Skrywer Elsa Joubert oorlede

Elsa Joubert (Foto: Omslag, Spertyd deur Tafelberg Uitgewers)

Die bekroonde skrywer Elsa Joubert is Sondag in die ouderdom van 97 oorlede.

Sy sou in Oktober haar 98ste verjaarsdag gevier het.

Joubert was 56 toe sy Die swerfjare van Poppie Nongena in 1978 geskryf het, die roman wat in 13 tale vertaal is en waarmee sy vir talle lesers (moontlik vir ʼn eerste keer) insae gegee het in die lewe en leefwêreld van stedelike swart mense. Dié boek was nie net outentiek en feitelik waar nie, maar, soos die flapteks dit stel, ook “ʼn belangrike stuk hedendaagse geskiedskrywing, opgeteken in ʼn pakkende en strak joernalistieke styl; objektief maar plek-plek so sensitief-persoonlik dat dit die leser diep ontroer”.

Veertig jaar later, op 95, publiseer Joubert Spertyd, ʼn outobiografiese vertelling, waarin sy terugkyk op haar lewe, haar woorde en bowenal op die vraag “Wie is ek?”.

Ná haar man, Klaas Steytler, se dood in 1998 het sy van hulle groot huis in Oranjezicht verhuis na ʼn woonstel in Berghof, ʼn aftreeoord in Kaapstad.

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het in Mei 2020 die LW Hiemstraprys vir Niefiksie aan Joubert toegeken vir Spertyd. Die prys van R30 000, geborg deur die Louis Hiemstra Trust, word toegeken vir ‘n oorspronklike niefiksie werk in Afrikaans.

Meer inligting volg binnekort op Maroela.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

antieke antie ·

RIV…. jou boeke het baie plesier verskaf…. as kind het jou reisjoernaal my geprikkel vir madagaskar en die eilande… op my oudag wens ek dat ek dit kan ervaar..

JohanR ·

Dankie Elsa Joubert vir woorde en boeke. Het onlangs Spertyd klaar gelees wat jy geskryf het op jou oudag. en seker geweet daar is nie baie jare oor nie. Sal voorstel dat Spertyd gelees word deur al die oues van dae.

BFJ ·

Rus in Vrede Elsa Joubert. Jou bydrae tot die letterkunde sal bly voortleef.

Dit is nogals hartseer om weer op ‘n koue wintersoggend in Junie te lees van nog ‘n Afrikaanse skrywers wat in die winter van 2020 aan die suidpunt van Afrika oorlede is, in die eerste week van Junie was dit Jeanne Goosen en nou is dit Elsa Joubert.

Die lewe is maar bitter baie kort.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.