Slenkdalkoors – die donker kant van mildelike reën

Boere kan slenkdalkoors verhoed as hulle betyds hulle vee daarteen inent

Mense in die dorre dele van Suid-Afrika wat al vergeet het hoe lyk riviere wat vloei, kon die afgelope paar weke nie hulle opgewondenheid beteuel nie. Video’s van donderende, bruin massas en uitgestrekte plate water is oral op sosiale media versprei. Hierdie wydverspreide, tydelike oppervlaktewater hou egter ʼn potensiële en groot gevaar in.

Wanneer groot volumes staande water in Februarie voorkom, is die kans groot dat slenkdalkoors kan uitbreek. Hierdie dodelike virus word deur die Aedes- en Culex-muskietspesies na mense en diere oorgedra en hoe meer water daar is, hoe meer muskieteiers sal uitbroei, wat die kanse vir ʼn uitbreking dramaties verhoog.

Daar is ook ʼn neiging dat slenkdalkoors ná ʼn droogte van vyf tot tien jaar voorkom. Groot dele van die Noord-Kaap en Vrystaat is dus ideale potensiële episentrums. Nog ʼn faktor is dat muskiete wat draers is van die slenkdalkoorsvirus maklik van gebiede buite Suid-Afrika suidwaarts kan versprei tydens gunstige klimaatstoestande.

Slenkdalkoors kom hoofsaaklik in Afrika en die Arabiese Skiereiland voor en einde verlede jaar het die siekte in verskeie lande in Noord-Afrika uitgebreek – elke keer aan die einde van ʼn hewige reënseisoen en oorstromings.

In November is Kenia getref. In ʼn verslag uitgereik deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het 21 mense slenkdalkoors opgedoen en nege van hulle is dood. Al die slagoffers was veeboere tussen 13 en 70 jaar oud.

Tussen 13 September en 1 Oktober verlede jaar het daar ook swaar reën en oorstromings in Mauritanië voorgekom en 25 mense is dood.

In Oktober is 1 962 gevalle in Soedan aangemeld van wie 79 mense gesterf het. Drie gevalle van ernstige senuweestelsel-komplikasies het ook voorgekom.

Mense kan slenkdalkoors opdoen as hulle aan besmette diere vat

Wanneer mense aan besmette diere of vleis vat, of selfs besmette diere se ongepasteuriseerde melk drink, kan hulle die siekte opdoen. Veeartse, boere, veewagters, plaaswerkers asook slagpale- en slaghuiswerkers is dus veral kwesbaar. Die siekte het ʼn sterftekoers van 0,5 tot 5% en as dit met dié van Covid-19, wat tans 2% is, vergelyk word, is dit iets om erns van te maak. Die simptome van slenkdalkoors kan spierpyn, kouekoors, vomering, bloederige urine, donker stoelgang, ligsensitiwiteit, swak sig, rugpyn, gewrigspyn, hoofpyn en koors wees. Blindheid, neurologiese komplikasies en lewerskade kan permanente gevolge wees. Honde en katte kan ook die virus opdoen as hulle die vleis van besmette diere eet.

Die beroep op boere in die geledere van landbou-organisasies is duidelik en ondubbelsinnig: Ent jou diere nou in.

Die Nasionale Dieregesondheidsforum (NAHF), die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), die Melkprodusente-organisasie (MPO), die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) en die departement van landbou, bosbou en visserye (DAFF) het almal in die afgelope paar dae in hul kommunikasie met boere ʼn beroep op die sektor gedoen om hulle vee dringend in te ent.

Wolboere sal boonop ernstige ekonomiese skade ly as slenkdalkoors sou uitbreek, want enige uitbreking sal veroorsaak dat woluitvoere na Sjina van die distriksmunisipaliteit waar die uitbreking voorgekom het, vir 92 dae verbied word. Dit geld ook vir wol wat reeds geskeer en op die plaas gestoor was ten tyde van die uitbreking.

Boere kan ook nie wag vir die eerste geval voordat hulle begin inent nie. Sodra die siekte eers sy kop uitsteek, kan die kontak met die diere en inentings wat inderhaas gedoen word die siekte net vinniger laat versprei. Persone wat wel met aangetaste en dooie diere moet werk, kan hulself beskerm deur byvoorbeeld handskoene en gesigsmaskers te dra.

Mense sal eers veilig teen slenkdalkoors wees as daar ‘n entstof vrygestel word. Die Larissa-projek in Nederland is besig om goeie vordering daarmee te maak

Vir mense is daar nog nie ʼn entstof teen slenkdalkoors beskikbaar nie, maar daar is positiewe verwikkelinge. Die Wageningen-universiteit in Nederland werk tans saam met Ceva-dieregesondheid en BunyaVax deur die Larissa-projek om ʼn doeltreffender entstof vir dragtige diere te ontwikkel. Dieselfde tegnologie word ingespan om ook ʼn entstof vir mense te ontwikkel. Die eerste kliniese toetse op mense sal later vanjaar gedoen word.

Die afgelope jaar het ons virus-slim geword en kan ons uit die Covid-19-ramp leer hoe om ons ander onsigbare vyande betyds in die kiem te smoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ann ·

“Die afgelope jaar het ons virus-slim geword en kan ons uit die ramp leer hoe om onsigbare vyande in die kiem te smoor.”
Ek is jammer, maar die bogenoemde stelling is niè van toepassing op boere nie. Boere ent al vir baie jare hul diere teen enige siektes wat mag kop uitsteek. Hulle het nie nou in die jaar wat verby is, dit eers begin doen nie.
Doen eers navorsing voor julle sulke stellings maak.
Die enigste rede waarom boere nie ent nie, is wanneer die entstof nie beskikbaar is nie.

Maggies ·

Ons boere was nog altyd paraat met hulle entstof vir hulle diere. Mense moet maar net bedag wees en hul diere spuit. Maar na die brande, vloede en alles waardeur hulle is, wonder ek of daar vir almal geld is vir daardie entstof.

Semaanet ·

Ons weet ons boere is paraat, maar ons weet ook dat hulle ekonomies swaar dra. Kan ons agriforum of ander betroubare organisasies nie asb a projek loots waarby ons mense solank kan bydrae en entstowe kan begin regkry nie? As ons op d regering gaan wag, sal dit te laat wees.
So kan ons saam staan asb mense, boere is d kwesbaarste groep en as ons toelaat dat hulle ondergaan is ons land nog meer in sy peetjie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.