Slegs Wes-Kaapse skole heropen Maandag

(Argieffoto: Unsplash)

Slegs skole in die Wes-Kaap sal Maandag vir gr. 7- en gr. 12-leerders heropen. Die res van die land se leerders in dié ouderdomsgroep sal eers volgende Maandag (8 Junie) terug op die skoolbanke wees.

Die departement van basiese onderwys het die hersiende datum Sondagaand in ’n verklaring bevestig nadat Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, se mediakonferensie wat veronderstel was om vanaand plaas te vind, vroegaand uitgestel is.

Elijah Mhlanga, woordvoerder vir die departement, het gesê die ekstra week sal gebruik word vir die behoorlike oriëntering en opleiding van onderwysers en om die betrokke skole in te rig wat nie in dié stadium gereed is om leerders eerskomende Maandag terug te verwelkom nie.

Luidens die verklaring het die departement wel van skole verneem wie se leerders klaar terug by die koshuis ingetrek het. “Ons doen ’n beroep op die skole om voort te gaan met die oriëntering van die leerders ten opsigte van die gesondheids- en veiligheidsprosedures wat ingestel moet wees,” het Mhlanga gesê.

Debbie Schäfer, minister van onderwys in die Wes-Kaap, het egter gesê dié provinsie is slaggereed om sy leerders terug op die skoolbanke te verwelkom. “Ons kan nie langer toelaat dat ons skole in onsekerheid verkeer nie,” het Schäfer in ’n verklaring gesê.

Volgens Schäfer het die Wes-Kaapse departement van onderwys R280 miljoen aan persoonlike beskermingstoerusting en skoonmaakmiddels bestee. Dit sluit in 2,4 miljoen maskers, meer as 7 000 digitale termometers en miljoene liters handreiniger en ontsmettingsmiddels.

Schäfer het gesê skole in die Wes-Kaap sal die komende week hoofsaaklik gebruik vir die oriëntasie van leerders in die nuwe Covid-19-veiligheids- en leeromgewing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Willem ·

Pragtig Wes Kaap trots op julle en die hardwerkende onderwysers . Jul stel n voorbeeld vir die res van die land.

Landi ·

Werk al die Weskaapskole nou op n tiendagrooster, waarvan die leerders al om die ander dag skool toe gaan? Dus net 5 vd 10 dae met ‘n dag tuis tussenin.

Francois ·

Dit is hoekom die ANC die Kaap probeer sleg maak want die Kaap werk

Pampoenboer ·

Duidelike verskil tussen werkende en luigat ministers. Bou n muur by die Oranje rivier

marius ·

Ons skool is al weke gereed . Dis die verdomde regering wat niks kan reg doen nie . Patete !

Chantel ·

Dis sommer twak, ons skole in die Vrystaat is ook gereed, alreeds 2 weke. Ons onderwysers, hoofde en beheerliggame het hard gewerk. HOEKOM kan ons nie ook dan terug keer nie. SWAK

Hennie ·

Nou ja toe, wys net weereens hoe onbeholpe en onbekwaam die ANC is. Wel gedaan… Wes Kaap!

Vrystaat2109 ·

Weereens bewys!! DA beheer,hulle is IN beheer.
Well done.????️julle is ysters.

Willem ·

Die unies sadtu en sy maats wil nou die Wes Kaap aanvat omdat hulle skole gereed is. Raak nou belaglik

Cleopatra69 ·

DA area, maar feite is dat daar 2 maande was waarin alles reggekry kon word, maar die onderwysers het eerder lekker verlof gehad met betaling en nou weier hulle ook om langer ure te werk omdat hulle te veel werk het. Tipies

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.