‘Skuif Paul Kruger-standbeeld’ geëis ná petrolbomaanval

Skermskoot uit die video.

Skermskoot uit die video.

Die Orania Beweging sê die jongste voorval Woensdagmiddag op Kerkplein in Pretoria waar ʼn petrolbom na die standbeeld van Paul Kruger geslinger is, is ʼn bewys dat die plein nie ʼn veilige hawe vir die standbeeld bied nie.

Maroela Media het Woensdag berig ʼn petrolbom is na die standbeeld geslinger te midde van ʼn EFF-optog in die middestad om onder meer te eis dat pres. Jacob Zuma uit sy amp verwyder moet word.

Beeldmateriaal is geneem wat wys hoe die heining om die standbeeld geskud word, waarna ʼn petrolbom na die voete van die standbeeld gegooi word. Die vlamme brand ná sowat 30 sekondes self uit. Kyk die video hier.

Brandweerwaens van die Tshwane-nooddienste is nooit na die plein ontbied nie en die Tshwane-metropolisie het nog nie bevestig of daar skade aan die standbeeld aangerig is nie.

“Die standbeeld is reeds omring deur heinings nadat dit by minstens twee vorige geleenthede met verf geskend is,” het James Kemp, ʼn woordvoerder van die Orania Beweging in die Noord-Kaap, ná die voorval gesê.

“Dit is duidelik dat die standbeeld veiliger sal wees indien dit in Orania bewaar word. Oor die afgelope 25 jaar het verskeie borsbeelde en monumente ʼn veilige hawe in Orania gevind nadat dit elders onwelkom geraak het.”

Kemp het egter ook daarop gewys dat standbeelde en monumente wat steeds veilig bewaar word waar hulle tans is, nie verskuif moet word nie. “Daar is verskeie gemeenskappe wat doeltreffend daarin slaag om hul erfenis te bewaar. Ongelukkig is die standbeeld van Paul Kruger baie kwesbaar waar dit nou staan en word daar tans met ons erfenis gedobbel deur dit daar te laat.”

Intussen het die VF Plus gesê die EFF as politieke party moet instaan vir al die skade wat Woensdag aan besighede in die middestad en aan die standbeeld aangerig is.

Dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, het gesê daar kan geen twyfel wees nie dat dit EFF-lede was wat die skade aangerig het. “Daar is genoeg video-materiaal en ooggetuies om dit te bevestig. Waar organisasies voorheen weggekom het deur onbekende individue die skuld te gee vir skade wat aangerig is, is dit hier nie die geval nie,” het Mulder gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
Christelle

Ek stem 100% saam met die VF. Laat die EFF pa staan vir al die skade. Om ‘n staking te hê beteken nie dat ander se besittings en erfenisse skade moet ly nie. Nou moeg vir stakings en mense wat dink hulle kan maak wat hulle wil

johann barnard

Die munisipaliteit sal nie die beeld skuif nie want hulle maak geld uit hom uit,maak n replika en plaas hom in Orania.

Jakobus

Ons wat so kommentaar lewer, moet net daarteen waak dat ons nie rassespanning, met wat ons sê, aanblaas nie, dit is erg genoeg soos dit is. Bly liewer stil en bewaar die vrede.

Magda

Wat ek gisteraand gehoor het is dit ‘n ou foto van ‘n vorige optog wat die standbeeld aan die brand gesteek is.
Dis hoekom niemand nerens enige iets kan kry wie dit aan die brand gesteek het.

Leonard van der Dussen

Dit net ‘n standbeeld. Ja, dit het simboliek en as dit aangeval word, is dit ‘n simboliese aanval op dit waarvoor dit staan ook, maar ‘n standbeeld se simboliek verval as dit nie op sy prominente plek – en wat Paul Kruger betref – in Pretoria staan nie. Dis onsinnig en grens aan ‘n bekrompe vasklou aan die verlede en kom naby beeldediens om geld en energie te wil spandeer om dit daar doer in Orania te gaan neersit. Bou eerder nog skole in Pretoria, maak die kerkgeboue wat agteruitgaan, mooi en keer terug kerk toe. Dis een van die… Lees meer »