Slegs dié wat ingeënt is, welkom by Plett Rage

Die organiseerders van die Plett Rage in Plettenbergbaai het aangekondig dat hulle beoog om voort te gaan met vanjaar se gewilde matriekfees (Foto: Plett Rage, Facebook)

Die organiseerders van die Plett Rage in Plettenbergbaai het aangekondig dat hulle beoog om voort te gaan met vanjaar se gewilde matriekfees. Matrieks sal egter nie die fees mag bywoon indien hulle nie kan bewys dat hulle negatief vir Covid-19 getoets het en ingeënt is nie.

Duisende mense het aan die begin van die jaar Covid-19 opgedoen ná ʼn soortgelyke fees in Ballito.

Volgens Ronen Klugman, stigter van Plett Rage, kan matrieks nou al vir die fees registreer. ʼn Amptelike besluit of die fees wel voortgaan, sal eers ʼn maand voor die fees bekendgemaak word. Dié besluit sal afhang van hoe die Covid-19-statistieke dan lyk.

Die fees is vanjaar in twee naweke opgedeel. Klugman sê dit is om die getal feesgangers te beperk.

Die eerste naweek sal van 3 tot 6 Desember en die tweede naweek van 8 tot 11 Desember plaasvind.

Klugman sê slegs deelnemers wat ingeënt is, sal die fees mag bywoon. Die organiseerders sal ook van feesgangers verlang om voor die aanvang van die fees vir ʼn Covid-19-toets te gaan. Slegs diegene met ʼn negatiewe toets sal op die feesterrein toegelaat word.

“Ons sal ook elke dag die feesgangers by die fees toets en die nodige Covid-19-voorskrifte streng toepas,” het Klugman gesê.

Maroela Media het vroeër berig dié gewilde fees – wat van 29 Januarie tot 6 Februarie vanjaar sou plaasvind – is gekanselleer nadat plaaslike owerhede se aanbevelings, openbare druk en ʼn versoek van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) in ag geneem is.

Byna 1 000 matrieks wat die Ballito Rage van 27 November tot 4 Desember in Ballito bygewoon het, het ná die fees positief vir Covid-19 getoets.

Dr. Zweli Mkhize, destyds minister van gesondheid, het die fees as ʼn sogenaamde superverspreider-byeenkoms bestempel. Mkhize het ook gesê dit is ʼn duidelike bewys dat groot byeenkomste waar alkohol gebruik word, ʼn groot risiko is en pogings om die verspreiding van Covid-19 te beperk,  ondermyn.

“Verlede jaar se besluit om die fees te kanselleer, was een van die uitdagendste en mees ingewikkelde besluite wat ons as organiseerders moes neem. Dit was ongetwyfeld die regte besluit – hoewel dit groot implikasies vir ons onderneming ingehou het,” het Klugman gesê.

“Ons het besluit om met vanjaar se fees voort te gaan en het aan oplossings gedink om die mees realistiese en veiligste fees onder die huidige inperkingsregulasies vir feesgangers te bied.”

Volgens Plett Rage se Facebookblad kan kaarthouers die volle bedrag vir hul kaartjies terugeis, sou hulle ʼn maand voor die eerste naweek van die fees besluit om dit nie meer by te woon nie. Besprekingsgeld is egter uitgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.