‘Slegs aksie kan SA omkeer’ – Herman Mashaba

Herman Mashaba, president van ActionSA onthul die verkiesingsplakkaat vir 2024 (Foto: ActionSA)

Herman Mashaba, president van ActionSA, sê dit is slegs aksie wat die regerende party uit die kussings kan lig om dit met ʼn regering te vervang wat die behoeftes van Suid-Afrika eerste stel.

Mashaba het Vrydag ActionSA se verkiesingsplakkaat by die Carlton-sentrum in Johannesburg onthul.

“Vanjaar het ons die geleentheid om iets nuut te probeer. Maar ons kan dit nie doen as ons leunstoel-kritici is of as ons op ons hande sit nie. Dit het ek besef toe ek in 2015 die politiek betree het. Ek het die besluit geneem om iets te doen, en vandag vra ek julle om dieselfde te doen.”

Hy sê teenstrydig met dit wat sommige mense ons wil laat glo, hoef Suid-Afrikaners nie gered te word nie. “In ʼn demokrasie is burgers nie hulpelose slagoffers wat wag om gered te word soos drenkelinge ter see nie. Nee, Suid-Afrikaners is sterk en veerkragtig en het die vermoë om besluite te neem wat hul toekoms kan bepaal. Hulle het die mag om Suid-Afrika te herstel as hulle aksie neem. Dit is slegs aksie wat Suid-Afrika kan red.”

Herman Mashaba, president van ActionSA onthul die verkiesingsplakkaat vir 2024 (Foto: ActionSA)

Mashaba sê dit was gewone Suid-Afrikaners wat aksie geneem het toe hulle deur die grootste krisisse in die gesig gestaar is. “In ʼn tyd van ʼn mislukkende regering het ondernemende, hardwerkende en innoverende burgers en die privaat sektor ingegryp om op te staan teen die Covid-19-pandemie. Hulle het slaggate herstel, krag opgewek en hul gemeenskappe teen misdaad beskerm. Dit is slegs aksie wat Suid-Afrika kan red.”

Hy sê aksie moet nou geneem word om vir ʼn nuwe regering te stem wat beurtkrag kan beëindig, die regsorde kan herstel, die ekonomie kan laat groei en miljoene nuwe poste kan skep.

“Ons kan nie ʼn ander uitslag verwag as ons dieselfde ding bly doen nie. Ons kan nie verwag dat dinge dalk sal verander as ons steeds vir die regerende party bly stem nie. Ons moet dapper wees en ʼn nuwe alternatief oorweeg wat Suid-Afrikaners sal verenig met die gemene doel om die land, wat ons liefhet, te herstel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.