Slangkenner wil duur teengif landwyd versprei

‘n Mosambiekse spoegkobra. (Foto: Johan Marais)

Die Wêreldgesondheidsorganisasie beskou slangbyte as ʼn verwaarloosde tropiese siekte. Dié opvatting word byvoorbeeld weerspieël in feit dat nie alle Suid-Afrikaanse hospitale teengif in voorraad het nie. Dit is boonop ontsettend duur en ʼn logistieke nagmerrie om teengif van ʼn sentrale punt by hospitale uit te kry.

Daarom het Johan Marais, skrywer, herpetoloog en entrepreneur, ʼn nie-winsgewende organisasie gestig om mense wat deur slange gepik word, van teengif te voorsien.

Met behulp van die African Snakebite Institute Foundation (ASI-stigting) wil Marais sowat 25 teengifbanke in Suid-Afrika oprig wat slagoffers geredelik van teengif kan voorsien.

“Ek ontvang weekliks oproepe van hospitale wat ʼn slangbytslagoffer het, maar geen teengif nie. In sommige gevalle kan ʼn slangbyt wat nie behandel word nie, ernstige gevolge vir die slagoffer inhou.”

Volgens Marais is teengif duur en het dit ʼn kort rakleeftyd, dít is waarom dit uiters skaars is, veral in afgeleë gebiede. Volgens hom benodig meeste ernstige slangbytgevalle ses tot 15 ampules teengif, wat tussen R14 500 en R30 000 kan kos.

“Dit is ook byna onmoontlik om die teengif wat by ons kantore in Pretoria is, betyds by ander sentrums in Suid-Afrika uit te kry. Teengifbanke in areas waar daar meer gevalle van slangbyte is, soos KwaZulu-Natal, asook in afgeleë plekke, kan die behandeling van slangbyte in Suid-Afrika merkwaardig verbeter.”

Marais sê uit die geskatte 4 000 tot 5 000 slangbyte wat jaarliks in Suid-Afrika plaasvind, word slegs 1 000 slagoffers in die hospitaal opgeneem. Tussen tien en 12 slagoffers verloor hul lewe en die res doen gewoonlik ernstige weefselskade op of verloor ledemate, maak nie saak of hulle in ʼn hospitaal opgeneem word of nie.

“In gevalle soos dié is dit lewensbelangrik om slagoffers by ʼn hospitaal te kry sodat hulle die regte behandeling kan ontvang. Hoe langer hulle sonder ʼn teengif is, hoe meer weefsel word beskadig,” sê Marais.

Marais hoop om fasiliteite wat ʼn ononderbroke operateursdiens en die nodige toerusting het om die teengif te bestuur en toe te dien, op strategiese plekke te vestig om dié teengif te berg.

Ondanks die Covid-19-pandemie hoop Marais om teengif binne die volgende jaar geredelik beskikbaar te stel in ʼn aantal hospitale, universiteite en ander praktiese fasiliteite regdeur Suid-Afrika.

Die ASI-stigting is besig om geld in te samel by farmaseutiese maatskappye en koöperatiewe belanghebbendes sodat dié teengifbanke genoegsame teengifvoorraad kan hê. Die koste verbonde daaraan om die banke aanvanklik op te stel sal ongeveer R1 miljoen wees indien al die banke 15 flessies veeldoelige teengif en twee flessies teengif vir boomslangbyte het.

Wat om te weet

‘n Pofadder. (Foto: Johan Marais)

Volgens Marais is slange veral tussen November en April ná sonsondergang aktief. Gebiede soos KwaZulu-Natal, Gauteng en die Wes-Kaap teken ook in hierdie tyd die meeste slangbytgevalle aan.

“Die Mosambiekse spoegkobra is verantwoordelik vir die meerderheid ernstige slangbyte in Suid-Afrika, gevolg deur die pofadder. Die meeste sterftes is egter as gevolg van swartmambas en Kaapse kobras. Die meerderheid van slagoffers wat kort nadat hulle gepik is in die hospitaal opgeneem word, sal darem oorleef sonder enige ernstige skade, mits die hospitaal teengif in voorraad het.”

Indien ʼn hospitaal buite jou bereik is, waarsku Marais dat slagoffers nie die gif moet probeer uitsny of uitsuig nie.

“Slanggif bind vinnig aan weefsel en word opgeneem in die limfstelsel. Baie min gif kan deur hierdie metode verwyder word en om die wond te sny kan jou net blootstel aan sekondêre infeksie.”

Volgens die ASI-stigting moet slagoffers eerder kalm en so stil as moontlik bly.

“Beweging versnel die verspreiding van die gif na die limfstelsel. Lig eerder die area wat gepik is effens bo die [vlak van die] hart en probeer om so vinnig as moontlik ʼn ambulans te ontbied. Enige stywe klere of juwele moet ook verwyder word rondom die area wat gepik is. Indien moontlik kan die aangetaste area ook deur drukverbande verbind word, maar slegs wanneer jy deur ʼn swartmamba of ʼn Kaapse kobra gepik word,” lui die stigting se webtuiste.

Marais sê die belangrikste wenk is om nie kosbare tyd te vermors nie.

“Hoe vinniger jy by die hospitaal kom, hoe beter is jou kans om nie permanente skade op te doen of jou lewe te verloor nie.”

Marais het ʼn gratis app genaamd ASI Snakes ontwikkel, met ʼn noodhulp-afdeling wat waardevolle inligting bied oor hoe om ʼn slangbyt doeltreffend te behandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaco ·

Hospitale, veral staatshospitale, word gedwing om net by BEE besighede voorraad aan te koop. So dié wit man se mooi aanbod sal nie ver kom nie.
Tydens Kaapstad se waterkrisis het ‘n entrepreneur ‘n goedkoop ontsoutingsplan aan die nogal DA beheerde Kaapse stadsraad voorgelê. Sy plan sou vinnig AL Kaapstad se waterprobleme oplos. Maar dis afgeskiet omdat hy glo te min BEE en regstellende aksie in sy besigheid toepas.
Tydens vlak 5 van inperking mag wit welsynsorganisasies aanvanklik nie kospakkies aan arm wit mense uitgedeel het nie.
In dié anti-wit SA is dit mos polities korrek dat mense eerder sterf, solank die regte anti-wit protokolle met regstellende aksie en BEE tog net uitgevoer word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.