Skuldiges nog soek na moord op polisiebeampte

Argieffoto

Die polisie het ʼn 72-uur-aksieplan in werking gestel in ʼn poging om die skuldiges op te spoor wat verantwoordelik is vir die moord op ʼn 40-jarige polisiebeampte van die Sebokeng-polisiestasie digby Vereeniging. Dié beampte is Dinsdagaand tydens ʼn skietery in Waldrift in Vereeniging doodgeskiet.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, vertel die polisiebeampte is die aand omstreeks 19:10 deur twee kollegas by haar huis opgelaai. Hulle was op pad na die polisiestasie waar hulle aan diens was.

Naidoo sê so ʼn paar huise van die beampte se huis af, het hulle gewaar hoe iemand glo op verdagte wyse in ʼn voertuig se kattebak gedwing word.

“Die polisielede het die voertuig omgedraai om ondersoek in te stel. Die mans wat in die verdagte voertuig gesit het, het op die polisie begin losbrand,” vertel Naidoo.

Die 40-jarige polisiebeampte wat op die agtersitplek gesit het, is in haar kop geskiet. Haar kollegas het onmiddellik na die naaste hospitaal toe gejaag.

“Met hul aankoms by die hospitaal was sy reeds dood,” sê Naidoo.

Die ander twee polisiebeamptes het ongedeerd van die skietvoorval afgekom.

Genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, het sy skok oor die moord op die polisiebeampte uitgespreek. Hy het ook sy misnoeë oor die aanval op die polisiebeamptes uitgespreek.

Sitole sê hy het die Gautengse provinsiale kommissaris opdrag gegee om die 72-uur-aksieplan onmiddellik in werking te stel in ’n poging om diegene te vind wat verantwoordelik is vir die dood van die beampte.

“Ek het ook die bestuur van die polisie in Gauteng opdrag gegee om die nodige ondersteuning aan die familie te verleen,” sê Sitole.

Enigiemand met meer inligting oor die voorval kan die polisie by 08600 10111 kontak. Alle inligting wat ontvang word, sal as vertroulik hanteer word en persone kan anoniem bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Burgermeester ·

My medelye aan die polisiebeampte se naasbestaandes. As ons almal gelyk is in die samelewing, hoekom word daar nie ‘n 72 uur aksieplan in werking gestel om die skuldiges op te spoor na ‘n plaasaanval nie?

Genis ·

Skelms is nou eers op vrye voet.. Plaas dat die polisie en weermag nou die geleenthied gebruik om rontlopers vas te vat…

Scalla ·

Moet dit nie standaard praktyk wees by alle moorde nie, hoekom net sekere groepe/beroepe, in die eerste plek as wet en orde reg gehandhaaf word met die nodige respek en strafmaatreels in plek was behoort geen moord en doodslag plaas te vind nie.

Cherokee ·

Arme vrou wat haar dagtaak dit gemaak het om mense te beskerm. Maar die vraag ontstaan wat verdag was aan die wyse waarop iemand in ‘n kar se kattebak gedwing is.

Dirk ·

Ek wonder of daar n uitgebreide soektog is na die vermoorde oud polisie man wat gisteroggend in Cullinan vermoor is.Vra maar net..

Deon ·

Dis nie reg om te moor en roof nie, dis jammer dat hierdie beampte haar lewe in lyn van haar werk verloor het, ek sien nerens dat hulle iets verder praat oor die persoon wat in die katte bak gedwing was nie, is daai persoon gered?

Deon ·

En die persoon in die katte bak waarvoor sy haar lewe verloor het, waar is daai persoon heen?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.