Slagoffer van swaardmoordenaar ‘was veronderstel om te lewe’

Jacques Pretorius (Foto: Verskaf)

“Jacques se ouers woon in Krugersdorp en Morné Harmse woon nou weer in Krugersdorp. Dit is ’n bekommernis… want hoe maak ’n mens indien jy in hom vasloop?”

So vra die vermoorde Jacques Pretorius se tannie, Leonie Pretorius, nadat Harmse pas op parool vrygelaat is.

Jacques was destyds 16 jaar oud en in gr. 9 toe Harmse, nou bekend as die swaardmoordenaar, op 18 Augustus 2008 met ’n Slipknot-geïnspireerde masker en samoerai-swaard by die Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs in Krugersdorp ingestap en Jacques en drie ander mense aangeval het.

Jacques het nie die aanval oorleef nie.

“Dit was soos iets uit ’n rillerfliek. Dit was die mees bisarre ding wat ek in my lewe van gehoor of gesien het,” sê Leonie nou 14 jaar ná die aanval.

Jacques se familie is einde verlede maand ingelig dat Harmse op 3 Maart op parool vrygelaat sou word. Dít ten spyte daarvan dat hy volgens hulle geen berou toon vir die gewelddadige aanval wat hul geliefde geëis het nie.

“Ek was geskok,” sê Leonie oor Harmse se vrylating op parool.

Morne Harmse destyds in die hof. (Foto: Skermgreep via eNCA)

Sy vertel dat die Pretorius-familie in 2019 aan ’n paroolverhoor deelgeneem het nadat Harmse sy minimumvonnis uitgedien het en vir parool in aanmerking gekom het.

“Dit was ʼn baie emosionele dag gewees,” onthou Leonie.

“Ons moes as deel van die verrigtinge saam met hom om ’n tafel sit. Ons het seker twee meter van hom af gesit. Daar is aan hom gevra of hy enigiets vir ons wil sê en hy het aangedui dat hy niks het om vir ons te sê nie. Ek sal nie sê dit is iemand wat berou toon nie.”

Leonie onthou Jacques as ’n doodgewone tienerseun.

“Ons het 16 jaar se herinneringe, maar hoe lank kan 16 jaar se herinneringe jou hou? Hy was ’n doodnormale tienerseun. Hy was stout. Hy het gelewe. Hy was veronderstel om te lewe…”

Harmse is in 2009 skuldig bevind op een aanklag van moord en drie aanklagte van poging tot moord waarvoor hy effektief 20 jaar tronkstraf opgelê is.

Harmse, nou 32 jaar oud, het voor sy vrylating agt keer voor die paroolraad verskyn.

Sy vonnis sal in Maart 2029 verstryk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jean ·

Berou toon beteken niks nie, want dit beteken die persoon wat in die tronk sit wat die beste akteur is sal vroeer uit die tronk kan kom. Mens moet jou tronkstraf uitdien en vrygelaat word, berou of nie.

Wondermaarnet ·

As hy nie berou toon na 14 jaar nie, sal hy dit nooit doen nie. Hoe kan iemand na 14 steeds niks hê om te sê nie? Hoop maar hy het ‘n nuwe blaadjie omgeslaan en sterkte aan die slagoffers se families.

Jannie van Niekerk ·

Iets maak nie sin nie. Sover my kennis strek moet die slagoffer se familie instem dat die skuldige op parool kan uitkom. Dit lyk nie vir my of dit hier gebeur het nie. Hiersie mannetjie gaan weer moor. Dis deur en deur bewys dat geweldmisdadigers binne ‘n maand weer hulle oortreding herhaal.

Kirst ·

Dis net politieke slagoffers se familie wat daardie voorreg kry.

Marius ·

Die wraak kom ons nie toe nie. As hy nie vergifnis vra en ontvang nie gaan hy sy dag kry as hy voor die Here gaan staan.

Miskruier ·

Die enigste manier om na so trauma voort te leef, is om te vergewe.

Swerwer ·

Wat is die nut daarvan dat almal saam om ‘n tafel moet sit voor die skuldige op parool vrygelaat word.
Die seer rou wonde word na jare weer oopgekrap en dan wil die gereg hê daar moet gesê word dit is ok om hom op parool vry te laat. Nèè, want soos Jean terreg sê, die beste akteurs is in die tronk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.