Slapende leeus net waar jy kyk

Die trop is verdoof en die leeus is blitsig weer teruggeneem na die wildtuin (Foto: SANParks – Kruger National Park, Facebook)

Tien leeus wat Saterdag uit die Krugerwildtuin na ʼn buurplaas ontsnap het, was enkele ure later weer ongedeerd tuis.

Volgens Isaac Phaahla, woordvoerder van SANParke, het veldwagters van die wildtuin Saterdag inligting ontvang oor ʼn trop leeus wat op die plaas Riverside Farm gewaar is. Die plaas grens aan die wildtuin.

“Veldwagters, asook die wildtuin se veeartsdiens en lugvleuel is ontbied om die leeus na die wildtuin terug te neem,” sê Phaahla.

“Veldwagters het in ʼn helikopter oor die plaas gevlieg om die diere op te spoor en altesame nege leeus is uit die lug opgemerk.”

In ʼn gesamentlike poging tussen veldwagters, die veeartse en Riverside Farm is tien leeus eindelik kort na sononder met aas gelok en toe verdoof om hulle veilig na die wildtuin terug te neem.

Die leeus is Saterdagaand net voor 22:00 teruggeneem na die wildtuin (Foto: SANParks – Kruger National Park, Facebook)

“Die leeus was net voor 22:00 veilig terug in hul kamp in die wildtuin.”

Volgens Phaahla het slegs dié tien leeus ontsnap. Die leeus het moontlik onderdeur ʼn heining gekruip en só ontsnap.

“Die wildtuin ondervind tans ʼn droogte en die Krokodilrivier is só laag dat die diere soms onderdeur die heining kan kruip.”

Die wildtuin het almal wat by die reddingspoging betrokke was, geloof vir hul harde werk om die leeus so gou as moontlik na die wildtuin terug te neem.

“Die vinnige reaksie van diegene betrokke het tot ʼn suksesverhaal gelei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Misky ·

Daai 1ste foto lyk dit of die een leeu die ander een voor hom ‘vashou’. Te dierbaar!!!

Ansie ·

Hoop hulle het darem kos en water gekry – net om so bietjie te help.

Frank John ·

Hey, julle dis my leeus wat gaan kuier het, hahaha. Nee, spot sommer, hulle het gaan uit-eet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.