Slagoffer keer terug na plaas ná aanval

Harm Bonnema (Foto: Verskaf)

Harm Bonnema wat verlede maand inderhaas per helikopter na ʼn Johannesburgse hospitaal gevlieg is nadat hy vier keer op sy plaas buite Marble Hall geskiet is, sal eersdaags terugkeer na dié plaas.

Bonnema is Maandag ná sowat drie weke in die waakeenheid van die hospitaal eindelik ontslaan en kuier tans saam met sy vrou, Susan, by hul dogter in Groblersdal voordat hulle sal terugkeer na die plaas waar hy op 8 April deur aanvallers oorval en geskiet is.

Bonnema het op die buurplaas grootgeword waarna die egpaar ná hul troue na dié plaas, waar die aanval plaasgevind het, getrek het. Die egpaar se kinders het op die plaas grootgeword.

“Ons gaan beslis terug,” het Bonnema vandag aan Maroela Media gesê.

Volgens Bonnema gaan dit in die omstandighede goed met sy gesondheid nadat hy daardie nag met skietwonde aan sy arm, been en bors in die hospitaal opgeneem is.

Maroela Media het vroeër berig Bonnema het die aand omstreeks 19:00 na die bakkie gestap om ʼn sleutel te gaan haal, toe hy oorval is. Die aanval is deur veiligheidskameras vasgevang en die beeldmateriaal is later ter bewusmaking aan die publiek beskikbaar gestel.

Annelie Botha, die egpaar se dogter, het voorheen aan Maroela Media gesê die aanvallers het haar ouers vermoedelik vooraf dopgehou. “Dis gewoonlik die tyd wanneer my ma ʼn laaste sigaret buite gaan rook, en hulle het waarskynlik gedink dis ʼn goeie tyd om toe te slaan omdat my ma ʼn sagte teiken sou wees. Hulle het waarskynlik nie my pa verwag nie.”

Bonnema het onraad vermoed, maar nog voor hy kon reageer, het twee mense hom oorval. Daar was ʼn struweling en hy is vier keer geskiet.

Susan was in daardie stadium in die huis en wou gaan ondersoek instel. “My pa het net vir haar geskree sy moet die deure toemaak en dit sluit,” het Botha gesê.

Bonnema het sedert die aanval operasies aan sy arm, been en bors ondergaan en hoewel die wonde aan sy bors goed herstel het, sal hy vorentoe weer onder die mes moet gaan vir sy arm en been.

Hy vertel dat sy arm se herstel goed vorder, maar dat hy wel geen gevoel van sy regterknie af ondertoe het nie. Hy het ook baie pyn in dié been. Botha het kort ná die aanval verduidelik dat sy regterbeen senuweeskade met die skoot opgedoen het. Dit belemmer die beweging en sensasie in die onderbeen, enkel en voet.

“Emosioneel vang dit ʼn mens maar om in die hospitaal te lê. Jy wil so gou moontlik daar uit, maar jy kan nie,” sê Bonnema.

Hy vertel dat die trauma van die aanval hom nog nie juis kwel nie, maar dat hy wel berading ontvang. “Dit gaan redelik goed. Ek sal dit seker nog verwerk as dinge na normaal terugkeer.”

Op Maroela Media se vraag of die egpaar nie bang is om terug te keer plaas toe nie, antwoord Bonnema sonder om te huiwer: “Glad nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Pieter du plessis ·

Mooi so oom wys hulle wie is baas en onthou om paraat en gewapen te wees al rook jy jou laaste sigaret buite.

KaterinaKat ·

Alles van die beste vir julle, oom. Ja nee kyk om in n hospitaal te le is nie lekker nie. Wees tog net baie versigtig asb, dag en nag.

Jan Salie ·

Die tragedie agter die tragedie is dat as hy gewapen was en eerste geskiet het, was hy nou in die tronk.

Cherokee ·

Dra jou wapen saam… ek sê ook so.. maar dan weer, hy kan tog nie met ‘n oorgehaalde pistool in sy hand rondstap en soos ‘n bosduif links kyk, regs kyk, voor hy ‘n beweging maak nie. Iemand met ‘n vuurwapen in ‘n holster aan die sy, wat onverwags deur meer as een aanvaller betrek word, is steeds in geen gunstige posisie nie. As ons in ‘n ander land gewoon het en die werklikhede van Suid Afrika te hore gekom het, sou ons gesê het ons sit nie ‘n voet daar nie.

humor ·

n Yster van n Afrikaner Boer. As dit in jou bloed is dan roep die plaas en boerdery. Ja, wat van n vuurwapen aan jou sy en n aparaatjie om die nek en n alarm wat afgaan en die veiligheidsdienste wat dan dadelik weet. Baie mooi dat daar kamaras was.

Grompie ·

Wonderlik dat jy leef vat hierdie goed in die gees aan laat VADER MET HULLE EN HUL LEIERS DEEL.Shalom.

Paraat ·

Hoe parrat kan jy wel wees, alles is net so goed as die swakste skakel in jou eveiliging stelsel. Ek het alles op die plaas. Elektriese heinings met hekke, robo guard alarmstelsel, 24 CCTV kameras wat ook aan my selfoon gekoppel is om te gebruik as ek wag was en terug keer plaas toe, 4 groot honde en drie klein hondjies en dra my vuurwapen heeldag by my. Ten spytre hiervan was ek en my dogter aangeval by die plaas hek soo 500 meter van die huis ( nou ok geelektrifiseerd). Gelukkig het ek ook n goeie permanente werk met goeie salaris wat my instaat stel om alles te kon bekostig, maar die meeste boere het net nie die kapitaal om soveel in veiligheid te investeer nie.

Elsabie ·

Baie bly oom is op die herstelpad. Sterkte vir julle. As jy nou weer so gogga op jou plaas sien skiet hom in sy maai in!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.