Slangbyt-slagoffers word maats in hospitaal

Johan (8) en Dawid (5) (Foto: Verskaf)

Die vyfjarige Dawid du Plessis en die agtjarige Johan Emmenes van Limpopo se soortgelyke verhale van hoop inspireer talle: Albei seuns is deur ʼn Mosambiekse spoegkobra gepik terwyl hulle lê en slaap het, albei se lewens was in groot gevaar en albei seuns is nou saam op die herstelpad.

Nou het die jong Dawid en Johan vandeesweek mekaar ook vir die eerste keer in die Mediclinic Midstream-hospitaal in Centurion ontmoet om hul stories met mekaar te deel.

Johan is op 13 Maart deur ʼn spoegkobra gepik terwyl hy in sy bed by sy ouerhuis in Mokopane in Limpopo geslaap het. Dawid is op 23 Januarie op ʼn kleinhoewe in die Bulgerivier-omgewing buite Lephalale in Limpopo deur ʼn spoegkobra gepik.

Hestia Emmenes, Johan se ma, vertel sy en Retha, Dawid se ma, is sedert middel vandeesmaand in kontak nadat dit bekend geword het dat ʼn spoegkobra Johan gepik het.

Sy sê Retha het haar deurentyd bygestaan met raad en boodskappe van bemoediging oor wat die pad vorentoe inhou.

“Toe Retha van Johan se wonderwerk gelees het, het sy my gekontak en gesê sy wil self kom sien hoe dit met hom gaan,” vertel Hestia. “Sy wou die wonderwerk met haar eie oë sien.”

Hestia het vroeër vertel van Johan se ongelooflike genesing wat niks minder as ʼn “wonderwerk” is nie. ʼn Herstelpad van minstens ses maande lank het Johan in die gesig gestaar – ʼn tydperk waarin hy verskeie operasies sou moes ondergaan om dooie weefsel skoon te skraap. Dokters het egter minder as ʼn week ná die voorval gesê daar is byna geen teken van dooie weefsel nie, en hoewel Johan steeds geopereer gaan moet word en in die hospitaal aanbly, sal dié tydperk waarskynlik baie verkort.

Johan Emmenes (Foto: Facebook)

“Retha het na Johan gekyk en net gesê: ‘Dit is ʼn wonderwerk.’ Dit was in daardie stadium maar ʼn week nadat die slang hom gepik het en hy het teen daardie tyd baie goed op sy herstelpad gevorder. En ons weet dit – ons weet watter wonderwerk God in Johan se lewe verrig het.”

Hestia sê Johan en Dawid het dit geniet om mekaar te ontmoet. “Hulle was maar baie skaam gewees, seker omdat Johan bietjie ouer as Dawid is. Maar dit was goed vir hulle om te ontmoet en mekaar se stories te hoor. Johan was hartseer dat Dawid ná soveel weke nog seer het. Hy het vir my gesê hy weet hy moes eintlik ook so seer gehad het. Ek het hom gevra of hy weet hoekom dit met hom gebeur het. Hy het my in die oë gekyk en gesê: ‘Want die Here gebruik my.’ Hy kan sien hoe vinnig hy herstel het, daarom het ons besluit om ʼn gebedsketting vir Dawid ook te begin en ook vir sý genesing te vra.”

Johan is weer Saterdag in die teater wanneer die dokters sal kyk of sy arm heeltemal toegewerk kan word. “Ons is nog nie seker hoe dinge gaan afloop nie. Die dokter gaan moet kyk of sy vel elasties genoeg is om saam te trek en toe te werk, anders sal ʼn veloorplanting gedoen moet word. Maar ons is dankbaar vir die pad wat die Here tot hier vir ons oopgemaak het en ons weet dat albei seuns binnekort weer hul ou self gaan wees.”

Dawid du Plessis geniet ‘n melkskommel. Foto: Via Facebook / Pray for Dawid

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johan Smit ·

Hallo julle, ek is al verskeie kere deur ‘n slang gebyt. Meeste slange het twee tande soos ‘n haas maar ons hoor nie dat ‘n haas pik nie. ‘n Slang gebruik ook sy onderkaak om te byt. Terloops, ‘n molslang byt seerder as ‘n hond. Hou asseblief by byt soos julle in die kop gebruik?

Mariné Lourens ·

Dagsê Johan

Dankie vir jou kommentaar. Let asseblief daarop dat volgens Skryf Afrikaans van A tot Z is die korrekte taalgebruik om te sê ʼn slang pik, maar die plek waar ʼn slang gepik het, is ʼn slangbyt.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Alida ·

Dankie Maroela dit is 100% korrek. Hy pik en die plek waar gepik is is slangbyt.

Elle ·

Dankie Mariné/ Maroela,
Jul het Johan nou so ewe (met baie grasie boonop) lekker op sy plek gesit.
Sommige Maroela-lesers dink hul is vreeslik slim en baie vinnig om hul eiertjie te lê terwyl hul eie kommentaar deurspek is van foute of wanopvattings.

Lyk my ·

Dit lyk my hier word gepik (gebyt?) op (na) mekaar? Ewenwel dit lyk my ons het hier boesemvriende, waarlik ‘n ‘Dawid en Johanathan’-verhouding! Sterkte aan die twee.

Sue ·

Dis so wonderlik om sulke goeie nuus te lees. n Kennis van Mokopane hier in Limpopo se seuntjie van 10 jaar oud is net laas week begrawe na n boomslang (onder korreksie) hom gepik het. Die slange raak nou regtig baie “mak” die jaar. Ek het nog nooit van so baie slangbyt gevalle gehoor in so n kort tyd nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.