Skrywer se ouers sterf saam aan Covid-19

Sarel (83) en Truiki Stander (84) is vier dae uitmekaar weens Covid-19 dood. (Foto: Verskaf)

“Ons drie kinders, wat ons deur die jare verwonder het aan ons ouers se innige liefde vir mekaar, het verstaan waarom hulle in hul oudag saam-saam wou oorroei na die Anderkant.”

Só sê die skrywer Carina Stander, wie se ouers, Sarel (83) en Truiki Stander (84), vier dae uitmekaar weens Covid-19 dood is.

Sarel is Sondag ná ’n kort siekte van vyf dae dood en Truiki, sy eggenoot van 53 jaar, het Vrydagoggend, enkele dae ná haar man, haar laaste asem uitgeblaas.

“Van ons kinderdae af het ons ouers openlik vir God gevra of hulle eendag in hul oudag saam kan sterf.”

Die egpaar het ten tyde van hul dood op die aftreelandgoed Die Oog in Limpopo gewoon, nadat hulle jare lank op hul familieplaas Bergfontein in dié provinsie geboer het. Truiki het 40 jaar lank onderrig in Afrikaans en Duits aangebied en was die rede, sê Stander, waarom sy ’n skrywer geword het. Sy het selfs gedigte en artikels oor haar ouers en grootwordjare op die plaas geskryf.

Sarel en Truiki Stander by hul kinders Annelie (links), Jaco (agter) en Carina (regs). (Foto: Verskaf)

Stander, wat die romans Die bergengel, Die wonderwese en Wildvreemd neergepen het, sê haar ouers se gesondheid het drasties agteruitgegaan nadat hulle die koronavirus opgedoen het.

Hulle is verlede Vrydag saam in die hospitaal opgeneem nadat Stander se suster, Annelise de Wet, en haar man, Hilgard, hul ouers besoek het.

“Hulle was geskok om te sien hoe my ouers verswak het en het die nooddienste ontbied. My ouers het hand aan hand saam in die ambulans gery,” sê Stander.

Sarel en Truiki was 53 jaar getroud. Dié foto is op die plaas Bergfontein, waar Sarel 64 jaar geboer het, geneem. (Foto: Verskaf)

Die egpaar het ook intussen longontsteking opgedoen en Sarel is ná twee dae in die hospitaal in ’n diep slaap dood.

“Al het niemand vir ons ma vertel hy het in die kamer oorkant haar gesterf nie, het sy skielik drasties verswak,” sê Stander.

Weens Covid-19-regulasies kon die egpaar se kinders en kleinkinders hulle nie in die hospitaal besoek nie. Die familie het egter die afgelope week telefonies met Truiki gekommunikeer.

Volgens Stander wou Truiki met alle mag en krag ’n brief aan haar eggenoot, wat haar sy Ribbebeentjie genoem het, skryf.

“Dinsdag het sy nie ’n geluid gemaak terwyl ons met haar praat nie, maar toe ek vir haar vertel dat ek die brief namens haar vir Pa sal skryf, het sy gekreun om te probeer praat. My hart het soos ’n boek geskeur …”

Carina Stander en haar man, Gerrit van Niekerk. (Foto: Verskaf)

Met die nuus dat Truiki se suurstofvlakke tot onder 60% gedaal het, het die familie stemboodskappe aan hul ma se fisioterapeut gestuur om vir haar te speel. Die fisioterapeut, sê Stander, het ook haar ma se gunstelingliedjies, Amazing Grace en Nader my God by U, gespeel.

“Dalk kon sy in haar geestesoog sien hoe Pa haar laggend nader wink van oorkant die rivier, glinsterend soos die somerreën met ’n waterlelie in die hand.”

Sarel het na Truiki as sy ‘Ribbebeentjie’ verwys. (Foto: Verskaf)

Stander sê dit is vreemd dat hulle as familie se harte gelyktydig heeltemal stukkend én heeltemal heel kan voel: “So bitter seer én sielstevrede; so bloedrougeskaaf leeg én oorlopensvol van dankbaarheid.

“Ons, wat gebore is uit die liefdesverbond tussen ’n buitengewone man en vrou, sal hulle so onthou: Hand aan hand. Skouer aan skouer.

“Ons hét dit vir julle vertel terwyl julle geleef het en ons sê dit weer: Waarlik, julle was ’n wonderwerk.”

Die egpaar word oorleef deur hul kinders, Jaco, Annelie en Carina, skoon- en kleinkinders.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Donene ·

Dis die mooiste liefdesverhaal die, so bitter hartseer en tog so ‘n stroopsoet troos wat ten midde van die onkeerbare verlies, sagkens streeel. Hulle is saam…vir altyd…

Filistyn ·

Wow. Inspirasie en tog ook so hartseer. Sou my voortande gee vir so n huwelik.

Anoniem ·

Kosbaar! Laat my skoon hartseer. So min dat mens hoor /lees van so ‘n wonderlike lewensreis.

Keith ·

What a wonderful Love Story. How blessed they were to have been so deeply in love with each other.

Corne ·

Die mooiste liefdes verhaal ooit. Wens ek kon my droom man gekry het. LOL!!!Laat my dink aan my ouma en oupa wat 1 jaar uit mekaar oorlede is. Hulle was 65 jaar getroud

Yolandie ·

My Innige simpatie aan die kinders & familie vir die verlies van 2 wonderlike mense. Mag die feit dat hulle nou ook in die ewigheid steeds saam is vir julle baie troos bring. Baie sterkte!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.