Slagoffer van plaasaanval skenk ruim tydens afsondering

plaasaanvalle

Argieffoto: SAPD

“Ek is en bly ’n boer en desondanks die slegte ervaring is ek daar om kos te voorsien.”

Só vertel Sandra van Zyl (57), ’n plaasaanvalslagoffer wat nou haar hart oopmaak om die kosnood te midde van die Covid-19-pandemie te help verlig deur kos aan behoeftiges te skenk.

Van Zyl, wat einde November op haar hoenderplaas buite Ventersdorp in die Noordwes-provinsie aangeval is, het ingevolge ’n versoek van AfriForum verlede week 150 dosyn eiers aan behoeftige mense geskenk. ’n Koördineerder van Solidariteit Helpende Hand het met die nodige permit die eiers by Van Zyl gaan haal sodat dit saam met ander kos aan behoeftiges uitgedeel kan word.

Weens die uitwerking van die algehele afsondering op die ekonomie het baie mense hul inkomste verloor en in armoede verval.

Van Zyl en AfriForum se paaie het gekruis, toe AfriForum se trauma-ondersteuningseenheid haar uit die bloute een dag ná haar aanval genader en die nodige ondersteuning gebied het.

Van Zyl was op 28 November omstreeks 23:15 besig om haar kantoordeur op haar hoenderplaas te sluit om huis toe te ry, toe ses gewapende mans haar oorval het. Sy woon so 2 km van die plaas af.

“Ek het meestal saans laat gewerk. Ek sou altyd my bakkie by die kantoor se deur trek sodat ek net kan toesluit, in die bakkie spring en huis toe ry,” vertel Van Zyl. In daardie stadium was sy besig om ’n motorhuis aan die kantoor te laat bou sodat sy glad nie die kantoor hoef te verlaat wanneer sy so laat in die aande na haar bakkie toe moet loop nie. Die motorhuis was tóé so te sê klaar gebou.

Die mans se gesigte was bedek en hulle het dadelik haar vuurwapen wat in haar broeksak versteek was, gegryp. “Hulle het my herhaaldelik oor die kop met my vuurwapen geslaan en gevloek. Hulle het geld van my geëis,” vertel Van Zyl.

Van Zyl het die mans in die kantoor na die kluise toe gelei. Hulle het die kantoor geplunder en die derduisende rande kontant uit die kluis gevat.

“Ek het besluit om kalm te bly en saam te werk, anders is ek my lewe kwyt.”

Hulle het vir Van Zyl op die grond laat lê en kookwater in haar ore gegooi waarna hulle haar in een van die instapkluise toegemaak het. Dit was ʼn baie digte kluis en sy kon nie asem kry nie.

Hulle het al die gesteelde goedere in die bakkie gelaai en ná ’n rukkie vir Van Zyl uit die kluis gaan haal en in die bakkie saam met hulle ingedwing. “Hulle het besef hulle gaan nie die plaashekke oopkry nie en hulle het my nodig.” Van Zyl sê hulle het haar die hele pad lank geterroriseer en gedreig.

’n Ent van die plaas af, op ’n grondpad langs ’n treinspoor, het die bakkie tot stilstand gekom. Die aanvallers het die goedere aan ’n ander persoon oor ʼn draad begin aangee. “Dit is toe dat die een vir my sê: ‘Klim in jou bakkie en ry. Moenie omkyk nie.’ Ek het in my bakkie gespring en net gery. Ek het nie geweet waarheen om te gaan nie.”

Van Zyl het omstreeks 03:00 die oggend by haar plaasvoorman se huis opgedaag en hom wakker gemaak. Sy het ’n dag later die saak by die polisie aangemeld. Drie van die ses mans is intussen al vasgetrek.

“Jy hoor altyd van hierdie dinge wat met ander mense gebeur, maar dit voel onwerklik as dit die dag self met jou gebeur.”

Vyf maande later, met die hulp van die trauma-ondersteuningseenheid, kan Van Zyl stuk vir stuk hierdie nagmerrie agter haar begin plaas. “Mens vergeet nooit nie en ek kry steeds beelde van daardie aand.”

“Dit is met diepe dank aan die besonderse hulp en bystand wat ek van dié trauma-ondersteuningseenheid ontvang het dat ek sonder huiwering die skenking gemaak het. Ek sal nie toelaat dat dit wat met my gebeur het, my menswees om ʼn hand na ander uit te steek en te help, verander nie. Die landwye nood vir kos raak my diep en ek voel dat ons almal ’n bydrae kan maak, al is dit hoe klein. Niemand behoort honger te ly nie,” vertel Van Zyl.

Van Zyl vra ook dat alle boere saamstaan en kyk waar hulle in hierdie krisistyd ’n helpende hand kan verleen. Hierdie soort hulp sal ook op ’n meer permanente grondslag moet geskied, aangesien die ekonomie só onder druk is dat die behoefte aan kos ’n langdurige probleem gaan wees.

Van Zyl skenk ook gereeld eiers en ander kos vir die ouetehuis en ander behoeftiges op die dorp.

Izel Kruger, projekkoördineerder vir AfriForum se trauma-ondersteuningseenheid, het gesê hulle is baie dankbaar vir Van Zyl se skenking waarmee hulle soveel honger gesinne kan help. “Die nood is baie groot en ons het ons boere en die publiek se hulp broodnodig,” sê Kruger.

Sakeondernemings of mense wat graag ook kos- of ander benodigdhede wil skenk, kan Kruger by 064 870 8312 nader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

lodewyk ·

Hoop ons president sien wat die boere doen en begin om waker te skrik en hulle te beskerm -Die vrou is n baie beter mens as ek !

Frederik ·

Dame, jy verdien respek. Alles wat jy deur is en nogsteeds weer opstaan en aangaan. Die wiel draai stadig maar seker…. Wonder net wat die slim en sterk manne (met wapens en kookwater) sou doen as die skoen aan die ander voet was??

Frederik C ·

Hulle sou haar van rassisme beskuldig het. Ek hoop die eiers wat sy geskenk het, bereik net blanke behoeftiges

Strandloper ·

Imagine…almal het jou siening! Is dit nie na wat ons almal streef nie?

Brett ·

Dus nou ware hard van goud straf nie die onskuldiges nie…… Hoop iemand in parlement lees dit raak……. Gee die vrou ‘n Bell’s……. Well done

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.