Skukuza-hof ná regstryd weer oop

Die hof hanteer meestal stropery-verwante sake en wildbewaarders moet dikwels daar getuig. (Argieffoto: Stefan Heunis/AFP)

SANParke het Donderdag se heropening van die Skukuza-streekhof verwelkom.

SANParke sê die hof was vir langer as ʼn jaar nie in werking nie, weens ʼn regstryd deur die president van die Mpumalanga-streekhof, Naomi Annette Engelbrecht. Volgens SANParke het Engelbrecht ʼn stryd gevoer om die hof te laat sluit en alle sake na die Mhala-streekhof oor te plaas.

Die Konstitusionele Hof het Engelbrecht se aansoek om verlof tot appèl teen ʼn hooggeregshofbesluit, wat die Skukuza-streekhof toelaat om steeds in die Krugerwildtuin in werking te bly, van die hand gewys.

“Ons is vandag terug om ons hofamptenare by die opgeknapte Skukuza-streekhof te verwelkom om hul werk voort te sit om geregtigheid te laat geskied vir ons ikoniese renosters, die wildbewaarders en almal betrokke by die teenstroperyveldtog,” sê Fundisile Mketeni, uitvoerende hoof van SANParke.

“Die gaan help om geld en tyd te spaar vir ons bewaarders en amptenare wanneer hulle belangrike getuienis moet lewer oor stroperyverwante sake.”

Mketeni sê hulle is verheug dat onsekerheid oor die hof se toekoms nou uit die weg geruim is en dat daar op die werk wat voorlê, gefokus kan word.

Hy het mense terselfdertyd herinner dat ʼn kwota vir besoekers aan die wildtuin van Vrydag tot Maandag sal geld.

“Ons doen ʼn beroep op diegene wat nasionale parke besoek om veilig te ry en Covid-19-protokol vir hul eie en ander se veiligheid na te kom.”

Dagbesoekers word aangeraai om aanlyn plek te bespreek om teleurstelling by die hekke te voorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Piet Snot ·

Hoekom het Landdros Engelbrecht haar beywer vir die sluiting vd hof? ‘n Bietjie meer perspektief sou nuttig wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.