Slegs 20% van SA-rioolwerke wérk

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: David Becker/Unsplash)

Slegs een uit elke vyf rioolwatersuiweringswerke in Suid-Afrika suiwer afvalwater op voldoende wyse.

AfriForum sê die blou-en-groendruppelprojek wat hy jaarliks onderneem, wys dat talle munisipaliteite steeds wetgewing wat ʼn gesonde omgewing vir Suid-Afrikaners verseker, verontagsaam.

Die burgerregteorganisasie sê hoewel vanjaar se uitslae ʼn verbetering in die gehalte van drinkwater toon, is daar steeds dorpe wat nie van skoon, veilige drinkwater voorsien word nie.

Die organisasie het vanjaar die drinkwater (bloudruppel) in 231 dorpe en die verwerkte rioolwater (groendruppel) van 142 rioolwatersuiweringswerke getoets.

Luidens die verslag het vier dorpe, waaronder Hartswater en Wolmaransstad in Noordwes, asook Jan Kempdorp en Kimberley in Noord-Kaap, se drinkwater nie aan nasionale standaarde voldoen nie.

ʼn Skrikwekkende 80% (122) van rioolsuiweringswerke landwyd het nie voldoende gewerk nie.

AfriForum sê hy het die dorpe se munisipaliteite van die probleme in kennis gestel en nadat opvolgwatertoetse gedoen is, was die water weer geskik vir menslike gebruik. Die organisasie sê dit is ʼn aanduiding van die regering en munisipale amptenare se swak dienslewering, veral met betrekking tot rioolaanlegte.

“Die groendruppeluitslae is baie kommerwekkend – veral ten opsigte van swak rioolbestuur – en dit dui op die verdere verval van Suid-Afrika se infrastruktuur. ʼn Tekort aan bekwame personeel om dié infrastruktuur te bestuur en die gebrekkige instandhouding van aanlegte is ook kommerwekkend,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van Omgewingsake.

“Daar is steeds ʼn probleem met die bestuur van rioolafvalwaterbehandelingswerke en dit is ʼn groot bron van kommer dat soveel aanlegte riool in ons riviere stort. In sommige gevalle, soos in Lydenburg in Mpumalanga, loop daar geen water by die rioolsuiweringsaanleg in nie, wat beteken dat die rou riool net so by die pompstasies en mangate uitloop.”

De Klerk sê ʼn verdere bekommernis is dat AfriForum se personeel toegang by aanlegte geweier is.

“AfriForum versoek jaarliks dat die departement van water en sanitasie weer ʼn blou-en-groendruppelverslag bekend maak. Ons verwelkom dus die departement se besluit vroeër vanjaar om weer die blou-en-groendruppelverslag op te stel. Sodra die departement die verslag bekend maak, sal AfriFroum dit noukeurig ontleed.”

De Klerk meen die departement moet nou tande wys en byt waar hy kan om diegene wat besoedel strafregtelik te vervolg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jacobus

En die nuwe burgemeesters het hierdie situasie geërf. Trump het ‘n beter begrip gehad van die SA situasie en is baie kwalik geneem vir sy uitsprake.

Maggies

Sal graag wil weet hoe Bloemfontein se water vergelyk. Die water het n liggeel kleur en is na my mening nie geskik om te drink nie. Persoonlik wil ek dit nie eens in my vistenk gebruik nie.

Mudguard

Die hele land is n rioolaanleg wat nie werk nie.

Keith

This is a disgusting state of affairs, to say the least. Long drops are going to become fashionable one of these day. , but as far as water goes, just don’t let them start recycling sewerage into drinking water, ‘cos then we’ll really be in trouble. If they can’t get river water drinkable… can you imagine ?

Francois

Dubbel K, middel A toestand in RSA