Skroeiende hitte vir die Kaap voorspel

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Kapenaars gaan hulself weer moet staal vir ʼn skroeiende hittegolf dié naweek nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) gewaarsku het dat dele van die Wes- en Noord-Kaap temperature van soveel as 40 °C kan bereik.

Nuus van die warm weer volg nadat dele van die Kaap reeds twee weke lank gebuk gaan onder hemelhoë temperature.

Kumsa Masizana, ʼn weervoorspeller verbonde aan die weerdiens, sê die binneland van die Weskus, die Kaapse wynlande, asook die noorde en suide van die Noord-Kaap sal Vrydag en Saterdag temperature tussen van 38 °C tot 40 °C beleef.

Dít terwyl gebiede al langs die kus ʼn rapsie koeler sal wees met minimum temperature van tussen 20 °C en 22 °C en maksimum temperature van tussen 35 °C en 38 °C.

Kaapstad sal Saterdag na verwagting temperature van tussen 20 °C en 38 °C hê, terwyl die kwik in Beaufort-Wes kan styg tot 39 °C. Die minimum wat voorspel word is 21 °C.

Die hitte sal na verwagting Sondag en volgende week voortduur.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het intussen mense wat beplan om in die see af te koel gemaan om versigtig te wees vir onstuimige seetoestande as gevolg van ʼn onlangse storm in die suidelike Atlantiese Oseaan.

“Ons doen ʼn beroep op die publiek om bewus te wees van die hoër as normale hoog- en laaggety en om versigtig te wees om die kuslyn.”

Die weerdiens waarsku ook dat die hoër as normale temperature tot hitteuitputting kan lei.

“Hitteuitputting kan noodlottig wees indien mediese hulp nie onmiddellik beskikbaar is nie,” sê die weerdiens. “Inwoners moet op die uitkyk wees vir simptome soos geswelde enkels, velontsteking, duiseligheid, naarheid of diarree.

“Inwoners moet andersins goed gehidreer bly en so ver moontlik uit direkte sonlig bly.”

Veldbrande is ook geneig om tydens warm weerstoestande soos dié buite beheer te raak en die weerdiens maan inwoners om versigtig met sigaretstompies en braaivleisvure om te gaan.

Dit veral nadat brande vandeesweek in onder meer die Kammanassie-berge in die Wes-Kaap uitgebreek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SlinkseKoljander ·

Dis ok, ons het n baie groot dam waar ons kan gaan swem in.

Willem ·

Bring die steak, tjops en wors. Sit dit net in die son neer en dit sal self gaar word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.