Slang verras vrou tydens familie-ete

Malan en sy familie het onder ’n boom gesit en middagete eet toe sy skoonma, skielik ’n beweging by haar voete gevoel het (Foto: Verskaf)

“Ma, bly kalm en sit doodstil.”

Dit is wat Danie Malan vir sy skoonma gesê het toe ’n pofadder tydens ’n familie-ete homself by haar voete tuisgemaak het. Dit, sê ’n slangkenner, is die beste om te doen wanneer só ʼn ongewenste gas jou besoek.

Malan, predikant van die Gereformeerde Kerk Uitschot in Vermaas, Noordwes, vertel hulle het sowat twee maande gelede ʼn familie-ete buitekant die kerk gehou. Die kerk is op ’n plaas geleë.

“Ons het onder ’n boom gesit en middagete eet toe my skoonma, wat verkies om anoniem te bly, skielik ’n beweging by haar voete gevoel het. Sy het aanvanklik gedink dit is die hond, maar toe sy die hond ’n entjie van die tafel op die gras sien sit, het sy besef dit is iets anders,” vertel Malan aan Maroela Media.

“Sy het afgeloer en ’n stuk van die slang se vel by haar voete gesien. Sy het my geroep en in ’n kalm stemtoon gesê: ‘Danie, ek dink hier is ’n slang by my voete.”

Malan vertel hy het omgestap om dié ongewenste besoeker te besigtig.

“Ek was aanvanklik onder die indruk dat dit ’n klein slangetjie was, maar was geskok toe ek sien dit is ’n pofadder. Die slang was kwaai en opgeblaas. Hy het in posisie gelê wat lyk asof hy enige oomblik gaan toeslaan en pik.”

Malan vertel hy en van sy familielede het die tafel weggeskuif en so kalm as moontlik vir al die gaste gevra om weg te staan. Hulle het ook die hond weggehou om die situasie so rustig as moontlik te hou. Die slang het bedaar en rustig homself by sy skoonma se voete opgekrul.

Malan vertel hy het nie ’n idee gehad wat om te doen nie en het eers ’n graaf gaan haal. “Op pad terug met die graaf het ek gewonder wat ek met die graaf gaan maak. Ek het dit toe gelos en ’n besem en ’n PVC-dreinpyp, wat op die erf rondgelê het, gaan haal.

“Ek het al in die verlede ’n rinkhals met só ʼn pyp gevang en het gehoop dat ek dieselfde met die pofadder sou kon doen. Ek het die een kant van die pyp met ’n handdoek toegebind en die oop kant langs die slang se kop neergesit. Op só ʼn manier flous jy die slang deur hom te laat dink dat die pyp se opening ’n gat in die grond is.”

Malan sê hy het met die besem die slang na die pyp se opening probeer druk, maar die reptiel het nie beweeg nie.

“Toe dié plan nie werk nie, het ek vir my skoonma gesê om haar regtervoet baie stadig na regs te beweeg. Die slang het in daardie stadium teen haar linkervoet, met sy bek teen haar hak, gelê. Sy het haar regtervoet beweeg en toe haar linkervoet. Ons het ’n stoel naby haar geplaas waarop sy toe haar voete kom neersit. Ons het ’n handdoek oor die slang gegooi en my skoonma van die stoel af opgetel sodat sy veilig sou wees.”

Malan sê hulle het die handdoek opgelig en die slang met die besem na die pyp se opening gelei. Hy het die pyp toegemaak en die slang sowat sewe kilometer weg in die veld vrygelaat.

Volgens Malan moes die slang vanuit die bedding, wat sowat twee meter van sy skoonma se stoel was, geseil het.

“My skoonma het die situasie goed hanteer en deurgaans kalm gebly.”

Chris Hobkirk, eienaar van ʼn gifverskaffer in die Laeveld en slangkenner van Nelspruit, sê in só ʼn situasie is die geheim om altyd kalm te bly en die slang se bewegings dop te hou.

“Sit doodstil en moet nie vinnige bewegings maak nie. Die slang reageer op jou reaksies, en daarom is dit belangrik om nie ʼn bohaai op te skop nie,” sê Hobkirk.

Hobkirk sê die persoon moet stadig en rustig van die slang probeer wegskuif.

“’n Pofadder kan net helfte van sy lengte pik, so as jy jou bene ver genoeg wegskuif, kan hy nie by jou uitkom nie.”

Hobkirk sê in Malan se skoonma se geval het die slang in daardie stadium veilig by haar voete gevoel en sou hy haar nie sommer gepik het nie.

“’n Pofadder is oor die algemeen rustig en verkies om weg te kruip. Dié slang het waarskynlik skuiling by haar voete gevind. Hy het daar gewag om te kyk waar is moeilikheid, voordat hy dan verder sou seil.”

Hobkirk raai die publiek aan om in só situasie ook ’n professionele slangvanger in hul omgewing te skakel. Besoek die Afrika-slangbytinstituut (ASI) se webwerf om ’n slangvanger in jou omgewing op te spoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

ameli ·

Ek sal nooit so kalm kan wees nie. Net om hier te lees trek als saam.

Racheltjie Debeer ·

Dit sou nie nodig gewees het om kalm te bly nie want ek sou waarskynlik dood neergeslaan het.

Genis ·

Sjoe, goed gedink, ek dink dit kan n benoude episode wees… Veral as die slang klaar kwaad was…

Noels244 ·

Kyk, ek sou myself so bevuil het dat die slang noodgedwonge sou moes wegseil van die stank

melaney ·

As dit ek was wat op daardie stoel gesit het, sou die slang gevoel die reën sak op sy kop neer.

Hester Wilhelmina ·

En iemand het nog tyd om ‘n foto te neem? Goeie werk!

Misky ·

Ek sou dood wees en nie so kalm nie – al probeer ek hoe hard. Doodbang vir slange!!!

donsie ·

As dit my skoonma was sou ek haar nie rustig gehou het nie, so ‘n kans kan ‘n ou nie deur sy vingers laat slip nie……HAHAHAHA
Well done, ek sou natuurlik die pofadder myself bedek het.

koos10 ·

Julle het dit bitter goed hanteer. ‘n Pofadder kan net die helfde van sy lyf “strike”, dit is waar, maar die slang is bekend daarvoor dat dit binne 0.25 sekondes kan pik of “strike” en dit meer as een keer doen.
Dankie dat julle die slang gevang en vry gelaat het. Geen slang sal so na ‘n mens toe kom om die aan te val nie. Ons is nie hulle kos nie, en hulle wil nie gif mors op iets wat hulle nie kan eet nie.
Hulle pik gewoonlik net uit selfverdediging of bedreiging. Pofadders sal eers hulle kenmerkende pof geluid maak om jou te waarsku dat hulle daar is.

Sanja ·

Koos…..wardeer jou inligting…maar eks dood dood dooooood bang en ek sou n “poef” geluid gemaak het as die outjie so mooi by my voete moes kom le!

Vonkprop ·

Ek persoonlik sou met ‘n slangbyt in die hospitaal beland het. Van nature as ek iets teen my voel dan beweeg ek om te kyk wat dit is, geen manier dat ek sou kalm gebly het nie. Dit is een ding om ‘n slang van ‘n afstand te sien en ‘n plan te maak, maar heel ander situasie as die ding by jou is. Welgedaan aan die skoonma en skoonseun.

Gerhardus ·

Ek wil net vir Danie Malan sê dat ek groot respek het vir hom. Ander mense sou die slang doodgemaak het. Ek self vang ook eerder die slang en gaan laat hom vry in ‘n veld, weg van die huise af. Dit is goed om te sien daar is nog ander wat glo dat selfs reptiele die reg het om te lewe. Slange val nie aan nie, hulle verdedig slegs as hulle bedreig voel.

Hierdie was een van daardie stories wat ek eers gedink het gaan tragies eindig, maar wat my op die einde goed laat voel het.

Sluier ·

Slang vrygelaat? Nee gits! Ek sou hom die kop vermorsel het :-)

pestilensie ·

Het self al probeer om n slang by my skoonma te sit, maar sy vang my elke keer uit

Dup ·

Skoonma + pofadder……..hierdie klink ña ñ “inside job” wat lelik skeefgeloop het…..die arme slang was seker te bang om te beweeg…..

TO ·

Ek sou nou nog hardloop as ek nie op die plek dood was van skok nie, oh my word

SomeOne ·

indien jy ‘n slangvanger moes skakel, wie sê daar is een in daardie omgewing, dalk, maar hoe lank sal ‘n persoon kan stilstaan voordat jy moet beweeg, baie vrae, op daardie stadium min antwoorde

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.