Skrywer, redakteur op 84 oorlede

Annaline de Bruyn. Foto: Facebook

ʼn Predikantsweduwee, skrywer en jare lange redakteur van Die Gereformeerde Vroueblad is Woensdagoggend in die ouderdom van 84 jaar oorlede.

Annaline de Bruyn was die weduwee van ds. FRP de Bruyn, saam met wie sy gedien het in die Gereformeerde gemeentes Ladybrand (1956-1958), Port Elizabeth (1958-1964), Carletonville (1964-1974) en Kemptonpark-Noord (1974-1995), waar hy sy emeritaat aanvaar het. Ds. De Bruyn is op 4 Augustus 2009 oorlede.

Die paartjie het mekaar in Potchefstroom ontmoet toe hy in sy tweede jaar aan die Gereformeerde Kerke se Teologiese Skool was en Annaline, ’n nooi Du Plessis, ’n eerstejaarstudent aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. Hulle albei stam uit ’n ernstig gelowige Gereformeerde voorgeslag; sy ouers was nasate van die stigters van die Gereformeerde Kerk in Rustenburg in Februarie 1859.

Dr. Wynand van der Merwe, by wie ds. De Bruyn prakties gedoen het, het die jong paartjie op haar tuisdorp, Steynsrust, in die huwelik bevestig. In later jare het ds. De Bruyn in die Universiteitsraad van die PU gedien, waar hy waardevolle insette gelewer het, onder andere as voorsitter van die beleidskomitee.

Annaline, wat gebore is op 2 Januarie 1934, het mettertyd landwyd bekend word as jare lange redakteur van Die Gereformeerde Vroueblad. Uit haar pen het Christelike boeke soos Die broodboom en Die roep van die Sondagskind verskyn.

Uit die De Bruyns se huwelik is twee seuns en twee dogters gebore: Abrie en Peet, en die tweeling Magda en Tersa. Abrie is tragies op die ouderdom van net 37 jaar oorlede. Ten tyde van ds. De Bruyn se dood het hulle vier kleinkinders gehad wat besonder geheg was aan hul oupa en ouma.

Annaline de Bruyn was die afgelope jare lidmaat van die Gereformeerde gemeente Barberton.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.