Slang pik Pippie se pa

Erwin Kruger by sy kinders Arno en Pippie. (Foto: Verskaf)

Erwin Kruger, die pa van klein Isabelle, oftewel Pippie, wat in 2011 op Oujaarsaand sleg gebrand het, sterk goed aan nadat ’n swart mamba hom Vrydagaand buite die gesin se huis in Lephalale (Ellisras) in Limpopo gepik het.

Kruger sal oor ’n paar dae uit die Mediclinic in Lephalale ontslaan word waar hy teengif ontvang het nadat die slang hom op sy kuit gepik het.

Kruger vertel dat hy ten tyde van die voorval alleen by die huis was aangesien sy vrou, Anice, en hul twee kinders deesdae in Stilbaai woon en hy weens werksverpligtinge tussen Lephalale en Stilbaai moet pendel.

Volgens Kruger het hy na ’n lang en warm dag by die huis aangekom en was hy nie lus vir kosmaak nie. Hy het met Anice oor die foon gepraat en sy het gesê hy moet sommer ’n wegneemete bestel.

Dit is toe hy omstreeks 19:15 die huis se traliedeur sluit dat hy op pad uit ’n geritsel in die blare gehoor het.

“Ek het dadelik geweet dit is ’n slang,” vertel hy nou.

Kruger het net weg van die plek waar hy die ritsel gehoor het, beweeg toe hy die pik op sy kuit in die donker voel. Dit is eers met die omdraai dat hy die slang kon sien. Hy het toe die buurman laat kom sodat die twee met ’n flits na die slang in die tuin kon soek om vas te stel watter soort slang dit is. Hulle het gesien dit is ’n swart mamba wat Kruger gepik het en toe is hulle hospitaal toe.

Op pad na die hospitaal het Kruger koelkop gebly, hoewel hy binne minute ’n verandering aan sy spraak kon agterkom, vertel hy aan Maroela Media. “Jy moet maar net kalm bly. Dit is maar die beste.”

By die hospitaal gekom, het Kruger ’n teengif ontvang. Die teengif is sowat 15 tot 20 minute nadat die slang hom gepik het, toegedien. “Hoe vinniger, hoe beter,” verduidelik hy.

Volgens Kruger het hy onmiddellik beter begin voel, maar hy sal die volgende paar dae in die hospitaal moet deurbring.

En wat sê Pippie van haar pa se noue ontkoming? “Pippie het soene gestuur en gesê die slang is simpel om haar pa te pik,” skerts Erwin.

Lees alle berigte oor Pippie Kruger op Maroela Media hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johan Kruger ·

Vasbyt, Kruger! Die slang gaan waarskynlik vrek van jou Kruger-gene wat aan sy tande vassit!

Kokkie ·

Ek is dankbaar dat Erwin betyds hulp kon kry en dat dit beter gaan. Die gesin moes al deur so baie moeilike tye gaan. Sterkte en beterskap.

Jan ·

Sterkte my vriend en familie.
Wil net noem dat n slang byt, en nie pik nie. n Hoender pik.
In n positiewe lig ter info.
Groetnis

Attie. ·

Is dit nou nuus? Ek is Pippie se oom se vriens en ek het my toon gestamp.

WELKOM ·

Attie
Hierdie is nie nuus nie, DIT noem ons JALOESIE van mense soos jy wat nog nie bekendheid verwerf het nie.

Erwin, jy is gelukkig en hoop jy sterk vinnig aan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.