Skuif van spioenbaas was Ramaphosa se werk

Arthur Fraser. Foto: ANA

Dit was pres. Cyril Ramaphosa, en hy alleen, wat die omstrede voormalige spioenbaas Arthur Fraser herontplooi het om direkteur-generaal van korrektiewe dienste te word.

Só sê die adjunkminister van justisie en korrektiewe dienste, Thabang Makwetla. “Ons kon nie nee se nie. Dit was nie ons besluit nie. Die president stel direkteurs-generaal aan en dit was sy besluit,” het Makwetla vanmiddag aan die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste gesê.

Dit was die DA se vurigste vuurvreter, adv. Glynnis Breytenbach, wat Fraser vasgetrap het en meer oor sy aanstelling wou uitvind. Die komitee se voorsitter, dr. Mathole Motshekga van die ANC, het Breytenbach se navrae oor Fraser se aanstelling aanvanklik buite orde probeer reël, maar sy het vasgebyt.

Fraser, wat uit die departement van staatsveiligheid geskuif is nadat die inspekteur-generaal van intelligensie die hof genader het om Fraser daarvan te weerhou om op onderduimse wyse by ondersoeke na hom in te meng, het gister die eerste keer die parlement bygewoon in sy nuwe amp, maar geen woord gesê nie.

Hy het reg voor Breytenbach gesit en die hele woordewisseling oor sy aanstelling uitdrukkingloos gevolg. In Jacques Pauw se boek The President’s Keepers word Fraser met allerlei wandade in die spioenasiewêreld verbind.

Breytenbach wou weet of die posisie van direkteur-generaal ooit geadverteer is, of daar ʼn kortlys was, of Fraser aansoek gedoen het en of onderhoude met kandidate, insluitend Fraser, gevoer is.

Motshekga het gesê die adjunkminister hoef die vraag nie te beantwoord nie, maar Makwetla het gesê hy doen dit graag. Volgens Makwetla is die posisie in Oktober verlede jaar geadverteer.

“Nadat ons die aansoeke deurgegaan het, het ons besluit om die sperdatum vir die aansoeke uit te stel. Ons het onlangs weer daaroor vergader,” het Makwetla gesê.

“Uiteindelik het ons nie ʼn keuse in die saak gehad nie. Ons kon nie nee se nie want die kontrak met die direkteur-generaal word aangegaan deur die president.

“Dit is eintlik redelik algemeen dat direkteurs-generaal rondgeskuif word tussen portefeuljes, en dit is wat hier gebeur het,” het Makwetla gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hannes ·

Dis nou nie asof die nuut aangestelde Inspekteur-Generaal van Intelligensie, Dr Dintwe enigsins meer weet van die veld as Fraser nie. Dintwe het tot onlangs as ‘n dosent by Unisa se Dept v Polisiëring gewerk.

Paul ·

Dankie Cyril, ja, herontplooi deur jou alleen, sonder dat daar om aansoeke gevra is. Dalk moet jy jul hele manier van aanstelling en herontplooing laat wysig. Asseblief nie soos wat jy met die grondonteiening en herverdeling beoog nie. Daardie wat jy aan die oorseese mense beduie het, moet jy eers in die praktyk ten uitvoer bring dat mens kan sien wat jou bedoeling werklik is, intussen raai almal oor jou vaaghede. Maar as ons tussen die lyne lees lek die staat hul lippe af vir alle privaat grond, ook daardie van die Trustgebiede, want jy voel ‘n veer vir die monarge. Hulle grom al klaar vir jou.

Casper Labuschagne ·

As jy kaart speel kan jou spel net so goed wees as die kaarte wat vir jou uitgedeel word. En dit is die hoofrede hoekom Ramaphosa nie regtig oor die lang termyn kan slaag nie, want sy speelveld is vir hom gedefinieer en sy opsies is deur ‘n magdom faktore beperk.

Johan ·

Makwetla praat nonsens as hy reken die pos vir DG was Oktober verlede jaat geadverteer. Geen DG pos word geadverteer nie – dit is aanstellings wat gedoen word deur die President.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.