Skuld: Regering het reserwerekening in visier

SA Reserwebank (Foto: ANA)

Meer as 20 sent van elke rand wat die regering tans invorder, word gebruik om sy skuld te diens.

Luidens die 2024-begroting sal dit die regering vanjaar R382,2 miljard kos nét om die rente op sy skuld te dek.

Intussen sal die regering se bruto leningskuld na verwagting meer as R5,2 triljoen in die 2023-’24-boekjaar beloop. Dit kom neer op 73,9% van die BBP en is die hoogste vlak sedert 1947.

Die regering word boonop genoodsaak om in 2023-’24 meer geld te leen, weens ’n laer invordering van inkomste en meer besteding (R553,1 miljard of 7,8% van die BBP). Dit is R37,6 miljard meer skuld vergeleke met die 2023-begroting.

Reserwerekening moet help

Min. Enoch Godongwana se begroting stel dus voor dat die regering op medium termyn minder geld leen en fondse uit sy reserwerekening by die Reserwebank onttrek.

Luidens die begroting sal die regering se skulddienskoste met R30,2 miljard afneem, sou hy sy hand in die reserwerekening by die sentrale bank steek.

Dié rekening – waaruit daar volgens ekonome glad nie onttrek moet word nie – staan bekend as die goud- en buitelandse valuta-gebeurlikheidsreserwerekening en het tans ’n balans van meer as R500 miljard.

Die balans het vanaf R1,8 miljard in Maart 2006 tot R507,3 miljard in Januarie 2024 gegroei.

Die regering wil nou R150 miljard hiervan op medium termyn onttrek.

Die begroting toon dat die regering R100 miljard in die 2024-’25-boekjaar, R25 miljard in die 2025-’26-boekjaar en R25 miljard in die 2026-’27-boekjaar van die Reserwebank sal ontvang, wat volgens die regering tot minder skuld én skulddienskoste sal lei.

Dié fondse in die reserwerekening is gegenereer deur middel van buitelandse valuta-reserwetransaksies en beskerm die sentrale bank teen die wisselvalligheid rakende wisselkoerse.

Wanneer die rand teenoor die Amerikaanse dollar en ander reserwe-geldeenhede versterk, neem die rekening se balans af, maar waar die rand verswak, neem die balans toe.

Die regering voorspel dat hy miljarde minder – van R553,1 miljard in 2023-’24 tot R428,5 miljard in 2026-’27 – sal hoef te leen, sou hy bloot gebruik maak van die fondse in sy reserwerekening by die Reserwebank.

Die regering voer verder in die begroting aan dat die voorgestelde ooreenkoms tussen die nasionale tesourie en die Reserwebank, wat nog deur middel van wetgewing bekragtig moet word, ’n “nuwe raamwerk” sal verskaf waarvolgens die regering minder leen terwyl die sentrale bank sy ekwiteitsposisie verbeter.

Intussen is die regering optimisties dat sy skulddienskoste gaan afneem.

Daar word in die begroting voorspel dat die regering se skulddienskoste in die 2025-’26-boekjaar ’n hoogtepunt sal bereik (en na verwagting 75,3% van die BBP uitmaak), voordat dit sal begin afneem.

Skulddienskoste sal na verwagting dieselfde jaar nog op 21,3% stabiliseer, voordat dit sal begin afneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jacobus ·

Hierdie reserwebank fonds is seker geld wat hulle gedruk het en dit dan voorstel as n hulpfonds. Hier gaan die rand teenoor die doller, nou is ons op dieselfde pad as Zimbabwe. Druk geld tot die ink opraak dan word net eenkant van die note gedruk.

Aries ·

Dit gaan nog net n kwessie van tyd wees dan gaan die ANC ook die GEPF pensioenfonds se reserwefondse begin misbruik om hulleself te verryk

Vrijburger ·

So as die ANC-regering van die Reserwe Bank se valuta reserwefond ontrek, is dit aanduidend van hul verwagting dat die Rand nie gaan verstewig teenoor die $ nie, maar aanhou verswak.

Johannes ·

Wanneer word die vergryp van staatskas terug betaal deur korrupte amptenare

annie ·

Hoe veilig is die mediese fondse se neseiers? Dit is net ‘n kwessie van tyd want soveel rade en komitees en hul ‘noodsaaklike’ ekstras word beplan vir die nuwe gesondheidsplan dat dit sekerlik al bespreek is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.