Skubaduiker by Rocky Bay vermis

(Foto: Verskaf)

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het Vrydagoggend ’n soektog van stapel gestuur nadat ’n skubaduiker in die see by Rocky Bay in Scottburgh, KwaZulu-Natal, verdwyn het.

’n Groep van nege duikers het omstreeks 09:00 in die see gaan duik, waarna die 55-jarige duiker verdwyn het.

’n Betroubare bron het aan Maroela Media gesê die groep duikers het met hul aankoms by die strand gesê hulle het die vermiste duiker nie op die bodem gesien nie.

“Die skipper het gesê hulle het haar ook nie sien opkom nie,” sê die bron.

Nadat die duikers afgelaai is, is die duikerboot terug in die see om verder na die vermiste duiker te soek.

Die NSRI is omstreeks 11:30 ontbied en volgens Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, soek hulle sedertdien na die duiker.

Daar is tans drie bote wat by die soektog betrokke is.

Volgens die bron kan die rowwe seetoestande nie as bykomende faktor in die duiker se verdwyning uitgeskakel word nie.

“Die sterk wind en seestrome bemoeilik boonop die soektog.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.