Slagoffer vertel van hengel-uitstappie wat in nagmerrie ontaard

Pieter Terreblanche. Foto verskaf

Pieter Terreblanche. Foto verskaf

“My vriend is in die spervuur doodgeskiet omdat hy my wou help”. Só sê Pieter Terreblanche, ʼn 59-jarige hengelaar wat Sondagoggend ʼn aanval in Strandfontein op die Valsbaai-kuslyn oorleef het. Sy hengelaarvriend, Alvin Allies (51), is tydens die aanval doodgeskiet.

Terreblanche, wat in Brackenfell in Kaapstad woon,  het Donderdag aan Maroela Media gesê hy en Allies, van Northpine, het Saterdagaand saam met ander vriende gaan lyn natmaak. “Alvin vang al van kleins af vis, en hy ken die kuslyn soos die palm van sy hand. Hy het presies geweet waar al die gaatjies is waar die visse wegkruip,” het Terreblanche gesê.

Terreblanche en Allies het mekaar in Februarie langs die waters ontmoet en het sedertdien gereeld saam gaan hengel. “Hengel is vir my ʼn stokperdjie. Ek doen dit om te ‘chill’ en dit is hartseer dat só iets moes gebeur. ʼn Mens is nêrens meer veilig nie.”

Die ander vriende in die hengelgeselskap het omstreeks 02:00 Sondagoggend die gebied verlaat en net Terreblanche en Allies het agtergebly. Hy het gesê twee mans het hulle met ʼn plastiese houertjie genader, en gesê hulle voertuig het sonder brandstof gaan staan. “Ek het vir hulle gesê ons sal nie kan help nie want die bakkie ry op diesel. Die twee is toe daar weg.”

Terreblanche sê Allies het omstreeks 03:20 ʼn oproep van sy vrou, Pearl, gekry om te hoor of hulle al iets gevang het. “Dit was die laaste keer wat sy met haar man gepraat het.” Hy sê hulle het omstreeks 04:00 begin gereed maak om op te pak. Die bakkie was sowat 30m weg van waar die twee visgevang het. “Alvin was besig by die stokke en ek was by die bakkie toe een van die mans skielik voor my staan en ʼn geweer in my gesig druk.”

Terreblanche het in ʼn worsteling met die gewapende man betrokke geraak, en gehoor hoe skote bo sy kop afgaan. “Die ander man wou my met ʼn mes aanval, maar het in die geskarrel sy medepligtige gesteek. Ek vermoed Allies het die man met die mes oor die kop geslaan, want toe die twee weghardloop was hy gedisoriënteerd.”

Terreblanche sê hy het Allies op die strand sien lê toe die aanvallers weg is. Hy is in die maag geskiet. “Ek het dadelik na hom toe gegaan, en besef hy is geskiet. Die koeëls wat vir my bedoel was, het hom getref. Hy is ʼn held. Hy kon weggehardloop het, maar hy het na my toe gehardloop om te help.” Vier koeëldoppies en drie patrone wat nie afgevuur is nie, is later op die toneel gevind.

Terreblanche sê Allies was reeds dood toe hy by die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se reddingstasie, sowat 400m van die toneel af, om hulp gaan aanklop het. “Daar was ʼn man en sy dogter, ek het vir hulle gesê my vriend is geskiet, hulle het gesê hulle sal nie kan help nie, maar dat hulle die polisie en nooddienste sou ontbied.”

Hy het sy ontevredenheid uitgespreek oor die polisie se hantering van die voorval. “Hulle het nie eens ʼn voertuig gehad om op die strand te kom nie. Allies is uiteindelik eers ʼn uur nadat hy geskiet is by die NSRI-stasie aangebring, want daar moes vir ʼn voertuig gewag word. Paramedici het Allies by die stasie probeer bybring, maar hy is daar dood verklaar.

“Ek weet Alvin was reeds dood toe ek gaan hulp soek het, maar as daar ʼn kans was om sy lewe te red, sou dit nutteloos gewees het aangesien dit so lank gevat het om sy liggaam by die stasie te kry,” het hy bygevoeg.

Terreblanche sê hy beplan om met plaaslike vissermanne te vergader om ʼn plan van aksie uit te werk ten einde hengelaars se veiligheid te verseker. “ʼn Hengelaar het die reg om enige tyd van die dag of nag op enige plek waar hy verkies vis te vang, en veilig te wees. Ons kort veilige hengelgebiede wat afgesper is, en wat gewapende veiligheidsbeamptes het, al moet ons daarvoor betaal,” het hy bygevoeg.

Hy het ook gesê die polisie kort voertuie wat op die strand kan ry en wat meer sigbaar is.

“Ek het Sondagaand in my bed gelê en vir die Here gevra hoekom ek die nagmerrie oorleef het, en het besef Hy het my gespaar vir ʼn doel. Om vir die mense te vertel dat my vriend ʼn held was, en om vir die veiligheid van ons hengelaars te veg,” het Terreblanche gesê.

Allies word Saterdag in Brackenfell begrawe.

Kaptein FC van Wyk, ʼn polisiewoordvoerder, het Donderdag aan Maroela Media gesê Terreblanche kan sy besware by sy naaste polisiestasie aanmeld sodat dit ondersoek en bespreek kan word.

Die polisie het ook bevestig dat saak nog ondersoek word en dat niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem is nie.

Enigiemand met meer inligting word versoek om konstabel Elton Williams, die ondersoekbeampte, te skakel by 021 370 1501 of 079 894 1208.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eben ·

Kaptein FC van Wyk en dan word die saak net weer daar gelaat en genoem dit was nie in die en daardie polisie area. Nee maggies man julle is n lot slap gat helle. Hoekom nie dadelik iets doen en aan die werk spring daar is n mens dood ongeag kleur en ras. Nou word onder die berig gevra ons moet help indien met inligting. Hoekom lig die konstabel nie sy allie en doen self werk!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.