Slegs een werkende veldhospitaal vir Gauteng, Oos-Kaap

‘n Veldhospitaal in Kaapstad. (Foto: Courtney Africa/ANA)

Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, het Donderdag in die parlement onthul dat daar tussen Gauteng en die Oos-Kaap slegs een behoorlike veldhospitaal is. Hierdie twee provinsies toon tans die skerpste toename in Covid-19-gevalle en -sterftes.

Gauteng, wat die huidige episentrum van Covid-19 is, het onlangs die Nasrec-fasiliteit bekendgestel wat tans as ʼn kwarantynfasiliteit gebruik word, eerder as ʼn volledige veldhospitaal.

Siviwe Gwarube, DA-LP en woordvoerder oor gesondheid, sê in hierdie stadium is die Nasrec-fasiliteit nie toegerus om ʼn veldhospitaal te wees nie. Sy sê die belangrikste verskil tussen ʼn kwarantynfasiliteit en ʼn veldhospitaal is die teenwoordigheid van hospitaalbeddens, suurstoftoevoer en personeellede.

“Die provinsie het ʼn hospitaal nodig wat die druk op die hospitale wat tans hul volle kapasiteit bereik het, te kan verlig,” sê Gwarube. Mkhize het in die parlement bevestig die Nasrec-sentrum sal binnekort met meer toerusting en personeellede toegerus word om dit ten volle funksioneel as veldhospitaal te maak.

Die Oos-Kaap beskik oor ʼn veldhospitaal wat deur die privaat mediese sektor aan die departement van gesondheid geskenk is. Die provinsie se gesondheidstelsel is egter besig om in duie te stort met mediese fasiliteite wat nie oor genoeg kapasiteit beskik nie, onvoldoende ambulanse in gebiede soos Nelson Mandelabaai-metro en chroniese personeeltekorte.

Gwarube sê Mkhize moet die Oos-Kaap dringend ingevolge artikel 100 van die Grondwet onder administrasie plaas om sodoende ʼn operasionele span saam te stel wat die situasie sal red voordat nog meer mense aan Covid-19 in die provinsie omkom.

Intussen het Jack Bloom, die DA se woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, sy kommer uitgespreek oor die gerugte van suurstoftekort in hospitale in Gauteng. Hy sê die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg het onder meer ʼn tekort aan suurstof vir pasiënte.

“Volgens prof. Francois Venter van die Universiteit van die Witwatersrand kon die Gautengse departement van gesondheid nie daarin slaag om voldoende suurstof aan openbare hospitale en klinieke te verskaf nie,” sê Bloom.

Volgens Bloom word suurstof tussen pasiënte wat dit broodnodig het, gedeel. “Van die pasiënte word vir ʼn uur suurstof toegedien terwyl ander pasiënte dan in daardie uur glad nie suurstof kry nie,” sê hy.

Hy sê daar word nou eers suurstofpunte by beddens in die Nasrec-sentrum gesit.

“Die verskaffing van suurstof deur ʼn masker of deur die neus het talle Covid-19-pasiënte al gehelp om sonder ʼn ventilator asem te haal,” sê Bloom.

Mkhize het verder in die parlement bevestig dat Limpopo, Noord-Kaap en Mpumalanga teen einde Junie oor nog geen veldhospitaal beskik het nie. Die Wes-Kaap is die enigste provinsie waarin alle beplande veldhospitale voltooi is. Dié hospitale beskik oor 1 268 beddens.

Gwarube sê die DA het die regering se strategie ondersteun om die land onder 21 dae van landwye algehele afsondering te plaas om sodoende hospitale vir die infeksievlaag voor te berei. “Dit word egter al hoe duideliker dat die amper 100 dae van afsondering vermors is omdat die regering nie die tydperk benut het om die hospitaalkapasiteit doeltreffend op te bou nie,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Nou dat die Covid-19 pawpaw die waaier rerig erg begin slaan, kan jy sien daar is agt provinsies in SA in ANC beheer, en een in DA beheer. Kan jy ooit sien dat die Wes-Kaap sal R10,1 miljoen spandeer op ‘n motorfiets met ‘n mandjie aan?

Willem

En lockdown was dat hulle hierdie hospitale moes gereed kry. Maar nee nuwe karre koop is eerste prioriteit

Frans

Coverment kanie eers n behoorlike braai reel ma stem sal hule vir hule stem

Persheks

Hulle kon BAIE hospitale al gebou het indien hul die sigaret se belasting geld nie weg gegooi het nie, maar nee NDZ en haar kinders skep steeds. Hoe nou?

Abri

Die regering se die hele tyd dat lockdown effektief was, want dit het vir ons waardevolle tyd gekoop. Wat het al die provinsies behalwe die Wes kaap om te wys vir daardie waardevolle tyd? 10 miljoen rand se scooters…..met toeters