Skuld wurg verbruikers ál meer

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Al hoe meer Suid-Afrikaners wurg aan hul skuld weens die onlangse styging in lewenskoste veroorsaak deur onder andere hoër brandstofpryse en die BTW-verhoging.

Volgens Danny Zandamela, uitvoerende hoof van Ithala SOC Bpk., het die maand Oktober begin met ʼn groot verhoging in die brandstofprys, terwyl nog een vir November verwag word, berig African News Agency.

“Die swak vertoning van die rand, tesame met die land wat in September tegnies ʼn resessie binnegegaan het, het gevaarligte oor verbruikersbesteding laat flikker.”

Hy sê as ʼn finansiëledienste-instelling is een van hul groot bekommernisse die gebrek aan finansiële geletterdheid by jong mense. Dit lei later tot swak finansiële besluite. “Individue wat nie goed ingelig is oor geldsake nie, trap dikwels later in ʼn skuldstrik,” sê Zandamela.

Volgens die jongste Momentum/Unisa Finansiële Welstand-indeks vir huishoudings, word net ʼn kwart van Suid-Afrikaanse huishoudings as finansieel gesond beskou. Tog was daar ook goeie nuus, want verlede jaar was dit die eerste keer sedert 2014 dat Suid-Afrikaners in reële terme ryker geword het. Netto welvaart het in 2017 met R451,6 miljard tot R7,3 biljoen (“trillion”) toegeneem.

Nog goeie nuus is dat die getal Suid-Afrikaners met ʼn slegte kredietrekord deurentyd afneem. Verlede jaar het 39,1% van verbruikers ʼn rekening gehad wat kredietburo’s kon sien agterstallig was, die laagste persentasie in baie jare.

ʼn Probleem met dié syfer is egter dat ʼn groot gedeelte van die bevolking se skuld, soos die geld wat hulle aan geldskieters skuld, nie in dié syfer weerspieël word nie. Die astronomiese bedrae wat munisipaliteite geskuld word, word ook nie daarby ingereken nie.

Die werkloosheidsyfer is steeds aan die toeneem en sal na verwagting einde vanjaar op 7,2 miljoen te staan kom, 1,3 miljoen meer as einde 2016.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sê net ·

Makliker gesê as gedaan. Dis nie die skuld wat ons druk nie, maar die mediese rekeninge.

jaco ·

werkloosheid staan op 7.2 miljoen maar die TOTALE wit bevolking is iets soos 4 miljoen, Dit beteken n BAIE GROOT persentasie van dié 7.2 miljoen is swart/nie wit nie. nou wonder ek maar net: wat dan van die towerwoorde “regstellende aksie? As meeste werkloses swart is, moet hulle mos maklik kan werk kry. hulle het dan die “regte” velkleur. dis mos maar al wat tel as werk aan mense gegee word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.