‘Slegs Engels’ skend wel Maties se regte

(Foto: Universiteit Stellenbosch/Facebook)

Matiestudente wat twee jaar gelede verbied is om Afrikaans in hul koshuiskamers, op WhatsApp óf selfs die parkbankies voor hul koshuis te praat, se basiese menseregte is destyds gruwelik geskend.

Nie net is dié studente se reg op vryheid van spraak; taal en kultuur; gelykheid én menswaardigheid geskend nie, maar was die omstrede koshuisbeleid in die naam van inklusiwiteit ook in stryd met die US se taalbeleid van 2016.

Só het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) eindelik beslis nadat die VF Plus en die DA ʼn klag oor die verbod op Afrikaans tydens die Universiteit Stellenbosch (US) se verwelkomingsweek in 2021 ingedien het. Die verbod is in sommige van die universiteit se koshuise toegepas.

Die MRK versoek nou dat prof. Wim de Villiers, rektor van US, ʼn skriftelike openbare verskoning aan studente rig en onderneem dat geen student ooit weer verhoed sal word om in ʼn bepaalde taal te kommunikeer nie.

Dr. Leon Schreiber, die DA se kiesafdelingshoof op Stellenbosch, het gevolglik ʼn dringende mosie van wantroue in De Villiers ingedien vir sy versuim om aandag te gee aan die vergrype. Volgens Schreiber het De Villiers “persoonlik tydens sy getuienis voor die kommissie probeer ontken dat hierdie menseregtevergrype plaasgevind het”.

(Foto: Universiteit Stellenbosch/Facebook)

Maroela Media het destyds berig studente van minstens vier universiteitskoshuise is deur seniors gedwing om Engels te praat vir die doel van inklusiwiteit.

“Die realiteit is egter dat keuse van taal onlosmaaklik verbind is aan die reg tot vryheid van spraak,” sê Chris Nissen, ʼn kommissaris van die MRK.

Nissen het ook daarop gewys dat elkeen ingevolge artikel 30 van die Grondwet die reg daarop het om die taal van sy of haar keuse te praat en betrokke te raak by die kultuur van sy of haar keuse.

“In hierdie geval het inklusiwiteit ten alle koste gelei tot uitsluiting op ʼn wyse wat onbillike diskriminasie en ander menseregteskendings tot gevolg gehad het.”

“Indien ʼn persoon veral deur ʼn gesagsfiguur of struktuur, gedwing, genoop, of onder druk geplaas word om ʼn ander taal as hul huistaal te praat, kom dit neer op ʼn beperking van die reg op vryheid van uitdrukking.”

Nissen sê die reg op vryheid van uitdrukking kan slegs beperk word deur die Wet op Gelykheid se verbod op diskriminasie, haatspraak en teistering. “Daar is egter geen bewyse dat die gebruik van Afrikaans in koshuise dié wet oortree het nie.”

Die MRK het gevolglik bevind dat die beleid deur die US se koshuise “nie net onredelike en onuitvoerbare uitkomste tot gevolg gehad het nie, maar in werklikheid absurde en ontstellende uitkomste, insluitend onredelike en onregverdigbare beperkings van ʼn aantal menseregte veroorsaak het.”

De Villiers is nou deur die MRK aangesê om in die openbaar verskoning aan studente te vra en te erken dat die universiteit verantwoordelik is vir die gedrag en beleid van sy koshuise. Die US word ook versoek om binne die volgende 14 dae ʼn skrywe aan die leierskap van sy koshuise te rig waarin hulle uitdruklik aangesê word om nooit weer slegs Engels of soortgelyke taalbeleid te implementeer nie.

(Foto: Universiteit Stellenbosch/Facebook)

‘Tot hier toe en nie verder’

Schreiber bestempel die uitspraak as ʼn reuse-oorwinning vir taalregte.

“Vir die heel eerste keer in ons demokratiese geskiedenis het ʼn grondwetlike instelling nou ʼn streep in die sand getrek teen die ondermyning van Afrikaanse taalregte. Deur hierdie oorwinning stuur die DA ʼn duidelike boodskap nie net aan die US-bestuur nie, maar ook aan Afrikaans-haters soos Panyaza Lesufi: Tot hier toe en nie ʼn sentimeter verder nie.”

Heloïse Denner, woordvoerder oor kuns en kultuur van die VF Plus, sê hierdie uitspraak bring Suid-Afrika nader aan die internasionale norm waar die menseregtekultuur gerig word deur die erkenning dat persoonlike identiteit in groepsidentiteit geanker is.

Die organisasie StudentePlein het Woensdag gesê hy gaan ernstige stappe doen om die US streng verantwoordbaar te hou vir die vyandiggesindheid jeens Afrikaans, Afrikaanse studente en veeltalige omgewings by die universiteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JohanR ·

Het altyd gedink wat Wim de Villiers meer besig is by US is onwettig. Elf amptelike tale en net Afrikaans word uit gesonder……EN US was nog altyd as ‘n Afrikaanse universiteit beken.

Harley Davidson ·

Wanneer jy by die dorps biblioteek is moet jy hulle reël gehoorsaam waneer jy jou eie biblioteek het maak jy die reëls, ondersteun Afriforum sodat hulle nog 4 Afrikaanse universiteite kan bou waar hulle die reëls maak en laat die ANC universiteite doodbloei.

Frank ·

Vreemd dat die DA so ophef hieroor maak terwyl hulle self ook lustig meedoen aan diskriminasie teen Afrikaans en DA Raadslid selfs mense met blatante kwaadwillige leuens opstook teen iemand wat dit waag om daaroor te kla

Cherokee ·

Frank… ek plaas die DA op ‘n skaal. Hulle het leuens vertel toe ‘n onderwyseres klein kindertjies by hul eie maatjies gegroepeer het, en daar is heelwat meer in daardie trant. Maar wanneer ek kyk wat die DA die afgelope tyd doen, ondermeer ter wille van Afrikaans, dan begin ek hulle goedsgunstig aanvaar. En wanneer ek oplet hoe die VF+ sake soos hierdie verbykyk, dan wonder ek of ek my kruisie op die regte plek trek.
Heloïse Denner, woordvoerder oor kuns en kultuur van die VF Plus, behoort ten minste dankie te gesê het vir die DA. Die DA is nie meer die Sappe, die destydse rooinekparty nie. Vele Afrikaanssprekendes skaar hulle ook nou daar, veral na hulle ‘n nuwe dinamiese leier het.

Andre ·

Nog nooit veel van US gedink nie. Grootliks uit Afrikaanse fondse tot stand gekom maar nou moet Afrikaans uit. Gelukkig is daar opsies soos Akademia wat van krag tot krag gaan.

Nettie ·

Baie, baie dankie aan elke rol speler! Dis wonderlik!! Ek is dankbaar die MRK het vir eenmaal ook in ons guns beslis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.