Skuiling vir gestremdes, bejaardes het dae later weer krag

Kwaggaspoort Reddingsdaad, ’n skuiling vir bejaardes en gestremdes, het uiteindelik weer krag. (Foto: Facebook)

Kwaggaspoort Reddingsdaad in Pretoria-Wes het uiteindelik weer krag nadat bejaardes en gestremdes vir meer as ’n week daarsonder moes klaarkom.

Luidens ’n verklaring deur die Afrikaanse Toekomstrust (ATT) is kragtoevoer Saterdag weer herstel nadat dit sedert Vrydag 22 Augustus af was.

Maroela Media het vroeër berig dat Kwaggasrand Reddingsdaad, ʼn plek van versorging vir bejaardes en gestremde mense wat geen ander heenkome het nie, gereeld onderbrekings ervaar weens ’n dispuut met die Tshwane-metro oor onakkurate meterlesings. Die skuiling is ’n gemeenskapsprojek van die ATT.

Luidens die ATT se verklaring Dinsdag het ʼn regsfirma met die ATT in verbinding getree nadat Maroela Media oor die probleem berig en kykNET ʼn nuusinsetsel daaroor uitgesaai het.

“Ons het amper onmiddellike reaksie van die publiek gekry, onder wie die regspraktyk Weavind & Weavind Inc, met wie ons dadelik in verbinding getree het,” het Gerhard Erasmus, regs- en administrasiebeampte van die ATT, gesê.

“Weavind & Weavind Inc het die munisipaliteit dringend versoek om die kragtoevoer te herstel, maar toe hulle aanvanklik deur die munisipaliteit geïgnoreer is, het hulle ʼn skrywe aan die munisipaliteit gestuur om hulle in kennis te stel dat ʼn dringende hofaansoek teen die munisipaliteit gebring sou word indien die kragtoevoer na Kwaggaspoort Reddingsdaad nie teen Saterdag 3 September herstel word nie.”

Volgens Erasmus sou die volgende stap ’n interdik met ’n kostebevel teen die munisipaliteit wees aangesien die kragtoevoer onwettig afgesny was.

“Kragtoevoer is Saterdagoggend herstel en ʼn skrywe is deur die munisipaliteit aan die regsfirma gestuur waarin daar onderneem is om ’n ondersoek na die kwessie te las. Hierin verklaar hulle ook dat die aanmaning en kredietbeheer vir 30 dae opgehef sal word, maar dat hulle voorsien dat die kwessie gedurende hierdie tydperk opgelos sal word.”

Hoewel inwoners en die ATT verlig is dat die krag weer aan is, bevraagteken Renier du Preez, voorsitter van Huis Eljada en ook verbonde aan die ATT, waarom dit nodig is om eers tot sulke drastiese stappe te moet oorgaan alvorens daar ʼn positiewe uitkoms is.

“Wat van al die skuilings wat nie dieselfde toegang tot mediaskakeling het nie? Hierdie saak bevestig weereens die belangrikheid van ondersteuning aan die swakkeres en behoeftiges; hetsy met kos, skuiling, medies, of soms met agitasie, invloed of die reg.”

Anton Smith, voorsitter van die ATT, sê daar het intussen skenkings vir inwoners ingekom.

“Die ATT wil Kwaggaspoort Reddingsdaad baie graag van die kragnetwerk afhaal met behulp van sonkrag- en gastoerusting. Die skenkings wat ons ontvang, sal spesifiek hiervoor aangewend word, ons is baie dankbaar daaroor.”

Tshwane voer aan die sentrum skuld die metro byna ʼn halfmiljoen rand. Die sentrum beweer egter die kragrekening is nie akkuraat nie en weier om te betaal voordat die rekening gewysig word met die regte bedrag. Nietemin het die fasiliteit glo elke maand R10 000 aan Tshwane oorbetaal ondanks probleme met die meter.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mellivora ·

Hierdie is nie ‘n uitsondering nie.
Ons is pensionarisse wat meer as ‘n jaar lank gesukkel het om die munisipaliteit so ver te kry om hulle oorskatting van een meter (ons het 3 fase krag) reg te stel deur die meters te kom lees.
Ons het maande lank fotos van al ons meters saam met die lesings ingestuur en telkens het hulle die een meter oorskat omdat die nommer nie ooreenstem met die op die rekening nie.
Nadat ons ‘n dispuut verklaar het is al drie meters in Augustus vervang en die werkskaart toon aan dat die betrokke meter se oorskatting amper 29000 eenhede was.
Al hierdie eenhede is gehef teen die top tarief.
Ons het sopas ons nuwe rekening ontvang met allerhande herberekeninge maar het geen krediet gekry vir die oorskatting, rente en regskoste wat gehef is nie.
Hoe moet pensionarisse ‘n R87000 rekening betaal wanneer ons gereeld betaal het vir wat ons werklik gebruik het.

Jdb ·

So, is dit dan nou Kwaggaspoort of Kwaggasrand?
Word artikels geproeflees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.