Skrywer Chris Barnard oorlede

Chris Barnard tydens PG du Plessis se 80ste verjaarsdag.

Chris Barnard tydens PG du Plessis se 80ste verjaarsdag.

Die bekende skrywer Chris Barnard is Maandagoggend in die ouderdom 76 oorlede.

Barnard, wat getroud is met die bekende aktrise Katinka Heyns, het saam met sy vrou die produksiemaatskappy, Sonneblom Films, bedryf. Hul seun, Simon Barnard, is sedert 2008 ook deel van die maatskappy.

Volgens Litnet is Barnard op 15 Julie 1939 op ’n lemoenplaas, Mataffin, in die ou Transvaalse Laeveld gebore. Hy het aan die Universiteit van Pretoria (UP) studeer en het hom reeds van sy skooldae af intensief aan sy skryfwerk toegewy.

Barnard het sy eerste boek, Bekende onrus, geskryf terwyl hy op universiteit was en dit is in 1961 gepubliseer. Verskeie ander werke uit sy pen het in die jare daarna die lig gesien, soos Die houtbeeld, Die swanesang van majoor Sommer, Mahala, Chriskras, Voetpad na Vergelegen, Die rebellie van Lafras Verwey en Boendoe.

Hy was ook betrokke by die samestelling en verwerking van bekende Afrikaanse films se draaiboeke soos Fiela se kind, Die storie van Klara Viljee en Paljas. Barnard was meer onlangs veral bekend vir sy bundel kortverhale, Oulap se blou, wat in 2008 verskyn het, die tv-reekse, Onder draai die duiwel rond (1997) en Amalia (2005) en die draaiboek vir film Die Wonderwerker (2012).

Barnard het ook drie seuns, Johan, Stephan en Tian, saam met sy eerste vrou, Anette. Lees die volledige biografie oor Chris Barnard op Litnet.

Barnard is die derde bekende figuur wat tydens die 2015-Kersseisoen oorlede is. Die bekende kunskenner en afslaer, Stephan Welz, is op Kersdag oorlede en die bekende Afrikaanse sanger, Randall Wicomb, is Sondag oorlede.

Lees ook: Chris Barnard: Van klassieke mahala tot meesleurende TV-reekse

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Drieks ·

Dankie vir jou nalatenskap Chris. Daar was vir ons almal vreugde uit jou werke.

Riana ·

Hiermee wil ek Maroela Media bedank vir hul ombaatsugtige bydraes tot ons as die publiek, Baie sterkte aan tannie Katinka en die famillie.

Eliza-beth ·

Ai jinne, wat ‘n geliefde skrywer was hy en wat ‘n span saam met Katinka. Onthou so goed sy rubrieke Chriskras! Dis erg, Randall wicomb, Stephan Welz en nou Chris Barnanrd. Hartseer tyd. Sterkte aan sy familie, hy sal beslis gemis word.

Cathy Kotze ·

Probeer seblief om “Oom Jakob se gebed” vir ons te plaas. Een van sy heel mooiste stories ooit.

Chris Barnard het die gewone Afrikaner hart verwoord.

‘n Kosbare lewe.

Wilma Venter ·

Droewige Naweek met drie van ons Grootstes wat Huis-toe gegaan het. Aan Chris, Randall en Stephan se families, vriende en kennisse… My innige meegevoel. Mag Ons Hemelse Vader julle Vertrooster wees in hierdie Droewige tyd.

Theresa van Niekerk ·

Chris Barnard het sekerliks van die heel mooiste kortverhale in Afrikaans geskryf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.