Slegs een ‘negatiewe bevinding’ teen Robbeneiland-museum

‘n Lugfoto van Robbeneiland vanaf Tafelberg. (Foto: Jeanine Smal/Pixabay)

Die Robbeneiland-museum sê ʼn onafhanklike ondersoek wat na bewerings van wanbestuur by die museum gedoen is, het net een negatiewe bevinding oor 22 bewerings gemaak wat aanvanklik ondersoek is.

Die staatsprokureur het MacRobert-prokureurs in Junie verlede jaar aangewys om die bewerings te ondersoek en die museum se raad van ʼn geskrewe verslag van sy bevindings, asook regsadvies te voorsien oor of daar enige gronde is om stappe – tugstappe of andersins – teen enige van die museum se amptenare te doen.

Nog bewerings is deur die loop van die ondersoek onder die museumraad se aandag gebring. Dit het onder meer verband gehou met bewerings van nepotisme, swak prestasie deur die museum se bestuur, die diefstal van intellektuele eiendom en die swak bestuur van die veerboot.

“Dit was uit die staanspoor die bedoeling van die raad om die bevindings van die verslag bekend te maak. Wat betref die bykomende bewerings wat ondersoek is, kan ons verslag doen dat die onafhanklike ondersoek geen gronde vir verdere ondersoek gevind het nie. Daar was geen bewyse om die bewerings te staaf nie,” sê Khensani Maluleke, voorsitter van die Robbeneiland-museum.

“Ons hoop dat die bevindings die negatiewe narratief wat deur sekere aandeelhouers voortgesit is, sal stopsit.”

Luidens die verslag is daar wel aanbeveel dat tugstappe teen twee van die museum se amptenare gedoen word. Die staatsprokureur het reeds ʼn voorsitter hiervoor aangewys en die dissiplinêre proses behoort binne die volgende paar weke te begin.

“Weens die voortgesette tugproses en uit respek vir die amptenare en moontlike getuies betrokke, asook vir die dissiplinêre proses in die geheel, kan geen verdere inligting in hierdie stadium bekend gemaak word nie.

“Ons bly verbind tot deursigtigheid en die afhandeling van die dissiplinêre proses en/of enige ander regstappe wat daarmee verband hou. Daarom sal die uitslag mettertyd bekend gemaak word,” sê Maluleke.

Die verslag het ook aanbevelings aan die raad gemaak om sekere tekortkominge in verskillende departemente van die museum reg te stel. Die aanbevelings sluit in gesprekke met betrokke rolspelers, die hersiening van beleid en beraadslaging met die minister van sport, kuns en kultuur.

Maluleke sê dié aanbevelings is reeds in werking gestel.

“Dit sal die Robbeneiland-museum in ʼn veel sterker posisie in die toekoms plaas en verseker dat dit die wêreldberoemde Wêrelderfenisterrein bly waarvoor dit bekend geword het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anel

Ja, nê. En hoe word die kaders weer beskerm!

marius

Is die staatsprokureur te sleg om hul eie ondersoeke te doen?

Sarel

Die ouens wst die ondersoek gedoen het was asngestel
Deur die Staat…..jammer iets ruik nie lekker nie