Skrywer van ‘Lien se lankstaanskoene’ sterf

Derick van der Walt (Foto: NB Uitgewers, Facebook)

Die bekende skrywer Derick van der Walt is Donderdag in die ouderdom van 63 in Pretoria dood.

Van der Walt is die skrywer van verskeie bekroonde jeugverhale en romans was veral bekend vir sy jeugboek Lien se lankstaanskoene wat in 2012 verfilm is.

NB Uitgewers het sy dood Donderdag in ʼn Facebook-plasing bevestig. Dis nie bekend waaraan hy dood is nie.

Lien se lankstaanskoene, Van der Walt se debuutroman, is in 2008 deur Tafelberg Uitgewers uitgegee. Hy het met dié boek die Sanlam- en MER-prys verower. Hy is ook met eervolle vermelding op die Ibby-ererol geplaas.

Van der Walt se eerste roman vir volwasse lesers, Daan Dreyer se blou geranium, is in 2012 gepubliseer. Toring van Jasmyn wat in 2019 verskyn het, is as goue wenner in die Sanlam-prys vir jeuglektuur aangewys.

Ander boeke waarvoor hy onthou sal word, is Hoopvol, Willem Poprok en Bambaduze.

Ou hand in landbou-kommunikasie

Van der Walt was ook ’n bekende in landboukringe as redakteur van Porcus, die amptelike tydskrif van die Suid-Afrikaanse varkprodusente-organisasie (Sappo). Hy het elke maand die Sappo-nuusbrief en Vrydae die weeklikse nuusbrief uitgestuur.

Maroela Media het by Johan Kotzé, hoof uitvoerende van Sappo, gaan uitvind wat hy van Van der Walt sal onthou.

“Van der Walt was die langste by Sappo betrokke en kom nog uit die dae van die landbourade. Daar is min mense wat landbou so in al sy fasette geken het. Hy het geweet hoe werk die ander bedrywe soos mielies, skape en beeste.

“Ek ken min mense wat so baie mense soos hy geken het en hy het baie invloed gehad, veral in mediakringe. Hy kon advertensies verkoop en werwing doen. Hy was dié kommunikasiespesialis.”

Volgens Kotzé was Van der Walt ʼn “sluiper”. “Hy het nooit gepraat nie en as jy hom by ʼn geleentheid gesoek het, was hy weg, maar die volgende dag is die artikel geskryf. Korrek tot op die laaste punt. Hy kon homself baie goed uitdruk.

“Ek hoef ook nie baie met hom te gepraat het nie. As ek en hy vir twee minute gesels het, kon hy ʼn tien minute artikel skryf.

Kotze sê hulle het ʼn era afgesluit en Sappo sal nou al die hulpbronne wat Van der Walt nagelaat het, kan gebruik totdat hulle ʼn nuwe persoon in sy plek aangestel het, “maar jy gaan nie maklik iemand kry soos hy nie”.

Hy sê min mense weet dat Van der Walt vreeslik baie van fliek gehou het. Hy het nie een fliek gemis nie en elke resensie gelees. Hy was ʼn groot Blou Bulle-ondersteuner en het ook baie van kosmaak gehou. Hy het sy passies uitgeleef.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Swerwer ·

Sò jammer om te hoor van sy afsterwe. Innige simpatie en meegevoel met sy familie en naasbetaandes.

Jannie van Niekerk ·

Hy was ‘n uitmuntende skrywer. Simpatie aan sy gesin.

Anton ·

Het hom goed geken in ons skooldae. Was toe al ‘n gentleman :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.