Dit gaan egter gepaard met baie toewyding van alle betrokke ondernemings en bedrywe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.