Skrywer se huishulp sterf ná wrede aanval

Herman Toerien. Foto: Verskaf

ʼn Maroela Media-skrywer se huishulp wat wreed aangeval is in ʼn rooftog op sy huis in Bloemfontein het Sondag in die vroeë oggendure aan haar ernstige beserings beswyk.

Mita Koromang (66) was sedert die aanval Vrydagoggend in die waakeenheid van die Pelonomi-hospitaal en het nie weer bygekom nie. “Haar kleindogter Lerato het ons 03:00 per SMS laat weet dat sy vroeg vanoggend oorlede is,” het Herman Toerien, wat self ook in die aanval beseer is, Sondagoggend gesê.

Koromang word oorleef deur albei haar ouers en haar man, wat flou geval het toe hy die tyding van die aanval op sy vrou kry, vertel Toerien.

“Sy is in ons huis vermoor, waarskynlik omdat sy haar so verbete teen die huisrowers verset het om my en ons seun, Juandré, kans te gee om te probeer vlug. Hulle kon haar eenvoudig nie stilkry nie, ten spyte van vier messteke.

Toe ek gegryp is, het sy nog harder geskree.

“Toe ek gegryp is, het sy nog harder geskree, en toe skielik stil geraak. Dit blyk later dat hulle haar kop teen die muur gestamp het, en in die proses ernstige hoofbeserings besorg het. Sy was bewusteloos.”

Toerien het Vrydag gesê hy was omstreeks 09:00 tuis voor sy rekenaar besig toe hy Koromang hoor gil het. Hy het ondersoek ingestel toe ʼn onbekende man, gewapen met ʼn mes, op hom afstorm.

Toerien het probeer om die veiligheidshek tussen hom en die aanvaller toe te druk, maar een van die aanvallers het dit oopgeruk. “Ek is mos nou maar so-so tussen die krukke en die rolstoel, en ek weeg nou minder as 70 kg, so ek is nie juis in ʼn toestand om met ʼn gewapende aanvaller te baklei nie,” het hy Vrydag vertel.

Waldenström-kanker, ʼn soort limfatiese kanker, is drie en ʼn half jaar gelede by hom gediagnoseer en hy kry sedertdien intensiewe behandeling, waaronder chemoterapie. Hy het nietemin probeer om hom teë te sit en het die aanvaller met ʼn erdepot gegooi.

Die hele tyd is ek met die mes gedreig of dat ek geskiet sou word.

Toerien het probeer weghardloop, maar die rowers het hom ingehaal. Hulle het hom van agter met die mes bygedam, maar hy sê genadiglik het net die hef hom teen die rug getref en nie die lem nie. Die rowers het hom daarna met kabelbinders vasgebind. “Die hele tyd is ek met die mes gedreig of dat ek geskiet sou word.”

Die rowers het vermoedelik in hierdie tyd op die vlug geslaan, want die huis het kort daarna stil geword. Volgens Toerien het Juandré (27), sy jongste seun wat outisties is, daarna uit sy kamer gekom. Juandré het weens sy outisme beperkte begrip- en spraakvermoë, maar kon daarin slaag om die kabelbinders om sy pa se hande los te sny.

Hy het Koromang dadelik te hulp gesnel waar hy haar bewusteloos op die vloer aangetref het. Daarna het hy sy vrou, Joan, en die polisie gebel. “Sy het die AfriForum-buurtwag gebel om te kom help. Ek het op daardie oomblik nie eens aan die buurtwag gedink nie; ek het net die polisie gebel. Die buurtwaglede was bitter gou op die toneel. Dit was ongelooflik,” sê Toerien.

Die buurtwag het dadelik met die polisie kontak gemaak en ʼn ambulans ontbied. “Hulle het Mita hier behandel met allerhande toerusting en goed en haar probeer stabiliseer. Toe het hulle haar in ʼn ambulans weggevat. Toe sy weg is, het ʼn groot bloedplas op die vloer agtergebly.”

Toerien het vertel Koromang het onder meer skedelbreuk opgedoen en vermoedelik ook ʼn breinbesering weens die aanval gehad.

Hy beskryf haar as “ʼn engel”. “Mita was ʼn baie opgewekte mens. Die honde, veral die een, was erg oor haar en sy kon vreeslik gesels met die hond wat so teen haar opspring. “Eers werk; dan speel.”

Sy het die indruk gewek van een wat gespark het om die werk klaar te kry.

Sy was gereeld aan die draf, onthou hy. “Sy het die indruk gewek van een wat gespark het om die werk klaar te kry. Sy kon nie lees of skryf nie, en ek dink haar oë was nie baie goed nie, want die radio by my bed se lugdraad, wat swart en dus nie baie duidelik is nie, het gereeld in die slag gebly. Ek het dit toe maar later geskuif,” onthou hy met ʼn lag by die traan.

“Mita het nog maar sewe maande by ons gewerk, maar diep in ons harte ingekruip.”

Joan onthou haar as “’n blymoedige, vriendelike en innemende mens wat haar geloof prakties uitgeleef het.  Altyd op ’n drafstap en singend.

Sy het permanente voetspore in ons lewe nagelaat.

“Sy het ’n sagte plek vir ons outistiese seun gehad en hom altyd gevra om haar te help met wat sy nodig gehad het.  Wanneer sy in die oggende inkom, het sy eers gou seker gemaak dat dit goed gaan met ons almal en sy was veral gesteld om spesifiek te hoor hoe dit met Herman gaan.

“Ons Nala-hond het haar altyd omtrent omgespring van blydskap en dan kon sy so lekker lag oor die gul ontvangs.

“Sy was altyd baie dankbaar vir dit wat ons vir haar gedoen en gegee het. Sy het permanente voetspore in ons lewe nagelaat – een van daardie mense wat jy altyd sal onthou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

41 Kommentare

jongste oudste gewildste
Koos

Jy klink soos ‘n engel Mita en ek glo jy is nou een Mag jou aanvallers in die hel beland

Riaan Taljaard

Vandag is n hartseer dag want Mita het vir 28 jaar vir my en ons gesin gesorg.
Sy was n besonderse persoon en die lewe is n armer plek sonder haar.
Ons harte bloei vandag maar weet sy is in die hemel.
Ons meegevoel en gedagtes is saam Didi, Lerato en die hele gesin.

Schalk

Kom ons leef die hart van Abba jammer Mita.So bly wraak kom ons nie toe nie.Hulle weet nie wat hul doen nie.

Spike

Dankie aan al die comrades. Julle het sa in anargie laat verval.

Anellle

Dit is net skokkend. Dit gaan eenvoudig nie stop nie. Tot daar niks oor is nie sal dit net eenvoudig voortgaan. Bitter hartseer! RIV Mira.