Slagoffer op N4 doodgesteek; verdagtes vlug

Ysterpenne op paaie. (Foto: Gautengse verkeerspolisie)

ʼn Man is Sondagaand op die N4 by Donkerhoek in Pretoria doodgesteek terwyl hy besig was om ʼn motorband langs die pad om te ruil.

Die bestuurder en drie passasiers het omstreeks 22:00 op dié snelweg gereis toe die motor ʼn skerp voorwerp in die pad getref het. Die man het stilgehou om ondersoek in te stel en gesien een van die motorbande was heeltemal pap.

Volgens Jean Jonker, voorsitter van die Boschkop-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), was die groep besig om die motorband om te ruil toe gewapende aanvallers hulle oorval het.

“Die bestuurder het glo probeer wegkom, maar is met ʼn skerp voorwerp in die rug en nek gesteek. Paramedici het hom op die toneel dood verklaar.  Die passasiers is van persoonlike items soos selfone en kontant beroof.”

ʼn Soektog na die verdagtes is van stapel gestuur, maar hulle is steeds op vrye voet.

“Ons rig ʼn dringende versoek aan padgebruikers om op hul hoede te wees.  As jy ʼn pap band het, ry so ver as wat jy kan tot by die naaste plek van veiligheid.  Skakel dadelik die polisie, die GPF of ʼn sekuriteitsmaatskappy om ʼn moontlike voorval aan te meld,” sê Jonker.

Talle voorvalle is in die verlede veral van die Ogies-afrit tot by die N1-wisselaar aangemeld.  Soortgelyke voorvalle het ook op die N1-noord, die N4-wes en die Brits-pad plaasgevind.

“Ons versoek padgebruikers om paraat te wees,” raai Jonker aan.

JP von Benecke, woordvoerder van die Gautengse nooddienste, sê nóg ʼn voorval het Maandag op dieselfde pad plaasgevind, maar geen beserings is aangemeld nie.

Motoriste word aangeraai om die volgende wenke te volg indien hulle ysterpenne teëkom:

  • Verminder die spoed waarteen jy ry.
  • Probeer om so ver as moontlik te ry totdat jy by ʼn veilige plek kom.
  • Vermy dit om snags te ry.
  • Hou naasbestaandes op hoogte van jou roete en beweging.

Die polisie kon nie dadelik enige verdere besonderhede oor die voorval verskaf nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Gerhardus ·

Ek het nie woorde nie. Misdaad in ons land is buite beheer en die man met sy onderwysdiploma en “gangster” hoed, beweer op al die nuusnetwerke dat misdaad “verminder” het. Die SAPS teiken “maklike” arrestasies. Hulle arresteer winkel eienaars, mense wat “verkeersoortredings” begaan het en ander maklike teikens, maar die geharde kriminele word nie gejag, gevang of aan die kaak gestel nie. Dalk omdat daar by ongeveer 90% van die aanvalle/misdade een, of meer, SAPS en/of Metro Polisielede by betrokke is.

Marous ·

Hierdie hool is skrikwekkend verby . Wat het die arme man gedoen om dit te verdien ? Jy kan nie met ‘n stukkende wiel aankarring vir kilometers nie .

Renier ·

@Marous,jy kan, ry net stadig en hou aan beweeg.Sou die man wat vermoor is weer die kans kon kry,is ek seker hy sou aanhou ry so ver as tot waar dit veilig is.

Gerhard ·

Nou moet ons padgebruikers versigtig wees, ons moet verkieslik nie in die nag ry nie, ons moet ons “rims” beskadig om sover moontlik te ry tot ‘n plek van veiligheid, wel, reality check, yk my nie daar is enige plek van veiligheid in ons land nie……nie eers polisiestasies is plek van veiligheid nie…..nee hel, ek weet nie meer nie. So ons moet nou kompromiseer vir die misdadigers….

Goldy ·

Volgens die linkses sou SA dan so n mooi reenboognasie word waar almal lief is vir mekaar. Linkses sukkel maar om patrone raak te sien.

Goldy ·

Ja Gerhard, in n linkse land mag misdadigers na hartelus beweeg en JY moet ingeperk work. Laat die wereld weer links stem.

Michael ·

Ek ry wanneer ek wil ek en my vriend cz en mosberg laat ons nie intimideer nie.

Kobus ·

Ek en my vrou het paar jaar gelede vroegoggend die “spikes” op die Simon Vermooten afrit na die N4 getrap. Ek was besig om die wiel om te ry toe die 4 mannetjies ons in ‘n sloot gooi met vuurwapens teen ons koppe. Hulle het ons vir omtrent 5 ure sielkundig “ge-abuse” in daai sloot. Tot vandag “spike” hulle nog oral in SA. Dit is al amper soos Plaasmoorde. Niemand doen iets nie. Ek ry glad nie meer in die aand nie. Maar waarvoor? Mens moet veilig in jou eie land wees.

Kobus ·

Michael daai nag, die eerste ding wat hulle by ons wou gehad het was wapens. Gelukkig het ek nie een gehad nie. Jy kan nie teen soveel mense met wapens baklei as jy alleen en besig is om ‘n wiel om te ruil nie.

Tino ·

Maar as hy die rowers geskiet het was hy gearresteer.

Ek weet nie hoekom hulle se ons moet die polisie bel nie, ons wag nou al ‘n week vir die einste SAPS om uit te kom. Maar as jy nou se jyt iemand geskiet en jy het nie dan is jy ook in die selle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.