Die saak teen Thabang Maqelepo (26) en Sefiso Chauke (21) is tot 3 Maart uitgestel wanneer hulle na verwagting sal aansoek doen om borgtog.
Sers. Martin Xuma, woordvoerder van die polisie, het gesê die paartjie het Saterdagaand in die dorp huis toe gestap. “Twee gewapende mans het hulle met ʼn panga aangeval en ʼn sak klere by hulle afgeneem. Die kêrel kon daarin slaag om die panga by die verdagtes af te neem en een van hulle op die arm te kap.”
Die verdagtes het met die sak klere, ter waarde van R5 000, weggehardloop. Die paartjie het die polisie ontbied en is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir behandeling. Die ondersoekbeamptes was besig om die paartjie by die hospitaal te ondervra toe ʼn man met ʼn wond aan sy arm by die hospitaal opgedaag het. “Die beamptes het agterdogtig geraak en die slagoffers na die man gevat waarna hulle hom as een van hulle aanvallers geïdentifiseer het.”
Maqelepo is by die hospitaal in hegtenis geneem en hy het aan die polisie gesê waar die ander verdagte wegkruip. Chauke is by sy huis in hegtenis geneem en die gesteelde sak klere is in sy besit gevind.