Slang pik sanger se seun (3)

Adriaan saam met Jacobus en Anika. Foto: Verskaf

Adriaan saam met Jacobus en Anika. Foto: Verskaf

ʼn Driejarige kleuter se nuuskierigheid het sy sangerpa groot skrik op die lyf gejaag toe sy seun onlangs deur ʼn nagadder gepik is.

Adriaan Joubert, een van die Juba Broers, het Vrydag aan Maroela Media gesê hy was Saterdag, 29 Augustus, omstreeks 10:00 op sy plaas naby Loubad in Limpopo besig om toerusting in sy kombi te laai toe die slang sy seun, Jacobus, gepik het.

“Ek het Jacobus in die kombi gesit terwyl ek die toerusting ingelaai het. Ek het hom ewe skielik vreeslik hoor huil en aanvanklik gedink hy het uit die kombi geval,” het Joubert gesê.

Joubert het dadelik na sy seun gehardloop en gesien Jacobus hou ʼn slang aan sy stert in sy hand vas.

“Ek het groot geskrik. Ek het aanvanklik gedink dit is ʼn pofadder wat ʼn verskriklike gevaarlike slang is. Ek het die slang uit sy hand gegryp en weggegooi, maar gou besef ek sal die slang nodig hê vir identifikasie en teengif.”

Jacobus in die hospitaal. Foto: Verskaf

Jacobus in die hospitaal. Foto: Verskaf

Hy het die slang gou weer opgespoor en gesien dit is ʼn nagadder. Hy het dit doodgemaak en in ʼn kosblik gesit. Joubert het Jacobus en sy twee dogters, Anika (5) en Elrika (ses maande), in die kombi gelaai en by sy sangpaarbroer, Martiens, se huis op die plaas gaan aflaai. Hy het met sy seun en die slang van Loubad na die Montana-hospitaal in Pretoria gejaag.

Joubert het intussen sy vrou, Anri, by haar werkplek in Bela-Bela (Warmbad) gebel, asook die slanghanteerder, Andre Lourens, wat vir hom oor die telefoon verduidelik het watter noodhulp om toe te pas. Lourens het ook die hospitaal gebel en gesê Joubert is op pad sodat hulle kon voorberei. Anri het later in die hospitaal by haar man en seun aangesluit.

“Jacobus is in die hospitaal se pediatriese hoësorgeenheid opgeneem waar die dokters vir hom antibiotika gegee het aangesien daar nie teengif was nie. Hy is op sy linkerhand gepik en sy hele linkerarm het begin opswel soos wat die gif versprei en sy weefsel aangeval het.”
Jacobus moes onder verdowing geplaas word om so min as moontlik te beweeg terwyl die gif uitgewerk het. Hy was vir vyf dae lank daar behandel voordat hy ontslaan is.

Jacobus se hand. Foto: Verskaf

Jacobus se hand. Foto: Verskaf

Sy wond moet steeds daagliks dopgehou word vir infeksie.

“Dit lyk darem asof dit nou goed gaan met hom en hy herstel mooi. Sy handjie is steeds geswel, maar hy gebruik hom, wat ʼn goeie teken is. Die swelling begin ook darem nou sak. Daar is heelwat weefselskade en ons sal dalk later veloorplantings moet oorweeg.”

Joubert het dieselfde dag van die voorval weer terug gery Limpopo toe en was betyds om sy verpligtinge vir die Juba Broers in Polokwane na te kom.

Hy het Lourens in besonder bedank wat hom tydens en na die voorval bygestaan het en het mense ook gewaarsku om veral nou versigtig te wees vir slange aangesien hulle dié tyd van die jaar baie aktief is.

Lourens kan geskakel word by 072 124 2114.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

AmY ·

So dankbaar julle kind het oorleef. Hoop hy herstel sommer gou.

Dee ·

Ek praat onder korreksie maar dink dat ek reg is as ek sê dat daar nog nooit iemand beswyk het as gevolg van die pik van ‘n nagadder nie. Die kind is klein en dit is ‘n goeie nuus storie eintlik omdat sy pa dinge reg gehanteer het.

SNEL ·

Wonderlik dat die pa presies geweet het wat om te doen en wie om te bel. Hoop die knapie is gou weer sy ou self met geen drama van die slangpik.

AntiPiet ·

So dankbaar dit gn goed met Jacobus ongelukkig is weefselskade meestal onvermydelik. Baie sterkte en voorspoed met oorplantings. Kan jul dalk Andre Lourens ae kontak besonderhede gee ek glo daar is baie van ons wat dit graag op selfoon wil bere vir noodgeval. Hier by ons is die Egiptiese Kobra volop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.