Skrywer sterf in Botswana

Veronica Roodt (Foto: Verskaf)

Die skrywer Veronica Roodt, veral bekend vir haar bydrae tot die bewaring van die Okavango‑delta in Botswana, is vandeesweek in dié land oorlede.

Roodt (65) is Maandag laatoggend op haar rusbank voor haar tent in die Moremi-wildtuin aan die oostekant van die Okavango‑delta dood gevind. Dit word vermoed dat sy aan natuurlike oorsake gesterf het.

Die oorsaak van haar dood is egter nog nie bekend nie.

Deon Roodt vertel die kamp waar sy suster ten tyde van haar afsterwe tuisgegaan het, was ná onlangse reën moeilik bereikbaar. Dit is ook weens die ligging van die kamp ’n uitdaging om kontak met geliefdes te maak. Die personeel van ’n nabygeleë kamp het dus gereeld by Roodt gaan inloer.

Een van die personeellede van die nabygeleë kamp – ’n baie goeie vriend van Roodt – het Maandag omstreeks 11:00 op haar liggaam afgekom.

Roodt, die skrywer van verskeie toeganklike en lesersvriendelike boeke en toer- en veldgidse oor die natuur, diere en plante van onder meer die Krugerwildtuin, Tanzanië en Botswana, was ten tyde van haar afsterwe besig met die voorbereiding en bywerk van haar boeke en kaarte oor die Moremi-wildtuin.

Deon sê sy suster het ’n groot passie vir die natuur gehad. “Dit is waarom sy bereid was om die laaste 40 jaar van haar lewe in afsondering en soms onder moeilike omstandighede in die bos te woon.

Van die boeke uit Veronica Roodt se pen. (Foto: Verskaf)

“Sy was ʼn ongelooflik sterk en positiewe mens. Sy het kans gesien vir enige projek en het nie ’n oomblik van haar lewe verspeel nie.”

Roodt het volgens haar broer ook ’n verskeidenheid van uiteenlopende vriende reg oor die wêreld gehad na haar toere deur Afrika, die Verenigde State en Europa.

“Veronica het soveel mense geïnspireer deur haar dade en sterk gemoed. Sy het almal wat in haar geselskap was laat besef dat niks onmoontlik is nie. Sy was ʼn groot Christen en het baie naby aan die Here gelewe.

“Sy was ook een van die intelligentste mense met wie ek ooit te doen gehad het. Sy het ’n magdom kennis gehad – nie net oor die natuur nie, maar ook oor internasionale politiek, sport en finansiële sake.”

Veronica was nie net ’n skrywer nie, maar ook ’n kunstenaar en het ten tyde van haar dood aan haar 11de kunsuitstalling gewerk.

Daar word nou ’n kunsuitstalling ter nagedagtenis aan Roodt beplan. Alle opbrengste sal aan die Veronica Roodt-bewaringstrust geskenk word wat hom sal beywer vir die voortbou van haar nalatenskap.

Haar gepubliseerde boeke sluit in onder meer Trees & Shrubs of the Okavango Delta, Medicinal Uses and Nutritional Value en The tourist travel & field guide of the Serengeti National park.

Roodt word oorleef deur drie broers, een suster, hul onderskeie lewensmaats en nege broer- en susterskinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Retha

Dit nou regtig hartseer. Vertroosting vir die familie toegebid