Slegs aanlyn klasse vir universiteite, sê Nzimande

Blade Nzimande, minister van hoër onderwys (30 Junie 2021) (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Blade Nzimande, die minister van hoër onderwys, het Woensdag gesê universiteite en instellings van hoër onderwys sal hul eie akademiese aktiwiteite bestuur kragtens die riglyne en gesondheidsprotokol volgens die gewysigde vlak 4-afsonderingsregulasies om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.

Nzimande het gesê daar word van instansies verwag om seker te maak hul Covid-19-taakspanne is funksioneel en aktief sodat doeltreffende kommunikasie en gesprekke met personeel en studente volhou kan word.

“Ons universiteite sluit nie amptelik nie, maar alle persoonlike onderrig en eksamens word vir die volgende twee weke opgeskort. Onderrig sal eksklusief aanlyn plaasvind vir alle studente,” het hy bygevoeg.

Koshuise bly oop, aangesien dit nie in hierdie stadium vir studente veilig is om huis toe te reis nie en sodat studente van internettoegang op die kampus gebruik kan maak. “Koshuise moet egter volgens die nodige gesondheid- en veiligheidsprotokol bestuur word,” het hy bygevoeg.

Geen massabyeenkomste of enige ander aktiwiteit word toegelaat in koshuise of op kampusse nie. Daar sal ook beheer toegepas word op toegang na kampusse vir noodsaaklike dienste en ander aktiwiteite wat nie opgeskort kan word nie.

“So veel as moontlik personeel wat van die huis af kan werk, moet dit doen,” het Nzimande gesê.

Tegniese en beroepsgerigte opleidingsinstansies

Totdat alle kolleges vandeesweek amptelik gesluit is, sal daar streng aan alle gesondheid- en veiligheidsprotokol voldoen word op alle kampusse (insluitend koshuise, wat oop sal bly).

Kolleges sal van aanlyn leer gebruik maak, soos in 2020.

Die TVET-eksamenkalender sal aangepas word om seker te maak dat studente voldoende voorbereid is vir eksamens en assesserings en nie op enige manier benadeel word nie.

Semester 1 en nasionale beroepsgerigte sertifikaat (NCV)-studente wat tans vakansie het, se klasse hervat op 12 Julie op ʼn rotasiebasis.

Semester 2-registrasies duur voort en klasse begin op 1 Augustus 2021 – onderhewig aan hersiening.

Gemeenskapskolleges sal gelei word deur die departement van basiese onderwys se kalender.

Verwikkelings rondom die Delta-variant

In reaksie op die verhoogde verspreiding van die Delta-variant wêreldwyd, monitor die Netwerk vir Genomiese Waarneming in Suid-Afrika (NGS-SA) Covid-19-gevalle in die land. Volgens Nzimande het die NGS-SA op 25 Junie bevestig die jongste verteenwoordigende gemeenskapstoetse (tot 17 Junie 2021) het daarop gewys dat die Delta-variant beduidend in KwaZulu-Natal toegeneem het en is nou die mees algemene variant in dié provinsie. Dit dui ook daarop dat die Delta-variant vinnig die Beta-variant begin vervang wat sedert die tweede golf dominant was. Die Delta-variant is op 24 April 2021 vir die eerste keer in Suid-Afrika opgemerk. Die Delta-variant is intussen in Gauteng, die Vrystaat, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap aangemeld. Dié variant is nou in meer as 100 lande verteenwoordig.

Nzimande het die Universiteit van KwaZulu-Natal se genomikawaarnemingslaboratorium (Krisp), die nasionale gesondheidsorg se laboratoriumdienste (NHLS) en die Universiteit van Kaapstad bedank wat die jongste bevestigde gevalle van die Delta-variant in Suid-Afrika gemonitor het.

“Dit is nou duidelik dat die nuwe Delta-variant uiters oordraagbaar is en al hoe meer jong mense raak – anders as die vorige (Alpha)-variant. Dit is dus noodsaaklik dat jongmense die ekstra maatreëls in ʼn baie ernstige lig beskou,” het Nzimande bygevoeg.

Getuienis van die Verenigde Koninkryk bewys dat entstof doeltreffend bly solank as wat die volledige inentingskedule ontvang word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anel ·

Daar is al genoem dat daar hier iewers die E variant ook al ontdek is. So wanneer gaan dit nou stop. Eers as al die letters van die alfabet op gebruik is, of wat?

casper ·

Wat verstaan die perd nie ???
Hoe doen jy as mediese student you praktiese opleiding aanlyn ???
Die 2 weke word 2 maande en dan is hulle ‘n jaar agter !!
IDIJIT !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.