Skuldinvorderaars moet wanbetalers in Tshwane vasvat

(Foto: Maroela Media)

Die Tshwane-metroraad het nie minder nie as 34 skuldinvorderingsagentskappe aangestel om die meer as R12 miljard wat sakeondernemings en inwoners hom skuld, te probeer invorder.

Die invorderaars het Maandag begin werk en is op driejaarkontrakte aangestel. Hulle moet skuld invorder wat ouer is as 120 dae. Altesaam 93 113 inwoners en ondernemings in die metrogebied skuld die metroraad gesamentlik R12,8 miljard.

Die metroraad sê die aanstel van die skuldinvorderaars gaan die stad help deur inkomstevlakke, kontantvloei en die kapasiteit te verhoog om regstappe teen wanbetalers te doen.

“Die stad het onsuksesvol probeer om die uitstaande skuld deur minder ingrypende maatreëls, soos kredietbeheer, oproepe en elektroniese aanmanings in te vorder en die stad het geen ander keuse gehad as om die invorderingsproses uit te kontrakteer nie,” het die stad Dinsdag in ʼn verklaring gesê.

Die stad sê hy stuur deurlopend waarskuwings aan sy kliënte wie se rekeninge agterstallig is om hulle te herinner om te betaal voordat die skuld 120 dae bereik. Die stad stuur SMS’e, e-pos-rekeninge, maak oproepe en het selfs robo-bellers wat outomaties oproepe maak om wanbetalende kliënte omtrent hul skuld te herinner. Finale aanmanings word ook by eiendomme afgelewer.

Diegene met agterstallige rekeninge word aangemoedig om gebruik te maak van die stad se aansporingsprogram om hul rekeninge op datum te bring.

Die skuldinvorderingsmaatskappye is onder meer aangestel op grond van hoeveel werkgeleenthede hulle danksy die projek gaan skep, die voordeel wat dit vir die plaaslike ekonomie kan inhou en planne om plaaslike inwoners in diens te neem.

Hulle word ook aan streng bepalings onderwerp om betaling te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Ag liewe genade tog. Dink julle werklik julle gaan iets bereik. Julle mors tyd en net nog meer geld. In Suid-Afrika kry mens alles verniet afhangende van wie jy is natuurlik.

Harry ·

Snaaks, stadsraad skuld my R15 000 sedert Julie 2020. Gaan hierdie invorderaars Tshwane daagvaar vir my geld?

Kokerboom ·

Ek vertrou dis ‘n inisiatief van die nuwe burgemeester. Ons sal hom dophou

Bart-Man ·

Is daar n slim ou of vrou wat my kan help met die wiskunde asb.
Vraag. 12,8 miljard gegeel deur 93113.
Enige iemand asb

OW ·

12 800 000 000 ÷93 113 =137 467.37 Maal nou die antwoord met 93 113 en jy is baie naby die bedrag wat uitstaande is.

Spyker ·

Ek het voorafbetaalde krag al vir drie jaar maar kry nog steeds n elke maand n rekening ten spyte dat ek al tale sonder maal die saak by die hulle probeer regstel het.

Nie Verbaas ·

Wat het geword van die onregmatige verhoging van tariewe en belasting wat die ANC adminstreur onwettiglik ingestel het? Huiseienaars is hof toe daaroor en sover ek weet is die verhoging ongeldig verklaar.

Ou Baardbek ·

Aan Nie Verbaas:
Wil ek en ander ook graag weet!
Amptelike dispute, volgens die tersaaklike Regulasies en vereistes is ingedien in meeste gevalle. GEEN terugvoer word egter verkry nie??
Enige regsopinies, van die rekord af??

Jacobus ·

Kommentaar: Geen probleem met moedswillige wanbetalers se invordering nie. Maar wat van die groot olifant in die kamer -. die krag stelers?

Vrijburger ·

En soos die geskiedenis ons geleer het, gaan die aksies selektief toegepas word.

Johann ·

Mmmmm? So ek neem aan ALLE gebruikers en verbruikers van “dienste” gaan gesoek word? Dis noe ALMAL…insluitende “the fellow South Africans” en Cerol se “people”? Of moet ons aanneem dis n meer spesifieke teikengroep wat gejaag gaan word?

Annakapat ·

Doen die Stadsraad niks, kla julle… Doen die Stadsraad iets, kla julle…
Slotsom: niemand is ooit tevrede nie!

Nico ·

Lekwa Munisipaliteit in Standerton moet dieselfde doen, doen onder soek na die krag diefstal en na mense wat die prepaid meters ontkoppel. Die munisipaliteite moet ophou om geld te verduister.

Kombiman ·

@ Annakapat- stem 100% saam met jou! of jy nou wit, pienk, geel of pers is as jy nie betaal nie benadeel jy al die ander. Bly hulle doen ten minste iets! Mooi so skroef hulle op wie hulle ookal is!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.