Skuiling vir bejaardes brand; talle ontruim

Argieffoto

Meer as honderd bejaardes moes inderhaas ontruim word toe ʼn skuiling vir hawelose, behoeftige persone en verswakte bejaardes in Elsiesrivier in Kaapstad vroeg Dinsdagoggend begin brand het.

Volgens Jermaine Carelse, woordvoerder van die brandweer-en-reddingsdienste in Kaapstad, is hulle omstreeks 01:55 na die Tehillah-skuiling in Avonwood-weg in Elsiesrivier ontbied.

Met die brandweer se aankoms op die toneel was ʼn groot gedeelte van die gebou reeds in vlamme gehul. Bykomende hulp is aangevra en ʼn totaal van sewe brandbestrydingstoestelle en 28 personeel was op die toneel.

Meer as 100 bejaardes, sommige in rolstoele, moes inderhaas uit die gebou verwyder word. Al die inwoners is ongedeerd na veiligheid gebring.

Die brand is twee ure later geblus. Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.

Omtrent 20 km van die skuiling het ʼn ander huis in Lotusrivier in Kaapstad vlamgevat. Vier mense het in dié brand omgekom. Die brandweer-en-reddingsdienste in Kaapstad het hulle omstreeks 02:00 na ʼn huis in Cuckoosingel in Lotusrivier gehaas.

Met die aankoms van brandweerdienste van Ottery en Wynberg in Kaapstad op die toneel, was die huis en die informele strukture op dieselfde eiendom reeds aan die brand. Omstanders het die inwoners van die huis as vermis aangemeld.

Die liggaam van ʼn bejaarde man is in die huis gekry. Die liggame van twee mans, ʼn vrou en ʼn kind is in die informele struktuur op dieselfde eiendom gekry. Al vier het baie ernstige brandwonde opgedoen en is op die toneel dood verklaar.

Die brand is omstreeks 03:35 geblus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.