Slenkdalkoors – wekroep vir SA boere

skaap

Foto: Dan Hamill/Pexels.com

Die owerhede in Kenia het onlangs ʼn waarskuwing oor ʼn moontlike slenkdalkoorsepidemie in dié land uitgereik.

Dr. Peter Oberem, uitvoerende hoof van die dieregesondheidsfirma Afrivet, het gesê dit moet ʼn wekroep vir Suid-Afrikaanse boere wees, veral nadat 250 van ʼn trop van 600 skape in Mei op ʼn plaas in Jacobsdal in die Vrystaat ook van die siekte gevrek het.

Volgens ʼn verklaring van die departement van landbou, bosbou en visserye was dit die enigste plaas waar die siekte aangemeld is. Die departement het die voorval aan verhoogde reënval in die omgewing toegeskryf, wat ʼn toename in muskiete veroorsaak het.

Slenkdalkoors word deur ʼn virus veroorsaak wat deur muskiete oorgedra word. Muskiete is natuurlik onaktief in koue weer, maar omdat hulle reeds op bloed van ʼn besmette dier gevoed het, beteken dit as die somer kom, kan swerms van die insekte as aktiewe draers van die siekte optree.

Die departement het die voorval as ʼn geïsoleerde geval beskryf en gesê koue weer sal die risiko vir verspreiding verminder. Hulle het egter gewaarsku die risiko vir nog soortgelyke gevalle kan weer aan die begin van die somer toeneem.

Oberem reken ʼn voorval van die siekte so laat in die seisoen, wanneer dit reeds winter in die suidelike halfrond is, is kommerwekkend. “Dit dui op ʼn goeie kans vir ʼn ernstige uitbreking van dié dodelike siekte in die somer.”

Hy het boere vermaan om beslissende en voorkomende stappe te doen om die siekte te bekamp in die wintermaande veral nadat voorvalle van die dodelike dieresiekte ook vroeër vanjaar in Uganda aangemeld is.

Slenkdalkoors is ʼn verwoestende siekte veral vir skape. Tot 90% van lammers vrek binne dae nadat hulle besmet is en tussen 40% en 100% dragtige ooie wat besmet word, aborteer hul lammers.

Alhoewel die siekte ook in beeste, buffels en ander boksoorte voorkom, is dit nie so dodelik vir die spesies soos by skape nie.

Dr. Faffa Malan het in ʼn onlangse onderhoud op RSG se landbouprogram genoem boere het in die laaste paar jaar opgehou om in te ent vir slenkdalkoors omdat dit nie meer algemeen plaaslik voorkom nie. Malan meen dit maak jonger diere veral meer vatbaar vir die dodelike dieresiekte wat ook na mense oorgedra kan word.

Mense kan nie deur muskietbyte met slenkdalkoors besmet word nie, maar is geneig om die siekte op te doen as hulle met die bloed of enige vloeistowwe van ʼn siek of dooie dier in aanraking kom.

Volgens Oberem het ʼn jong Oos-Kaapse veearts gesterf in die laaste groot uitbreek van slenkdalkoors in Suid-Afrika.

“Die siekte is nie altyd noodlottig vir mense nie, maar die virus tas die lewer aan en ʼn mens herstel stadig en moeilik van slenkdalkoors.

“Die grootste fout wat boere kan maak, is om in die winter selfvoldaan te wees. Dit is nóú die tyd om ons vee in te ent,” het Oberem gesê.

Alhoewel skape die grootste risiko loop om met die siekte besmet te word, moet beeste ook ingeënt word om te voorkom dat muskiete op hul voed en só die virus oordra.

Entstowwe teen slenkdalkoors word tans slegs by Onderstepoort in Pretoria vervaardig.

“Ons moet die siekte beheer terwyl ons die geleentheid het om dit te doen. Ek is bly dat die staat se veeartsenykundige dienste my verseker het dat hulle die saak ernstig opneem. Hulle is dit eens dat boere nou gewaarsku moet word om in te ent. Indien nie, sal ons die prys betaal in die dood van lewende hawe en miskien selfs menslike sterftes.

“Slenkdalkoors is ʼn gesondheidkommer vir mens en dier. Ons moet verantwoordelikheid neem deur waterbronne te beheer waar muskiete kan uitbroei en deur ons vee in te ent.”

Oberem meen ʼn uitbreek kan ook die uitvoerbedryf benadeel. Lande in die Midde-Ooste het reeds ná ʼn vorige uitbreek die invoer van Suid-Afrikaanse lam gestaak.

Volgens Agriorbit.com het die wolproduksiestatistiek van Cape Wool SA (CWSA) getoon dat wolverlies ter waarde van R750 miljoen tydens die vorige uitbrekings van slenkdalkoors tussen 2010 en 2012 voorgekom het. China het daarna enige uitvoere van wol uit die betrokke munisipale gebiede verbied.

Leon de Beer, die hoofbestuurder van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), het ook vroeër die maand ʼn dringende versoek aan boere gerig om onmiddellik bestellings vir entstof teen slenkdalkkoors by koöperasies te plaas.

“Dit is sodat Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) ʼn aanduiding kan kry van die behoefte aan entstof en gevolglik voldoende entstof kan vervaardig.

“Produsente word versoek om met hul plaaslike veearts te skakel vir professionele raad om hul kuddes teen die skiete te beskerm en ʼn herhaling van die gevolge van vorige uitbrekings te voorkom,” het De Beer gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Oom Jaco ·

En wie moet betaal vir al hierdie ge-entery teen slenkdalkoors wat JULLE skielik wil hê, ons vuisvoos boere???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.