Slagoffer in N8-ongeluk sterf in hospitaal

Die ongeluk het Donderdagoggend gebeur. (Foto: Verskaf)

Die dodetal in die gru-ongeluk wat Donderdagoggend op die N8-hoofweg tussen Bloemfontein en Thaba Nchu in die Vrystaat plaasgevind het, het met een gestyg nadat ʼn slagoffer in ʼn plaaslike hospitaal aan sy beserings beswyk het.

Maroela Media het vroeër berig dat benewens die sterftes, nog 54 passasiers beseer is toe hul Interstate-bus met ʼn afleweringsvragmotor gebots het. Daar was altesame 62 insittendes onderweg na Bloemfontein ten tyde van die ongeluk.

Hillary Mophethe, woordvoerder van die departement van polisie, paaie en vervoer, het intussen bekend gemaak dat meer besonderhede oor die oorsaak van die ongeluk aan die lig gekom het.

“Die vragmotorbestuurder het glo die bus verbygesteek toe hy ʼn aankomende voertuig gewaar het. In ʼn poging om ʼn kop-teen-kop-botsing te vermy, het die vragmotor na die linkerbaan geswaai en die bus regs voor gestamp. Dit het tot die verskriklike ongeluk gelei.”

Dit is nog nie duidelik of iemand verantwoording sal doen vir die gru-ongeluk nie, maar die polisie se ondersoek na die saak duur voort.

Sefora Ntombela, premier van die Vrystaat, het intussen haar skok oor die noodlottige ongeluk uitgespreek nadat sy van die beseerdes in die hospitaal besoek het.

Sy het ook padgebruikers opnuut aangemoedig om geduld op die pad te beoefen en ekstra waaksaam te wees, veral met die naderende feestyd.

“Ons doen ʼn beroep op alle padgebruikers om geduld aan die dag te lê en binne die voorgeskrewe spoedgrens te bestuur om hierdie soort voorvalle te vermy,” sê sy.

“Met die feestyd op hande moet padgebruikers veral versigtig wees om onnodige lewensverlies op ons paaie te vermy.”

Ntombela het ook haar meegevoel aan die families van die oorledenes betuig en diegene wat in die hospitaal is ʼn spoedige herstel toegewens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Yvonne ·

Die arrogansie van die roekelose bestuurders gaan hulle gesonde verstand te bowe…die premier praat teen n klip muur vas

Christine ·

Hoekom is die premier geskok? Die paaie is in ‘n vieslike toestand tussen klein dorpies, niks word opgradeer nie. Die staat is die oorsaak dat die spoornetwerk in duie gestort het, want hulle slaan munt uit die trok vervoer en die bestuurders van trokke worry nie, hul bestuursvernuf en common sense ontbreek in geheel.

Andre ·

Moenie praat van kar bestuurders nie. Almal is ewe common en niemand het respek vir enige 1 op die pad. Geen geduld en wetteloosheid. Help nie ons sit onder n boom met KFC en naweke is daar niemand in sig nie.

Delia ·

Ai, die Regering is permanent geskok. Doen maar julle werk, dan sal die skok beter wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.