Slaggatpad eis ook voorslagboer se lewe

Die haglike R522 tussen Vivo en Louis Trichardt het nog ‘n slagoffer geeis. (Foto: Erika Helm)

Die boeregemeenskap in die verre noorde van Limpopo moes onlangs ’n geliefde leierboer aan die dood afstaan in ’n motorongeluk wat deur ʼn slaggat veroorsaak is.

Dit is die tweede ongeluk in ʼn week waartydens ʼn vooraanstaande lid van die gemeenskap in ʼn ongeluk dood is wat deur ʼn slaggat in die pad veroorsaak is.

Volgens Erika Helm, die bestuurder van die Bo-Brakrivier se TLU SA-boerevereniging in Vivo, blyk dit uit die verklarings dat Gillie Fick op die R522 tussen Louis Trichardt en Vivo op pad was toe hy vir ʼn voertuig moes uitswaai wat skielik voor ʼn slaggat gerem het. Fick se voertuig het gerol.

“Dit was reënerig, maar die sigbaarheid was nog goed. Daar is ongelooflik baie slaggate op die pad en dit is besig om plek-plek te kraak en te verbrokkel. Dit is ongelukkig die enigste pad wat ons aan die suidekant van die Soutpansberg tussen Vivo en Louis Trichardt het. Daar is grondpaaie, maar dit is in nog ʼn swakker toestand,” het Helm vir Maroela Media gesê.

“Daar was baie mense op die ongelukstoneel. Dit is vir ons verskriklik hartseer, veral aangesien ons die departement van openbare werke jare lank al vra om aandag aan die pad te gee en dan sterf daar iemand op die einste pad.”

Maroela Media het die week berig van Jan Oost, ʼn VF Plus-raadslid van die Vrystaat, wat ook omgekom het toe ’n vragmotor op die R54 tussen Villiers en Vereeniging, na wat verneem word vir ’n slaggat uitgeswaai en reg van voor teen Oost se motor gebots het.

Drickus Botha, TLU SA se streekbestuurder: Noord, het vir Maroela Media gesê hoewel die onlangse reën bygedra het tot die swak toestand van die pad, dit ʼn probleem is wat al jare duur. “Na verlede jaar se reën het die staat ʼn poging aangewend om die pad te herstel, maar die slaggate het kort daarna weer gevorm.

“Ek kry wel die bestuur van die departement baie jammer. Hulle het nie mense, geld of toerusting nie en die mense kla die heeltyd by hulle.”

Hy sê ʼn ander boer, Gert Fourie, en sy dogter is so drie jaar gelede in twee verskillende insidente op dieselfde pad dood. “Daar kom gereeld ernstige ongelukke op die pad voor met te veel sterftes, selfs die minibusbestuurders het begin kla. Hulle voertuie word stukkend gery.”

Fick was ook lid van Bo-Brakrivier-boerevereniging en ’n wydbekende Bonsmara- en aartappelboer in die Dendron-distrik en het saam met sy kinders en kleinkinders geboer.

“Hulle is almal voorslagboere en oom Gillie was baie gewild en geliefd, selfs in die groter gemeenskap. Ek weet daar gaan baie mense by sy begrafnis wees, want tydens sy veilings het hy baie getroue kopers van reg oor die land getrek,” sê Botha.

Volgens Botha is Limpopo afhanklik van drie hoofinkomstestrome: landbou, mynbou en toerisme wat grotendeels uit die jagbedryf bestaan. “Die paaie is broodnodig vir hierdie sektore. Die Sanral-paaie is in ʼn goeie toestand, maar sodra jy daarvan afdraai, is die meeste provinsiale paaie onbegaanbaar.”

Fick se begrafnis sal Saterdag in Dendron by die AP-kerk plaasvind.

 

 

Landswye krisis

 

TLU SA het in ʼn verklaring gesê dat hy baie bekommerd oor die toestand van die land se paaie is en dat die haglike toestand tans ’n veiligheid- en ekonomiese risiko vir landbou en individue inhou.

“Hier word na grond- sowel as gruispaaie verwys as paaie wat dringend aandag nodig het, want weens die gebrek aan gereelde instandhouding is die toestand van die paaie nou so erg dat dit oorgebou moet word. Dit is verby die stadium waar instandhouding nog ’n moontlike oplossing is.

“In Limpopo het TLU SA en sy strukture gereeld met die departement van openbare werke – in opdrag van die vorige LUR – gesprekke gevoer. Die departement het egter dié produktiewe en gereelde gesprekke eensydig opgeskort,” sê Botha.

Hy sê oral in Suid-Afrika hoor boere dieselfde storie: Daar is nie geld, mannekrag en toerusting nie. “Tog word ʼn groot gedeelte van die brandstofprys – wat omtrent elke maand styg – vir die instandhouding van paaie geoormerk. Wat word van dié geld?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Renier johannes ·

Hulle huil ons moet padvardige voertuie he maar wat van hulle paaie n groot gemors

VaalDonkie ·

“padvaardig” beteken seker jy moet ‘n geligde Land Cruiser met Old Man Emu vering ry.

Gert ·

Almal weet waar gaan die meeste van die brandstofprys se heffings en dit is nie na die paaie toe nie

Cherokee ·

Laaste sin, wat word van die geld?
‘n Vraag wat al ‘n rympie geword het, sonder dat iemand wat werklik weet, dit antwoord.
Die enigste antwoorde daarop is slegs sarkastiese raaiskote. En die opposisie partye vra ook net vrae om deur hul ondersteuners gehoor te word, sonder aandrang op ‘n antwoord.

Sê maar net ·

Ons almal weet wat word van die geld. Intussen betaal onskuldige mense met hul lewens. Baie sterkte aan al hierdie families. Die padongeluksfonds is ook bankrot, anders kon mens geëis het, al bring dit nie jou geliefdes terug nie…. :(

Pieter ·

Vir baie jare het oom die land help kos gee oom Gillie. Rus sag oom.

mattk ·

Ja, die vrae bly onbe-antwoord. Selfs die tolhekke se geld word vir iets anders gebruik as mens na die toestand van sekere tolpaaie, soos bv die N17 kyk. Hierdie kaders spesialiseer in die gebruik van ander mense se geld.

Pieter ·

Tyd dat ons burgers van die land op hou praat en kommentaar lewer en die sleg anc aan vat. Al vat n hof saak tien jaar dan is dit ok maar ons kannie net bly praat en praat nie.

Toy ·

Die “potholes” ruk nou regtig hande uit, word wakker en doen iets daaraan, hou op om verskonings te maak die hele tyd. Wat maak die mense met die geld, lyk my als moet privatiseer dan sal daar dinge gebeur. Dis ‘n uitersterste skande hoe dit gaan in die land.

Di ·

Hoe is daar nie geld, mannekrag en toerusting nie? Gaan vra die wat die paaie in stand moet hou, wat hulle die met die geld maak! Hierdie land het in een grooot HOOL verander nadat die korrupte spul kommuniste oorgeneem het. IEMAND moet aanspreeklikheid aanvaar vir al hierdie lewensverliese en die GEVOLGE daarvan dra.

Chantel ·

Dis tyd dat almal wat geraak word deur sulke verlies, net eenvoudig begin eis. JA EK WEET wat help dit, maar hoe meer mense dit gaan doen MAG daar dalk hoop wees.
Sterkte aan sy gesin

SomeOne ·

ek het daardie pad ongeveer 10jaar terug gery, was meer op die grond as op die teer, foto’s daardie tyd geneem waar twee 340ml koeldrank blikkies bo-op mekaar staan en slegs die helfde van die boonste blikkies was sigbaar

SlinkseKoljander ·

En die ANC sal omgee hoekom? Dit is nie hulle mense wat die pad gebruik nie

VaalDonkie ·

Oukei, vir in geval dit dalk ‘n lewe mag red: as jy ‘n bakkie ry of ‘n kar met ‘n wiel wat nie lae-profiel bande ophet nie, is dit beter om maar net daai slaggat raak te ry. Al wat gaan gebeur is jy gaan toets of jou band en skokbreker goeie gehalte is. Ek ry partykeer ‘n slaggat raak met my kar en dit maak my net kwaad. Ek het darem nog nie skade gekry nie, maar ek vervang eerder ‘n skokbreker en ‘n wiel voor ek in iemand vasry of die kar omslaan.

Dis nou nie gemik op die oom nie. Dis maar net in die algemeen.

tweeling ·

Die probleem is niemand wil deur ‘n slaggat ry nie. Jy is dalk die een in wie iemand anders vasry wat die slaggat probeer vermy.

Bella ·

Maroela media. Dis darem baie moeite sien ek vir die skrywer van hierdie berig om net eers van sy of haar feite seker te maak voordat die berig gepubliseer word. Mnr Oost en sy gesin is getref deur n vragmotor, met n vol vrag bakstene, wat vir n slaggat uitgeswaai het. Stel asb jul feite korrek.

Du Preez de Villiers ·

Middag Bella, baie dankie vir die regte inligting. Ons maak dadelik reg.

Jr ·

Ons het laas week van Rustenburg op die Derby Boons pad terug gery na Carletonville huistoe. Jy vat die Welverdiend afdraai. Van Rustenburg tot by die Gauteng grens, pad is mooi. Sowaar as wragtag 50 meter na die WELKOM NA GATEND SORRY GAUTENG kry jy die eerste pothole ( nee Kimberly gat). Daarna is daar nie meer pad nie maar gatte orals. As u in die donker ry en ken nie hierdie pad gaan u n nagmerrie beleef. Ons land is n skande

Miskruier ·

Vanmore snel die blouligbrigade by my verby op dir N1, ook n helikopter wat lyk my die pad bekyk, sodat die menere veilig kan voort jaag.

Andries ·

In geval waar boere aan onnatuurlike oorsake sterf – soos plaasmoorde of swak paaie – behoort naasbestaandes boedelbelasting in die hof te kan betwis.

Nico ·

Slaggate op die paaie is werklikwaar ‘n groot kopseer die motoriste swaai vir die gate ak kom daar verkeer aan. Die brandstof pryse en die lisensie kostes verhoog elke jaar, niks word aan die paaie gedoen nie. Die regering is meer bekommerd oor die etoll stelsel wat ook onnodig is.

Ontnugterde senior ·

Dis tyd dat die families van mense wat agv slaggate sterf of ernstig beseer word die minister direk dagvaar vir lewensverlies en enige ander onkoste verbonde daaraan. Iemand moet verantwoordelik gehou word vir al hierdie skade wat ons as belastingbetalers lei agv van hulle onbevoegdheid.
My inige meegevoel met almal wat slagoffers van on swak paaie is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.