Skywise skort bedrywighede op

Foto: skywise.co.za

Foto: skywise.co.za

Die laekostelugdiens Skywise het Woensdag aangekondig dat sy bedrywighede tot verdere kennisgewing opgeskort is.

“Ons het baie hard geveg om die struikelblokke in ons pad te oorkom en bedrywighede te hervat,” het Skywise in ʼn verklaring gesê. “Ons begryp die ontwrigting wat dit veroorsaak het ten volle en ons vra onvoorwaardelik verskoning. Ons is verbind tot ons lojale kliënte en sal voortgaan om alles in ons vermoë te doen om bedrywighede te hervat en die vlak van die diens te verskaf wat ons kliënte verwag.”

Dit kom nadat die lugdienslisensiëringsraad (ASLC) vroeër die maand met die bestuur van Skywise vergader het om die operasionele uitdagings wat die sukkelende lugdiens ervaar, te evalueer. Daar is na afloop van die vergadering aangekondig dat Skywise se dienslisensie steeds geldig is en veilig en betroubaar is om ʼn lugdiens te bedryf.

Die Suid-Afrikaanse Lughawemaatskappy (Acsa) het kort voor dié vergadering Skywise se vlugte onbepaald opgeskort. Dit het daartoe gelei dat passasiers sonder verduideliking gestrand gelaat is. Dié laekostelugdiens het die afgelope tyd deurgeloop onder bespiegeling oor sy toekoms.

Skywise het intussen ʼn beroep gedoen op passasiers wat geraak word om ʼn aansoekvorm vir terugbetaling in te vul. Die vorms is spesifiek vir passasiers wat kontant betaal het. Volgens Skywise moet kredietkaartbetalings deur die bank hanteer word. Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.