Slagoffers van vermeende reeksmoordenaar met DNS uitgeken

Themba Prince Willards Dube tydens ‘n vorige hofverskyning. Hy staan tereg op agt aanklagte van moord. (Foto: NVG)

Die identiteite van vyf slagoffers van ʼn vermeende reeksmoordenaar wat op vroue in die Limpopo-omgewing geteer het, is met die hulp van DNS-toetse uitgeken.

Die 34-jarige Prince Dube word verbind met die moord op sewe vroue wat sedert Augustus verlede jaar in Seshego, Mankweng en Polokwane as vermis aangemeld is. Hy staan tereg op aanklagte van moord, verkragting, ontvoering, roof en regsverydeling.

Dube, ʼn Zimbabwiër, bly in aanhouding tot hy weer volgende maand in die Seshego-landdroshof verskyn, sê brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo.

Vyf van die sewe vroue se oorskot kon weens uitstaande DNS-uitslae nie begrawe word nie. Slegs twee liggame is positief geïdentifiseer en is aan die slagoffers se families oorhandig.

Maroela Media het vroeër berig Dube is aanvanklik op 3 November verlede jaar in hegtenis geneem vir die besit van ʼn vermoedelik gesteelde selfoon wat aan ʼn vrou behoort het wat glo kort tevore in Lebowakgomo ontvoer is.

Nadat die aanvanklike polisieondersoek gedui het op die moontlike betrokkenheid van ʼn reeksmoordenaar wie se werkswyse was om vroue te lok deur vir hulle werk te beloof, het die provinsiale polisiehoof opdrag gegee dat ʼn span ondersoekers die verdwyning van vroue in die Capricorn-distrik ondersoek.

Die ondersoek het gelei tot die ontdekking van sewe vroue se liggame op verskillende plekke in Seshego, Polokwane, Mankweng en Westenburg.

Nadat die DNS-toetse die identiteit van die vyf slagoffers bevestig is, is die vroue se oorskot ook aan hul families oorhandig.

“Die geraakte families kan nou vertroosting vind in nie net die feit dat ʼn verdagte aangekeer is nie, maar hulle sal ook ʼn mate van afsluiting vind noudat hulle hul geliefdes kan begrawe,” sê lt.genl. Thembi Hadebe, polisiehoof in Limpopo.

Die vyf slagoffers, wat deur middel van DNS uitgeken is, is:

  • Sarah Moitswadi Mothiba (42) wat by Lebowakgomo ontvoer is en in Oktober 2021 as vermis aangemeld is
  • Moleboheng Mothibeli (34) van Lesotho wat in Oktober 2021 in Polokwane as vermis aangemeld is
  • Eva Khomotso Makhura (41) wat in Oktober 2021 in Seshego as vermis aangemeld is
  • Mpho Sanah Sinyatsi (34) wat in Oktober 2021 by Luthuli Park in die Seshego-polisiëringsgebied verdwyn het
  • Chisimango Gumbo (48) van Zimbabwe wat in Augustus 2021 in Seshego as vermis aangemeld is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Wondermaarnet

Die kans is groot dat hy onwettig in die land is en nou moet SA se belastingbetalers vir hom sorg.

Ratel

Rubbish!!!

jlantie

Kyk hoe vinnig word die DNS toetse afgehandel. Ander sake wag hoe lank

Swerwer

En alweer is die ‘n Immigrant en nog steeds sal die Regering se oë nie oopgaan nie.

AW

Baie Goeie Werk van die SAPD.