Sleurstrome opgespoor met nuwe kleurstofstudie

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Stad Kaapstad en die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gaan vandeesweek kleurstof in die see gooi in ʼn poging om sleurstrome te bestudeer en sodoende dalk toekomstige verdrinkings te voorkom.

Die studie word gedoen ter voorbereiding van die komende somervakansie wanneer duisende swemmers van oor die land na strande sal stroom.

Die nasionale departement van omgewing, bosbou en visserye het ʼn navorsingspermit uitgereik sodat navorsers niegiftige fluoresseïen-kleurstof in die see kan gooi. Die kleurstof, wat veilig is vir mens en dier, het die vermoë om die onderskeie sleurstrome in die see uit te lig en visueel ten toon te stel.

Navorsers het verlede maand reeds die kleurstof by Kogelbaai getoets en sal dieselfde proefneming in Valsbaai en Tafelbaai uitvoer.

Die proefneming sal na verwagting Woensdag gedoen word wanneer daar, volgens die weerdiens, ʼn groot waarskynlikheid vir dié soort strome is.

Volgens Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid en gesondheid, sal die hele proses dié keer opgeneem word om ʼn gefokusde veldtog vir openbare bewustheid van seeveiligheid te bevorder.

“Een van die grootste redes waarom mense in die see verdrink, is omdat hulle by strande swem waar daar geen lewensredders teenwoordig is nie. Die afwesigheid van lewensredders is dikwels die eerste aanduiding dat dit nie noodwendig veilig is om daar te swem nie,” sê hy.

“Wanneer swemmers na ʼn rustige of afgesonderde gebied soek om te swem, lyk die kuslyn dikwels aantreklik, maar in baie gevalle kan dit dodelik wees wanneer ʼn sleurstroom hulle al hoe dieper meesleur.”

Badroodien sê paniekerige swemmers probeer dikwels teen die sleurstrome swem in ʼn poging om by die strand uit te kom, maar dit kan juis tot moegheid en verdrinking lei.

Ingeval swemmers wél deur ʼn sleurstroom meegesleur word, moet hulle die volgende onthou:

  • Moenie paniekerig raak en teen die stroom probeer veg nie.
  • Laat die stroom jou verder see toe trek, maar probeer sywaarts uit die stroom swem.
  • As jy nie uit die stroom kan ontsnap nie, draai op jou rug en dryf om soveel moontlik energie te bewaar.
  • Probeer strandgangers se aandag trek deur om hulp te roep of jou arms te waai.

“Die Stad Kaapstad beywer hom altyd om nuwe maniere te vind om mense oor waterveiligheid in te lig, veral gedurende die feestyd,” sê Badroodien.

“Ons sien daarna uit om beeldmateriaal van die studie op sosiale media te deel om mense bewus te maak van die gevare wat die see inhou.”

  • Indien jy iemand sien wat deur ʼn sleurstroom meegesleur word, kontak ʼn lewensredder by 021 480 7700 vanaf ʼn selfoon of 107 vanaf ʼn landlyn. Die NSRI kan ook by 087 094 9774 genader word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Waarnemer ·

Daardie ink moet aan die Natalse Suidkus gegooi word…by gewilde strande daar.Net nie by Durban se Suid strand nie…Dit is Baie veilig daar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.