Slegs vyfde van salaris vir sommige Denel-werkers

Werkers by Denel Land Systems (DLS), ʼn afdeling van die wapenvervaardiger Denel, kry vandeesmaand weereens nie hul volle salarisse nie.

In ʼn brief aan werkers wat Vrydag uitgestuur is, sê Mxolisi Makhatini, uitvoerende hoof van DLS, gegewe die afdeling se kontant in die bank, asook sy wetlike betalingsverpligtinge, verpligtinge teenoor verskaffers en voortgesette operasionele vereistes, sal werkers net 20% van hul Mei-salarisse ontvang.

“Die maatskappy sal die betaling van die mediesefonds-bydrae en die risikogedeelte van die pensioenfonds betaal,” lui Makhatini se brief.

Hy sê voorts terwyl die maatskappy se likiditeitsprobleme vererger, gaan die betaling van salarisse in die komende maande waarskynlik moeilik wees.

“Die bestuur sal voortgaan om met werkers te vergader oor bedrywighede wat onderneem kan word om kontant in die volgende paar maande te vermeerder.

“Ons vra vir julle buitengewone begrip en voortgesette steun terwyl ons hierdie ongekende storm trotseer,” sê Makhatini in die brief.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het verlede week in sy begrotingstoespraak gesê Denel skuld sy werkers sowat R500 miljoen en salarisse is in Mei verlede jaar die laaste keer ten volle betaal.

Denel is intussen steeds besig om sy omkeerplan in werking te stel en die maatskappy op só ʼn manier te probeer herstruktureer dat dit volhoubaar en winsgewend is.

Helgard Cronjé, adjunkhoofsekretaris van die openbare bedryf by Solidariteit, sê verskillende afdelings by Denel verdien verskillende inkomste en betaal salarisse na gelang van die beskikbare kontantvloei.

Cronjé sê werkers trek nou weereens aan die kortste ent.

“Georganiseerde arbeid doen wat hy kan. Daar was reeds hofsake, protesoptredes, briewe aan die minister en ʼn vergadering met die raad.

“Politieke leiers gaan uiteindelik ʼn besluit moet neem en die proses oor Denel se toekoms gaan bespoedig moet word ter oorlewing van die maatskappy én die mense.”

Hy sê daar is nog geen aanduiding wanneer werkers die res van hul uitstaande salarisse sal kry nie.

“Elke maand gaan dit eksponensieel slegter. Solank Denel nie ʼn kapitale inspuiting kry nie – van die staat óf van private beleggers af – kan hy nie werk inneem nie, want daar is byvoorbeeld nie geld om materiaal aan te koop nie.”

Gordhan het verlede week in sy begrotingsrede gesê groot finansiële en operasionele uitdagings staar Denel in die gesig, maar die sogenaamde Ekonomiese Rekonstruksie- en Herstelplan het die verdediging- en lugvaartbedryf geïdentifiseer as ʼn sleutel tot ekonomiese groei.

Die meesterplan vir die verdediging- en lugvaartbedryf is ook verlede jaar gefinaliseer.

Volgens Gordhan het Denel bestellings van R11 miljard, maar kon hy tot dusver nie die nodige kapitaal of steun van verskaffers kry om die kontrakte af te handel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Rian ·

Watter omkeerplan wil jy bekend stel na die pek tot in die afgrond geplunder is?

Skyspy007 ·

Nou hoekom gaan julle nog “werk” toe….kry ander werk en wys hulle die vinger….PATETIES verby!!

SwartBees ·

Ongelukkig is my vel die verkeerde kleur, orals klap deure in my gesig toe. Asseblief gee my n werk en ek sal hom gryp met altwee hande. Glo my ons wil almal BAIE graag vir hulle die vinger wys.

Boer ·

Werk is baie skaars en my vel kleur laat dit nie toe om ander werk te kry nie. Ek wil bitter graag hulle die finger wys.

Marita ·

Gordon stel net belang om SAL in die lug te hou want verseker trek hy baaaaaie voordeel uit die staatkas om SAL te bevonds….. Dit is tyd dat daar weg gedoen word met ministers en regering se kabinet wat hulself verryk en die landsburgers se belange verontagsaam…..

Pieter ·

Betaal gordhan en al die sleg menisters net die helfte van hulle selaris. Daar is niks in die anc land wat nog reg werk nie tot die regstelsel is al n grap.

Anon ·

Lê beslag op die top bestuur se bates en verkoop dit, sny hulle salarisse met 90% of en gee die werkers verligting.

Ian ·

Hierdie is n absolute skande. Pravin wat n minister genoem word ken nie die eerste ding van bestuur af nie. Dis net n magspel met geld vir hom. Sies man!!! DENEL was van die top wapen ontwikkelaars in die wereld en nou tot in die grond in afgebreek om BEE se naam en rassisme.

Willem ·

Kan iemand vir ons laat weet watter persentasie van Denel se topbestuur se salarisse is by die onbetaalde bedrag ingesluit?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.