Slenter verander vakansie hittete in nagmerrie

(Foto: pixabay)

Deur Terésa Coetzee

ʼn Langverwagte vakansie in Suid-Afrika waarna Yochanan Liebenberg en sy gesin van Great Malvern in Brittanje al maande lank uitsien, het byna in ʼn nagmerrie ontaard.

Die gesin het skielik besef hulle is met ʼn slenter gevang met hul verblyfbespreking op die bekende webwerf Airbnb.

Toe Liebenberg, sy vrou, Yael, hul drie seuns en twee Britse vriendinne Maandag by die bekende landgoed Zimbali Resort net buite Ballito in KwaZulu-Natal aangekom het, moes hulle tot hul ontsteltenis verneem dat die vyfslaapkamerhuis wat hulle op Airbnb bespreek en waarvoor hulle betaal het, permanente inwoners het en hoegenaamd nie vakansieverblyf is nie.

“Ek het onmiddellik geweet ons is bedrieg, want die vrou by die ontvangslokaal by Zimbali het vertel dat hier gereeld besoekers aankom met wie presies dieselfde gebeur het,” sê Liebenberg.

“Boonop het die ‘eienaar’ van die huis my ʼn paar dae tevore op WhatsApp genader en aangedring op ʼn deposito van £315,41 [sowat R6 200] vir die breekware in die huis. Aanvanklik het ek met die man gestry, maar hy het volgehou dat hy nie sewe mense in sy huis kan toelaat sonder die deposito nie.

“Omdat ek toe reeds R23 847 vir die verblyf betaal het, het ek maar die deposito ook oorbetaal, want ons sou nie in daardie stadium ʼn ander verblyfplek wou begin soek nie,” sê Liebenberg.

Die groep se vakansie is amper deur die slenter ontspoor. Hier is Noah, Yael, Yochanan, Yochanan (jnr), Elli, Daisy en Benjamin.

Liebenberg en die res van die groep moes inderhaas nuwe blyplek soek nadat hulle besef het dat hulle nie in Zimbali sou kon tuisgaan nie.

Hulle het eindelik ʼn plek in ʼn hotel in Umhlanga gevind waar hulle ʼn week lank sou kon tuisgaan.

Liebenberg en sy vrou is Suid-Afrikaners wat deesdae in Brittanje woon en hoewel hulle aanvanklik self skepties was om in hierdie tyd te reis, het hulle tog besluit om hul beplande vakansie voort te sit. Die Britse universiteite het tans somervakansie en albei se Suid-Afrikaanse ma’s is bejaard en sieklik en hulle wou die familie graag kom besoek.

“Ons is egter deeglik bewus van Suid-Afrika se vlak 4-inperkingsreëls. Ons respekteer dit en hou daarby, selfs al is ons met vakansie,” sê Liebenberg.

Hy sê Airbnb het egter uit sy pad gegaan om vir die ongelukkige voorval te vergoed.

Airbnb het nie net hul geld terugbetaal nie, maar ook aangebied om die breekware-deposito wat Liebenberg verloor het én die ekstra koste van die nuwe verblyf in Umhlanga te betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Michal

Well done Airbnb, I have to say I am surprised, I don’t get surprised easily, especially in the times we are in now

Renata

Airbnb is die enigste reis platvorm wat ek sal gebruik. Ongelukkig loop hulle ook deur onder die slenters. Die voordeel is dat jou betalings in Airbnb rek betaal word en eers 24 uur nadat jy jou verblyf ingeneem het word die geld aan die eienaar van die plek uitbetaal. Op die manier kan probleme soos in die berig vinnig uitgesorteer word. Ek het n gastehuis deur Airbnb bedryf sonder enige probleme. Ongelukkig moes ek wees lockdown en moordende regulasie sedert verlede jaar, my deure sluit. Al wat ek nou het is baie skuld en geen inkomste nie.

Sandra

Welcome to Mzansi. Don’t pass go, don’t collect R200, go straight to prison. Wel gedaan Airbnb. Nou weet mens dat julle nie net julle reputasie beskerm nie, maar ook mense wat van Airbnb verblyf wil gebruik maak.

ES

AirBnB is nogal great – ons het ‘n ongelooflik 2 dae in ‘n plekkie deurgebring in Umdhloti so 2 jaar terug. Hulle het gelukkig ‘n versekeringsopsie en ek glo die “scammers” se advertensie is alreeds verwyder.

Jasper

Suid Afrika is vervuil met kriminele, en scamers, so wees versigtig .